loading
avatar
Blogs
1 week gelede
die-werkplek-van-more-minder-masjien-en-meer-mens

Foto Krediet: OkayDeer

Die werkplek van môre: Minder masjien en meer mens

Deur Mandy-Michelle Thackwray

Daar word deesdae baie oor die “toekoms van werk” geskryf. Die waarheid is dat die werkplek voortdurend besig is om te verander: Van voltyds kantoor toe, na tuiswerk tydens Covid-19, tot hibriede werk. En nou vra baie werkgewers weer: “Wanneer sien ons julle terug by die kantoor?”

Intussen het ons almal slimmer geword. In plaas daarvan om teen tegnologie te baklei, gebruik ons dit nou in ons guns. Mense “ChatGPT” alles – van idees soek tot e-posse skryf. En ek self het al begin kyk watter apps kan my werk vinniger en makliker maak. Daar is selfs programme wat jou help met jou energievlakke, of vir jou sê in watter bui jy is – dink net hoe handig kan dit vir konflikbestuur wees!

Maar hier is die ironie: Ten spyte van al hierdie tegnologie wat veronderstel is om ons lewe makliker te maak, is mense … moeg. Hierdie moegheid gee nuwe betekenis aan die tendens van “stille onttrekking”. Dit is nie soos die sogenaamde “stille bedanking” waar mense sommer ophou werk nie, maar eerder die wagkamer van bedanking. Werkers is nog fisies daar, maar emosioneel en geestelik het hulle al klaar vertrek. Die gevolg? Minder produktiwiteit, minder kreatiwiteit, en minder vertroue.

So, hoe móét die werkplek van die toekoms lyk? Miskien is dit tyd om die bloudruk te hersien. Om seker te maak dat “werk-lewe-balans” nie net ʼn mooi sin op die menslikehulpbronpersoneel se doenlysie is nie, maar ʼn werklikheid wat mense laat floreer. Ons moet dalk herbesin oor wat dit beteken as werknemers regtig gelukkig en gemotiveerd is, en watter impak dit op die hele organisasie het.

Die gesprek moet dalk minder gaan oor wat tegnologie kán doen, en meer oor wat mense nodighet. Want aan die einde van die dag is dit nie die masjiene wat ʼn organisasie lewe gee nie, maar die mense.

Laat ons dus werkplekke ontwikkel waar mense nie net moet werk nie, maar wíl werk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel