loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
die-waarde-van-n-mentorskap-en-hoe-om-dit-te-vind

Foto Krediet: OkayDeer

Die waarde van ‘n mentorskap en hoe om dit te vind

Deur Elmien Ackerman

Luke Skywalker, Harry Potter en Frodo: Wat het al hierdie fiktiewe helde in gemeen? ʼn Uitstekende mentor. Vir jong werkendes is die idee van ʼn mentor gewoonlik ʼn welkome gedagte – iemand wat hulle raad kan gee wanneer hulle ʼn nuwe loopbaan betree. Die waarheid is egter dat mentorskap ʼn noodsaaklike bron van ondersteuning en leiding kan wees, maak nie saak waar jy jouself op die loopbaanleer bevind nie.

Hoekom het jy ʼn mentor nodig?

Jy hoef nie alleen die loopbaanleer te klim nie. Om ʼn mentor te hê, kan jou loopbaan die nodige ʼn hupstoot gee. Hier is ʼn paar redes waarom jy ʼn mentor nodig het:

  • • Ervaring bring wysheid: Selfs al het jy jare se ondervinding, is daar altyd ruimte om te groei. Mentors het dikwels dekades se kennis en kan jou help om die struikelblokke wat hulle al self teëgekom het, te vermy.
  • • ʼn Nuwe perspektief: Mentors bied ʼn unieke perspektief op jou loopbaan. Hulle kan jou help om die blindekolle te identifiseer, jou aannames uit te daag en nuwe moontlikhede te verken.
  • • Netwerk en blootstelling: ʼn Goeie mentor kan jou aan hul professionele netwerk voorstel, wat jou geleenthede kan bied waartoe jy andersins geen toegang sou hê nie. Lees hier meer.
  • • Leierskapsontwikkeling: ʼn Mentor kan jou leer hoe om ʼn span te bestuur, hoe om strategieë doeltreffend te implementeer en hoe om jou eie leierskapvaardighede te slyp.
  • • Selfvertroue: ʼn Mentor bied ondersteuning en kan jou motiveer wanneer jy in jou eie vermoëns twyfel.

Hoe om ʼn goeie mentor te identifiseer

Die regte mentor vir jou loopbaan sal iemand wees wat met jou doelwitte en waardes ooreenstem. Hier is ʼn vyf eienskappe waarvoor jy kan uitkyk wanneer jy op ʼn mentor besluit:

  1. 1. Ooreenstemmende ervaring en kennis: ʼn Goeie mentor is iemand wat ervaring het in die area waarin jy wil groei. Hulle het reeds dieselfde pad gestap en kan waardevolle advies gee.
  2. 2. Vermoë om waardevolle terugvoer te gee: Nie almal is goed daarmee om terugvoer te gee nie, so jy wil seker maak dat jou mentor iemand is wat opbouende kritiek kan lewer op ʼn manier wat jou sal help groei.
  3. 3. Goeie kommunikasievaardighede: Kommunikasie is die sleutel tot enige suksesvolle mentorskapverhouding. ʼn Mentor moet beskikbaar wees, gereeld inskakel en bereid wees om hul kennis en tyd met jou te deel.
  4. 4. Gelyksoortige waardes: Jy wil ʼn mentor hê wat jou waardes deel. As jou kernwaardes nie ooreenstem nie, kan dit moeilik wees om ʼn produktiewe verhouding te bou. Dit is belangrik dat julle mekaar se perspektiewe verstaan en respekteer.
  5. 5. Positiewe persoonlikheid: ʼn Mentor wat positief, toeganklik en ondersteunend is, kan ʼn omgewing vir groei en leer skep.

Na aanleiding van die waardes hierbo, kan jy ʼn mentor by jou huidige werkplek soek. Solidariteit bied egter ook ʼn mentorskapprogram aan. Sluit by enige van ons beroepsnetwerke aan en vind ʼn mentor wat jou in jou beroep kan lei. Klik hier om meer oor die mentorskapprogram te lees.

Wenke vir die bou van ʼn suksesvolle mentorskapverhouding

Sodra jy ʼn mentor geïdentifiseer het, is dit belangrik om ʼn verhouding te bou wat vir beide partye voordelig is. Hier is ʼn paar wenke:

  • • Stel duidelike doelwitte oor wat jy uit die mentorskap wil kry.
  • • Kommunikeer gereeld.
  • • Wees ontvanklik vir terugvoer. Soms kan terugvoer moeilik wees om te hoor, maar dit is ʼn belangrike deel van groei. Wees bereid om veranderinge aan te bring op grond van jou mentor se advies.
  • • Wees geduldig met jouself en die proses, en verstaan dat ware groei met verloop van tyd plaasvind.
  • • Wees dankbaar en bedank jou mentor vir hul tyd, raad en ondersteuning.

Die mite dat volwassenes hul loopbane alleen moet navigeer, is ver verwyder van die werklikheid. Danksy mentorskap kry jy toegang tot onskatbare wysheid, netwerkgeleenthede en leierskapsontwikkeling. En net soos Yoda, Dumbledore en Gandalf hul mentees na sukses gelei het, kan ʼn mentor die katalisator wees wat jy benodig vir loopbaansukses.

Skep jou gratis profiel op Solidariteit, koppel jou lidmaatksap en neem die eerste tree op jou pad na ʼn bevredigende mentorskapreis.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel