Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die waarde van ʼn sterk persoonlike handelsmerk vir jou loopbaan/onderneming
Deur Essie Bester
In vandag se hoogs mededingende omgewing word ʼn persoonlike handelsmerk beskou as ʼn sleutelinstrument om loopbaangeleenthede te vergroot. Dit is ʼn noodsaaklike onderdeel in die bou van jou professionele identiteit en nie net belangrik vir entrepreneurs, ervare professionele persone en bestuurders wat wil uitstaan en hulself as denkleiers in hul onderskeie velde wil vestig nie, maar ook vir jong werkendes wat vir die eerste keer die stampvol arbeidsmark betree.
Werkgewers soek werknemers wat unieke waarde, perspektiewe en insigte na hul organisasie kan bring. Daarom is die ontwikkeling en bestuur van ʼn persoonlike handelsmerk ʼn doelbewuste praktyk waarin jy jouself strategies posisioneer voor die mense wat saak maak. Om doelbewus ʼn persoonlike handelsmerk te ontwikkel, beteken nie die skep van ʼn kunsmatige persona nie. Jy stel bloot jou handelsmerk saam deur die belangrikste elemente van wie jy is en wat jy doen te kies en dan daarmee ʼn boeiende storie te vertel wat jou help om jou sterkpunte, kundigheid en persoonlikheid te demonstreer op ʼn manier wat nuwe geleenthede ontsluit.
By Solidariteit erken ons die deurslaggewende rol wat persoonlike handelsmerke in die hedendaagse werksomgewing speel. Daarom bied ons ʼn kursus oor persoonlike handelsmerkbestuur aan, gelei deur Elsje van Jaarsveld, Pretoria FM-omroeper en senior regisseur by RSG. Elsje verstaan presies wat dit behels om ʼn suksesvolle persoonlike handelsmerk op te bou en te bestuur sodat geleenthede na jou toe kom, en sy deel graag haar kennis met jou.
Met ʼn persoonlike handelsmerk kan jy jou sigbaarheid verbeter, veral onder diegene wat vir jou saak maak en vir die dinge wat jy hoop om te bereik. Dit help jou om jou netwerk uit te brei en nuwe geleenthede te lok, en dit verhoog jou geloofwaardigheid deurdat jou kollegas groter vertroue in jou stel. Dit vorm jou loopbaanpad, kan deure na nuwe geleenthede oopmaak en kan selfs jou groei-ingesteldheid ondersteun – iets wat jou op die pad na voortdurende ontwikkeling en verbetering kan plaas.
In ʼn artikel op LinkedIn word genoem dat ʼn persoonlike handelsmerk jou bevoordeel deur:
- • onderskeid in ʼn oorvol mark – dit ontsluit vir jou geleenthede en leierskaprolle deurdat dit jou (met jou eie unieke waarde-aanbod) van ander talentvolle professionele persone in jou ruimte onderskei;
- • groter sigbaarheid en herkenning – ’n bestendige fokus op die kernpunte van jou persoonlikheid en unieke vaardighede verseker dat mense eerste aan jou sal dink wanneer hulle iemand met jou besondere vermoëns benodig;
- • groter invloed – om invloed te genereer is moeilik en vereis van jou om mense te oortuig om jou kennis, ervaring en intuïsie te vertrou en jou toe te laat om hulle te lei;
- • netwerke en verhoudings te bou – ʼn persoonlike handelsmerk sal jou toelaat om makliker waardevolle insigte met eweknieë en betroubare gesagsfigure in jou ruimte te deel, hetsy persoonlik of aanlyn, en jou bekendstel as ʼn waardevolle bron van kennis en insigte; en
- • veerkragtigheid en aanpasbaarheid – dit versterk jou veerkragtigheid en aanpasbaarheidsvaardighede deurdat dit jou toelaat om jou sterkpunte en ontwikkelingsareas noukeurig te ondersoek en areas te identifiseer waarin jy kan verbeter. Dit kan ook jou ingesteldheid verfyn, wat jou aanmoedig om jouself tot langtermynleer en -ontwikkeling te verbind om sodoende konsekwente vorderingsgeleenthede te ontsluit.
Solidariteit bied gratis kursusse vir voortgesette leer aan lede van Solidariteit, en bemagtig en verryk lede só in hul beroepe. Solidariteit is daarop gefokus om voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone te bied, terwyl Solidariteit se beroepsnetwerke jou beroepstuiste is om jou netwerk uit te bou en geleenthede vir leer en ontwikkeling in jou veld vir jou moontlik te maak.
In Solidariteit se kursus oor persoonlike handelsmerkbestuur bied Elsje praktiese strategieë en uitvoerbare insigte om jou te help om die krag van persoonlike handelsmerke te benut en jou professionele teenwoordigheid te verhoog. Van die skepping van jou handelsmerk tot die doeltreffende benutting daarvan voorsien ons jou van die gereedskap en kennis wat jy benodig om in vandag se mededingende mark uit te staan.
Belê in jou toekoms! Klik hier om die kursus te voltooi. Lede van Solidariteit geniet gratis toegang tot hierdie kursus en meer as ʼn honderd ander kursusse.