Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
8 uur gelede
solidariteit-verklaar-formele-dispuut-met-regering-oor-afleggings

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit verklaar formele dispuut met regering oor afleggings

Solidariteit het vandag in ʼn ongewone stap ʼn formele dispuut met die regering by Nedlac verklaar. Die dispuut, ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, handel oor die golf van afleggings in Suid-Afrika en die rol van die regering daarin. 

Die dispuut volg nadat Solidariteit aan president Ramaphosa ʼn brief geskryf het waarin die krisis verduidelik en aksiestappe voorgestel is. Die president het egter nie op die skrywe gereageer nie. 
Solidariteit het ook vroeër aan die minister van handel en nywerheid, Parks Tau, geskryf en gewaarsku oor die krisis wat kom. ʼn Voorgestelde handelsraamwerk is ook aan president Ramaphosa gestuur, en weereens was daar geen reaksie op die  skrywe nie. 

Solidariteit sê daarom hy het geen keuse het as om in ʼn dispuut met die regering te tree om hom te dwing om na die tafel te kom nie. 

Volgens Solidariteit raak die afleggingskennisgewings wat die vakbond in die afgelope maand ontvang het ongeveer 350 000 mense direk en indirek. Solidariteit verwag dat hierdie getal in die volgende drie maande drasties gaan styg. 

Solidariteit vra nou dat ander vakbonde, werkgewers en gemeenskapsorganisasie ook dispute met die regering te verklaar. 

Die reëls van Nedlac bepaal dat daar nou formele mediasie tussen die partye moet wees.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, dwing die dispuut die regering om tot ʼn gesprek toe te tree. 

“Ons beleef die regering as een wat roekeloos met mense se werk omgaan. Ons vertrou dat die dispuut groter druk op die regering sal plaas en dat ander rolspelers ook in dispuut met die regering sal tree. 
“Suid-Afrika moet opstaan vir mense se werk en vir ons land,” sê Hermann.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, hou bykans al die redes vir afleggings en kommer oor verdere afleggings verband met die regering. 

“Die redes wat in kennisgewings en in gesprekke met werkgewers aangevoer word, sluit in swak infrastruktuur soos spoorlyne en hawens, onvoorspelbare kragvoorsiening en elektrisiteitspryse, swak beleid en die regering se onvermoë om ʼn gunstige handelsooreenkoms met die regering te sluit,” sê Du Plessis. 

Intussen het verskeie rolspelers in die VSA-regering wél ingestem om met Solidariteit oor sy raamwerk vir ʼn handelsooreenkoms te praat. 

Verteenwoordigers van Solidariteit vertrek hierdie week na die VSA met die doel om die negatiewe gevolge van die tariefvasstellings te versag, en om te help om ʼn handelsooreenkoms te fasiliteer. 

Solidariteit gaan steeds vra dat daar druk op die SA regering geplaas word om beleidsvoorwaardes in plek te kry vir ʼn ooreenkoms, sonder om die land se mense te straf. Sien Solidariteit se Nedlac-dispuut hier aangeheg.

Klik hier vir Solidariteit se beroep op pres. Ramaphosa om in te gryp.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel