loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
help-my-bestuurder-het-bedank-hoe-hanteer-ek-die-verandering

Foto Krediet: OkayDeer

Help! My bestuurder het bedank – hoe hanteer ek die verandering?

Deur Reon Janse van Rensburg

Dalk is jy een van daardie gelukkige mense wat saam met ʼn goeie bestuurder werk en voel jy nie Sondagaande half verlam van vrees vir Maandagoggende nie – nee, ons praat nie van hoendertande nie. Ons weet dat daar werklike goeie bestuurders in Suid-Afrikaanse werkplekke is. Dalk het jy ʼn bestuurder wat bereid is om aan jou geleenthede te bied wanneer jy dit nodig het.

As dit jou bestuurder beskryf en jy onlangs uitgevind het dat hy of sy skielik bedank het, kan dit jou redelik in skok laat verkeer. Help! My bestuurder het bedank. Wat gaan nou gebeur? Soveel vrae! So min antwoorde!

Die bekendheid en sekuriteit wat jy in jou werk voel, word maklik omvergewerp, en die aanpassing met ʼn nuwe bestuurder kan uitdagend wees. Hier is ʼn paar stappe wat jou kan help om hierdie verandering gemakliker te navigeer. Solidariteit is jou loopbaanvennoot en bied aan jou advies om die struikelblokke te oorkom waarmee talle werknemers soos jy op ʼn daaglikse basis te kampe het.

1. Fokus op die positiewe

Dit is natuurlik om onseker te voel oor die toekoms, maar probeer om verandering as ʼn geleentheid te sien. ʼn Nuwe bestuurder kan vars idees en perspektiewe bring wat vir jou span waardevol kan wees. Wend ʼn doelbewuste poging aan om hierdie nuwe fase met ʼn oop gemoed binne te gaan. Onthou ook om dit nie persoonlik op te neem nie. Die feit dat jou bestuurder bedank het, is bloot omdat hulle op hul eie reis is en hul loopbane ʼn nuwe koers inslaan.

2. Bou ʼn verhouding op

Ruim tyd in om jou nuwe bestuurder se styl en verwagtinge te leer ken. Watter prioriteite het hulle? Hoe kommunikeer hulle? Deur hierdie vrae vroegtydig te beantwoord, bou jy ʼn sterker verhouding en verlig jy die aanvanklike spanning van verandering.

3. Wees proaktief

Help jou nuwe bestuurder om in die rol in te skakel deur leiding te gee waar jy kan, en wees proaktief met inligting wat hulle nodig kan hê. Dit wys nie net jou inisiatief nie, maar versterk ook jou waarde binne die span. Demonstreer jou sterkpunte en wees van die eerste oomblik af oop oor jou swakpunte. Hierdeur verseker jy dat jou bestuurder weet watter take jy die beste sal kan baasraak sodat hulle jou kan ondersteun terwyl jy nuwe vaardighede aanleer.

Wees egter versigtig vir misverstande en hou die kommunikasielyn oop. Sorteer struikelblokke so gou as moontlik uit en wees deursigtig oor hoe die werkproses tot op hede verloop het. Dieselfde deursigtigheid sal ook in die nuwe bestuurder se guns tel.

4. Pas jouself aan waar nodig

Elke bestuurder het sy eie manier van dinge doen, en dalk sal jy jou eie werkstyl ʼn bietjie moet aanpas. Probeer om buigsaam te wees en wees geduldig – aanpassing gebeur nie oornag nie. Verandering is nie altyd maklik nie, maar dit is nie noodwendig sleg nie.

Wees geduldig, maar wees ook realisties. Verandering neem dikwels ʼn ruk om werklik doeltreffend te word, maar moenie te lank wag nie. As jy agterkom jy is dalk nie deel van jou nuwe baas se langtermynvisie nie, is dit belangrik om ʼn gesprek daaroor te voer. Hou dit konstruktief. Dalk is daar ʼn ander afdeling waar jy beter kan inpas? Dit hoef nie ʼn stryd te wees nie; met die regte houding kan dit vreedsaam verloop. Julle het albei probeer, en as dit nie werk nie, is dit niemand se skuld nie. Die belangrikste is egter om eers te probeer.

Die vertrek van ʼn bestuurder kan intimiderend wees, maar met ʼn proaktiewe, positiewe houding kan jy hierdie verandering goed hanteer.

Hoe kan Solidariteit my met my loopbaan help?

Solidariteit bied waardevolle loopbaanadvies en ondersteuning vir elke fase van jou professionele pad. Deur middel van hul aanlyn werkplatform help hulle werksoekers en werkgewers om met mekaar in verbinding te kom en bied hulle toegang tot werkgeleenthede, opleidingsprogramme en kundige riglyne deur Solidariteit se onderskeie beroepsnetwerke. Solidariteit se toewyding aan loopbaanontwikkeling gee jou die nodige ondersteuning om jou doelwitte te bereik en ʼn suksesvolle toekoms op te bou. Sluit aan by hierdie gemeenskap van werk en leer – klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel