
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Die waarde van voortgesette leer in die werkplek
Deur Ané Janse van Rensburg
Ondernemings staar vandag ʼn werksomgewing in die gesig wat voortdurend verander. Die enigste manier om met verandering tred te hou, is om deurlopend te leer. Solidariteit moedig voortgesette leer in die werkplek aan sodat jy jou volle potensiaal kan bereik.
Solidariteit glo in die ou gesegde: “Kennis is mag,” en voortgesette leer gee mense die mag om soveel moontlik kennis en vaardighede in sy of haar gekose beroep te bemeester. Van voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) tot loopbaanontwikkeling deur seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer, Solidariteit bied dit alles! Lees hier om uit te vind hoe Solidariteit jou kan help om jou volle potensiaal te bereik deur voortgesette leer.
Dít is die waarde van voortgesette leer:
Kennis en ervaring verouder blitsvinnig
Die eksponensiële groei van tegnologie, idees en innovasie verg van werknemers en werkgewers om deurlopend aan die voorpunt van hul beroep of bedryf te bly. Slegs die beste van die beste oorleef in die kompetisiegedrewe omgewing. Om hierdie presiese rede kan geen onderneming bekostig om té gemaklik in hul kortstondige sukses te raak nie.
“Stagnasie is die dood in die loopbaanpot,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Vaardighede moet konstant opgeskerp word, terwyl nuwe kennis wag om aangeleer te word. Of jy ʼn onderneming het of slegs ʼn skakel in die ketting is, jy moet bo jou mededingers uitstaan om jou volhoubaarheid in die werkplek te verseker.
Voortgesette leer is die beste belegging
Flip Buys deel ʼn baie eenvoudige reël vir sukses: “Vind uit waarin jy goed is, en word die beste daarin.” Voortgesette leer beteken nie net om harder te werk nie, maar ook om slimmer te werk. Dit mag dalk tyd, geld en opoffering kos, maar jy sal beslis op die lang termyn die vrugte daarvan pluk. Voortgesette leer help elke lid om te verseker dat hulle hul volle potensiaal bereik. Spyt kom altyd te laat, maar ʼn mens is nooit te oud om iets nuut te leer nie.
Bemagtiging bou brûe
Alhoewel ʼn kwalifikasie ʼn sleutelspeler vir sukses is, kan voortgesette leer brûe bou wat verseker dat meer geleenthede tot jou beskikking kom. Deur jouself te bemagtig deur kortkursusse te voltooi, konferensies by te woon, boeke te lees en deur ʼn leeringesteldheid te kweek, stel jy jouself outomaties bloot aan groter netwerke, beter werksgeleenthede en voortdurende ontwikkeling.
Solidariteit is gebou op die fondasie van bemagtiging, beskerming en verhoudings. Danksy beroepsnetwerke help lede mekaar met ʼn #ElkeenHelpEen-ingesteldheid. Deur selfbeskikking te omhels, stel lede hulself in staat om nie bloot vir ʼn lewe te werk nie, maar om hul eiesoortige stempel op die werkplek af te druk.
Kliek hier om meer te lees oor Solidariteit se aanlyn kortkursusse vir voortgesette leer.