loading
Artikels
3 dae gelede
die-waarde-van-saamstaan-in-n-stukkende-stelsel

Foto Krediet: OkayDeer

Die waarde van saamstaan in ʼn stukkende stelsel

Te midde van ʼn stelsel wat al hoe meer onder druk verkeer, is die rol van maatskaplike werkers in Suid-Afrika belangriker as ooit. Hulle dra ʼn enorme las in gemeenskappe waar strukture faal, hulpbronne opdroog en mense toenemend geïsoleerd voel. Lees hier meer oor hoe mense in hierdie beroep nie net sterk bly nie, maar hoop in moeilike tye skep.


Deur Kyla-Ann du Toit

Die ekonomiese en maatskaplike strukture in Suid-Afrika verkeer al hoe meer onder druk en die rol van maatskaplike werkers is nou meer as ooit van kardinale belang. Hulle staan dikwels alleen op die voorpunt van ʼn gemeenskap se stryd om oorlewing – en dit in ʼn tyd waar strukturele ondersteuning faal, hulpbronne opdroog en behoeftes groter is as die kapasiteit beskikbaar.

Die ekonomiese werklikheid

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), se verslag oor die toestand van Suid-Afrika werp lig op hoe die breër ekonomiese klimaat gesinne en hul vermoëns om te oorleef direk beïnvloed. Werkloosheid onder Afrikaners het die hoogste vlak sedert 1994 bereik. In kombinasie met stygende inflasie, swak dienslewering en ʼn toenemende druk op stedelike hulpbronne as gevolg van bevolkingsverskuiwings, skep dit ʼn resep vir sosiale onstabiliteit – een wat direk op die skouers van maatskaplike werkers land. Hierdie makrokrisisse, wat voortspruit uit dekades van wanbestuur, korrupsie en rasgebaseerde beleide in Suid-Afrika, vertaal dus direk na mikrotake vir maatskaplike werkers.

“Mense raak maklik geïsoleerd en vra moeilik om hulp. Al hoe meer gaan in skuldberading in, al hoe meer sukkel met basiese uitgawes, en medies en huisvesting raak ʼn uitdaging. Mense is bekommerd oor hulle befondsing vir aftrede. Werkloosheid neem definitief toe. Mense oorleef net en beskikbare fondse vir luukshede raak al hoe minder. Mense spaar geweldig min,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Hoe swaarder die gemeenskap kry, hoe meer word diegene aan die onderpunt van die maatskaplike leer geraak. Hulle werke word dikwels eerste gesny, wat beteken dat hulle inkomste daal en maatskaplike probleme toeneem. En dit alles land uiteindelik op die lessenaar – of skouers – van die maatskaplike werker.

Die praktyk wys dit duidelik: meer gesinne het hulp nodig, en minder instellings is in staat om dit volhoubaar te bied. Wanneer ouers hul werk verloor, krisisse rondom geestesgesondheid toeneem, en kinders sonder toesig of kos gelaat word, is dit die maatskaplike werker wat geroep word – al is daar soms geen hulpbronne om aan te bied nie. Die krag van die beroep lê in sy medemenslikheid, maar dit is ook presies wat die beroep só broos maak.

ʼn Ondraaglike werkslading sonder ondersteuning

In sulke omstandighede word die beroep van maatskaplike werk ʼn stryd teen strukture wat nie meer werk nie. “Maatskaplike werk is uitdagend genoeg met gesonde strukture. Sonder gesonde strukture is die druk op die persoon, die gemeenskap en die kliënte net al hoe meer en meer. Hoe swakker die dienslewering en hoe swakker die strukture, hoe meer val die gemeenskap uitmekaar,” sê Noëth.

“Tans word maatskaplike werkers minder en die hulpbronne word ook al hoe minder, maar die agendas word langer en meer. Dit skep ʼn reuse-uitdaging in die praktyk en gaan al hoe erger word.”

Tog is daar oplossings en dit begin by basiese ondersteuning. “Die basiese hulpbronne vir enige sukses is tyd, mense en geld. Goeie strukture maak hulle sterker. Tans is daar min kapasiteit in die meeste organisasies, min hulpbronne en min wat ondersteun,” sê hy.

Hierdie werklikheid beteken dat maatskaplike werkers dikwels op die rand van uitbranding werk en dan moet hulle hulself ook nog staande hou.

“Eie welstand moet altyd voorop gestel word. Jy kan nie ander help as jy nie self sterk is nie. Maatskaplike werkers moet eers na hulleself omsien sodat hulle na ander kan omsien. Daarom is prioritisering, tydbestuur en gebalanseerde werkspatrone wesenlik belangrik. Dit is ʼn wonderlike en eerbare professie – sorg dus dat jy lank daarmee besig is. Niemand kan op ʼn stukkende kierie druk nie.”

Solidariteit se Toekomsberaad

In ʼn tyd waar dit maklik is om net foute raak te sien en uit te wys, is dit belangrik om ook te let op die planne, die saamstaan en die toekoms wat gebou word. Gelukkig is daar instellings wat nie net kyk nie, maar beplan. Solidariteit se Toekomsberaad wat op 18 Julie 2025 plaasvind, is een van die belangrikste platforms waar Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand saam met maatskaplike werkers, ander instellings en organisasies, en gemeenskappe beplan aan oplossings – beide korttermyn én struktureel.

Hier word vrae gevra oor hoe maatskaplike werkers weer bemagtig kan word, en hoe gemeenskappe versterk kan word deur samewerking en doelgerigte betrokkenheid. Die doel is nie net om te oorleef nie, maar om strukture daar te stel wat toekomswaarde inhou.

“Maatskaplike werkers word dikwels nie waardeer nie, voel alleen en geïsoleerd. Hulle is egter nie! Daar is ʼn span wat hulle waardeer en hulle waarde besef. Die samelewing is afhanklik van goeie en sterk maatskaplike werkers. Dit is ʼn beroep wat wesenlik deel is van wie ons is. Dit is ʼn werk wat van begin tot einde deur roeping oorspan word,” sê Noëth.

ʼn Boodskap van hoop en ʼn toekoms

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk besef die eksterne en interne druk waaronder maatskaplike werkers werk, maar wil graag elke maatskaplike werker ook laat besef dat hulle nie alleen is nie. Daar is ʼn netwerk van ondersteuning, daar is doelgerigte beplanning en daar is hoop in samewerking.

Solidariteit wil maatskaplike werkers daaraan herinner dat hulle werk van kritieke belang is én dat dit, ten spyte van ʼn stukkende stelsel, steeds moontlik is om sáám ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te verseker.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel