Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit tree toe tot Cheetahs se stryd teen afleggings
Solidariteit gaan personeellede van die Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. formeel verteenwoordig in die herstruktureringsproses wat tot twaalf werknemers van hierdie bekende rugbyspan- en handelsmerk raak.
Die vakbond het die werkgewer skriftelik in kennis gestel dat hy ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) namens lede gaan optree om toe te sien dat hul regte beskerm word en dat die proses billik verloop.
Volgens Zane Hanekom, litigant verbonde aan Solidariteit, is Solidariteit reeds aktief betrokke om die proses noukeurig te monitor.
Hy sê hoewel daar begrip is vir die finansiële druk waaronder ondernemings en ook die Cheetahs verkeer, die impak van afleggings op werknemers en hul gesinne nie onderskat moet word nie.
“Hierdie is nie net ’n sakebesluit nie; dit raak mense se lewens en bestaansmiddele direk. Daarom is dit noodsaaklik om ’n regverdige balans tussen werkgewer en werknemer te handhaaf,” sê hy.
Hanekom wys verder op die belangrikheid van werkbehoud wat die kernbeginsel van enige herstruktureringsproses moet wees – ook vir die personeellede by die Cheetahs wat nou deur afleggings bedreig word omdat die organisasie finansieel sukkel.
“Ontslag moet altyd die laaste uitweg wees. Indien daar redelike alternatiewe is wat poste kan red, behoort dit eerste oorweeg te word voordat werknemers hul inkomste verloor,” verduidelik Hanekom.
Solidariteit het in sy skrywe aan die werkgewer versoek om volledige en gedetailleerde inligting beskikbaar te stel voordat konsultasies plaasvind. Volgens Hanekom is hierdie stap noodsaaklik vir ’n betekenisvolle proses.
“Ons kan nie effektief konsulteer as ons nie oor die nodige inligting beskik nie. Deursigtigheid is die hoeksteen van ’n prosedureel billike proses,” sê hy.
Hy voeg by dat Solidariteit spesifiek duidelikheid verlang oor die besigheidsrasionaal, finansiële posisie van die organisasie en die maatreëls wat reeds oorweeg is om afleggings te voorkom.
“Ons wil seker maak alle moontlike alternatiewe is deeglik ondersoek voordat daar tot afleggings oorgegaan word,” sê Hanekom.
As deel van ’n konstruktiewe benadering het Solidariteit ook die oorweging van vrywillige skeidingspakkette voorgestel. Volgens Hanekom kan dit ’n praktiese oplossing bied om die impak van die afleggings te verminder.
“Deur werknemers die geleentheid te gee om vrywillig te vertrek, kan dit help om poste vir ander te behou en die algehele impak te versag,” verduidelik hy.
Solidariteit het ook beswaar gemaak teen enige oorhaastige implementering van afleggings en voer aan die proses moet eers afgehandel word voordat enige finale besluite geneem word.
“’n Gejaagde proses dien niemand se belange nie. Konsultasie moet sinvol wees en moet die geleentheid bied vir werklike betrokkenheid en insette,” sê Hanekom.
Hy bevestig Solidariteit is verbind tot ’n konstruktiewe proses, maar die vakbond sal nie huiwer om op te tree indien die regte van sy lede in gedrang kom nie.
“Ons doel is nie om die proses te belemmer nie, maar om te verseker dit verloop reg en regverdig. Indien dit nie die geval is nie, sal ons die nodige stappe neem om ons lede te beskerm,” sluit hy af.