loading
avatar
Artikels
21 uur gelede
moord-op-chinette-gallichan-aanslag-op-regslui-wek-ernstige-kommer

Foto Krediet: ChatGPT

Moord op Chinette Gallichan: Aanslag op regslui wek ernstige kommer 

Deur Robin-Lee Maré

Die skokkende moord op die arbeidsprokureur Chinette Gallichan in die Johannesburgse middestad het opnuut die kollig op die toenemende kwesbaarheid van regslui in Suid-Afrika geplaas.

Volgens Emil Glas, organiseerder by die Solidariteit Regsnetwerk, is hierdie nie meer geïsoleerde voorvalle nie, maar kom dit eerder oor as deel van ’n ontstellende patroon.

“Die aanslag op regslui die afgelope paar jaar is vir die Solidariteit Regsnetwerk ’n groot skok en dit is teleurstellend hoe daar helder oordag, gewetenloos, ’n lewe geneem kan word – en dit boonop van regslui wat hulself tot die beste van hul vermoë aan hul werk toewy,” sê hy.

Gallichan is Maandagoggend in helder oor dag buite die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) doodgeskiet – ’n daad wat nie net haar familie en kollegas diep geraak het nie, maar ook ernstige vrae laat ontstaan oor die veiligheid van regspraktisyns in die land.

Glas waarsku dat hierdie tipe geweld verder as individuele voorvalle strek. “Wanneer regslui geteiken word, raak dit nie net een persoon of een familie nie, dit raak die hele regstelsel en die vertroue wat die publiek daarin stel,” sê hy.

In September 2025 is Bouwer van Niekerk, ’n jong en talentvolle prokureur en sakereddingspraktisyn van Johannesburg, in die raadskamer van sy regsfirma doodgeskiet nadat vermeende aanvallers hul as voornemende kliënte voorgedoen het. Van Niekerk is op die toneel dood verklaar.

Vier jaar gelede is ’n soortgelyke tragedie in Potgietersrus (Mokopane) aangemeld, waar die prokureur Schalk Pienaar in sy eie tuin vermoor is weens sy betrokkenheid by ’n korrupsiesaak. Hierdie gebeure sluit ook aan by die sluipmoord op die likwidateur Cloete Murray en sy seun, ’n saak wat die land geruk het.

Glas meen hierdie herhalende aanvalle op regslui dui op ’n gevaarlike werklikheid.

“Regslui word toenemend kwesbaar bloot omdat hulle hul werk doen. Hulle staan dikwels tussen magsbelange, geld en geregtigheid, en dit maak hulle teikens,” sê hy.

Solidariteit se Regsnetwerk doen ’n beroep op die owerhede om hierdie sake met die nodige erns te ondersoek en daadwerklik op te tree om die veiligheid van regspraktisyns te verseker.

“Ons kan nie ’n situasie aanvaar waar diegene wat geregtigheid dien, self onbeskermd is nie,” voeg Glas by.

Die Solidariteit Regsnetwerk betreur die verlies van Chinette Gallichan en dra hulle innige medelye oor aan haar familie, asook haar kollegas binne haar onmiddellike regsgemeenskap.

“Die moord op Gallichan dien as ’n tragiese herinnering dat diegene wat hulself daagliks beywer vir geregtigheid, toenemend hul eie veiligheid op die spel plaas,” sluit Glas af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel