Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Gebroke Seta-stelsel: Solidariteit bied vars hoop buite die staat
Deur Robin-Lee Maré
Volgens IOL staar Suid-Afrika, meer as twee dekades nadat die sektorale opleidingsowerhede (Seta’s) ingestel is, steeds ’n ernstige vaardigheidstekort in die gesig – een van die grootste struikelblokke vir volhoubare ekonomiese groei, ondanks baie lae indiensnemingsyfers.
Die stelsel is geskep om vaardigheidsvlakke te verbeter deur werkgewers te verplig om tot opleiding by te dra. Hoewel 2,6 miljoen mense tussen 2011/12 en 2023/24 vir programme geregistreer het en sowat 2 miljoen dit voltooi het, het meer as 630 000 registrasies nooit tot sertifisering gelei nie.
In 2023/24 het Seta-programme boonop slegs 1% van die werksmag en 0,7% van die totale arbeidsmag bereik – ’n baie lae vlak in vergelyking met internasionale standaarde.
Hennie Bierman, hoof van Solidariteit se Netwerkplatform, meen hierdie tendense wys hoe opleiding wêreldwyd besig is om te verander.
“Die toekoms van opleiding lê toenemend buite die staat,” sê Bierman. “In ’n moderne ekonomie word vaardighede vinniger ontwikkel deur ’n gemeenskap wat die krag van opleiding verstaan en deur beroepsnetwerke wat mekaar versterk as deur ’n swaar, gesentraliseerde stelsel.”
Intussen het nuwe omstredenheid rondom die Seta vir onderwys, opleiding en ontwikkeling (ETDP Seta) ontstaan met verdere vrae oor die stelsel.
Sedert 2024 word sowat R600 000 per maand vir die huur van ’n gebou in Johannesburg se middestad vir Seta-doeleindes betaal, al kon personeel dit nooit gebruik nie omdat dit as gevaarlik verklaar is.
Werknemers werk sedert Julie 2024 al van die huis af, terwyl die huurooreenkoms belastingbetalers reeds na berig word ongeveer R15 miljoen gekos het.
Die minister van hoër onderwys en opleiding, Buti Manamela, het nou, in 2026, ’n dringende verslag oor die verkrygingsproses aangevra.
Volgens Bierman beklemtoon sulke voorvalle waarom nuwe benaderings tot vaardigheidsontwikkeling noodsaaklik raak.
“Die grootste behoefte in Suid-Afrika is nie nóg beleidsdokumente oor vaardighede nie, maar praktiese opleiding wat mense vinnig verbeter in hul beroep en vir hulle deure oopsluit tot goeie werk,” sê hy.
“Digitale platforms maak dit moontlik om hierdie opleiding toeganklik, relevant en direk gekoppel aan werkgeleenthede te maak.”
Hy wys daarop dat gemeenskapsgedrewe platforms reeds wys hoe ’n alternatiewe model kan werk.
“Solidariteit se platform wys hoe ’n gemeenskapsgedrewe model kan werk. Ons fokus op beroepspesifieke kursusse wat direk aan die behoeftes van die werkplek gekoppel is, sodat mense hul vaardighede kan ontwikkel terwyl hulle reeds deel van ’n professionele netwerk is.”
Volgens Bierman kan sulke modelle uiteindelik ’n meer veerkragtige stelsel vir vaardigheidsontwikkeling skep.
“Wanneer gemeenskappe self in vaardigheidsontwikkeling begin belê deur platformtegnologie, bou jy ’n netwerk wat meer veerkragtig en meer relevant is as ’n sentrale staatsmodel,” sê hy.
Solidariteit bied reeds deur sy Leer-platform verskeie beroepsgerigte kursusse wat lede help om hul vaardighede uit te bou en hul loopbane te versterk, sonder om die belastingbetaler se geld in hul sak te druk.
“As Solidariteit-lid kry jy gratis toegang tot ons Leer-kursusse op die platform,” sê Bierman.
Bierman moedig persone aan om indien hulle nog nie ʼn lid is nie, maar graag gratis toegang tot Solidariteit se Leer-kursusse wil verkry, hier te klik en vandag nog ʼn lid word.
“Moenie vir die staat wag om jou in jou beroep te bemagtig nie, doen dit self,” het Bierman afgesluit.