
Foto Krediet: PhotoMIX
Gekopieër
Die vyf gewildste boererate waarvan jy moet weet
Deur Maryna Eksteen
As jy vandag verkoue het, tel jy die foon op en maak ’n afspraak om die dokter te gaan sien. Die dokter skryf vir jou antibiotika of ander medikasie voor en jy gaan aan met jou lewe. In die vroeë 1800’s het die boere dit so bietjie anders gedoen. Daar was nie altyd ʼn dokter beskikbaar nie en antibiotika het uit ʼn ui-en-knoffelmengsel bestaan.
Kry ʼn prentjie van die volgende gebeure in jou kop. Jy word in die middel van die nag wakker en jy het ’n hoofpyn wat voel soos die Omaha-strandtoneel in die oorlogfliek Saving Private Ryan. Daar is nie ʼn hoofpynpil van ’n dag oud in die kas nie en die apteek is toe. Wat is jou volgende opsie? Bel jou ouma om raad te kry oor goeie, outydse Suid-Afrikaanse boererate. Sy sal beslis weet watter mengsel jou hoofpyn sal verlig.
Alhoewel die mediese wetenskap vandag baie gevorderd is, is daar steeds mense wat verkies om van boererate gebruik te maak. Solidariteit se netwerke in die mediese sektor het bietjie gaan ondersoek instel om vas te stel watter boererate vandag nog gewild is.
Hier is die vyf algemeenste boererate waarvan jy gerus kan kennis neem:
- Hoofpyn – drink een eetlepel heuning opgelos in ʼn halwe glas warm water, of maak ’n lappie nat met asyn en strooi fyn kaneel daaroor. Sit dan die lappie teen die voorkop.
- Urienweginfeksie – meng twee teelepels heuning en drie teelepels kaneel in ’n halwe koppie lou water en drink dit net een keer.
- Tandpyn – doop ʼn stukkie watte in ʼn bietjie naeltjie-olie en sit dit op die seer tand om die tandvleis te verdoof.
- Diarree – drink Maizena met water gemeng of eet gerasperde appel wat bruin geword het.
- Sinus – meng een eetlepel heuning en een eetlepel kaneel in twee liter water, sit dit in die yskas en drink gereeld (genees chroniese verkoue, hoes en sinusitis).
Boererate is ʼn baie gewilde onderwerp onder beide jong en ouer mense. Sommige rate kan ʼn mens lekker laat lag terwyl ander rate dalk vir lastige kwale kan werk. Die internet wemel van al die rate, maar dit is belangrik om altyd eers ʼn geneesheer te raadpleeg voordat jy van enige boererate gebruik maak.
Solidariteit se netwerke in die mediese sektor bestaan uit ʼn gemeenskap van aptekers, dokters en verpleegkundiges wat saamstaan en wat beskerm en bemagtig word. Hulle bou saam aan die toekoms vir die volgende generasie.
#RaakTuis by Solidariteit en bly op hoogte van nuus uit jou wêreld. Klik hier om sommer vandag nog deel van jou beroepstuiste te word.
NB – Die bogenoemde boererate moenie as mediese voorskrifte vir siektetoestande beskou word nie, maar bloot as opinies oor eeueoue rate. Solidariteit aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige gevolge weens die gebruik van die bogenoemde rate nie.