Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Moet werkgewers salarisse bekendmaak wanneer hulle poste adverteer?
Deur Reon Janse van Rensburg
In die hedendaagse mededingende arbeidsmark is die vraag of werkgewers inligting rondom salarisse by posadvertensies moet insluit, ʼn onderwerp waaroor sowel werkgewers as werknemers intens nadink. Terwyl sommige glo dat deursigtigheid rondom salarisse voordelig kan wees, meen ander dat dit komplikasies en onregverdige verwagtinge kan skep. Dit is egter wys om na albei kante van die saak te kyk, en om die raad van kundiges oor hoe werkgewers en werksoekers hierdie kwessie kan benader in ag te neem.
Hoe raak dit werkgewers?
In die geval van werkgewers is die vraag oor deursigtigheid met betrekking tot salarisse dikwels meer ingewikkeld as wat dit op die oog af lyk. Kundiges meen dat die bekendmaking van salarisse in advertensies die werwingsproses kan versnel. Volgens kundiges weet kandidate of die posisie aan hulle finansiële verwagtinge voldoen wanneer inligting oor salarisse voor die tyd bekend is. Dit beteken minder onderhandelinge, vinniger indiensnemingsprosesse en laer koste.
Aan die ander kant kan die bekendmaking van salarisse ook uitdagings bied, veral as daar ʼn paar aspekte is wat die salaris beïnvloed soos ervaring en kwalifikasies. Dit kan verwarring skep onder kandidate wat nie die nuanses verstaan nie. Werkgewers moet ook in ag neem dat hierdie vorm van deursigtigheid hul bestaande werknemers kan laat wonder oor hul eie vergoeding. Dit kan ʼn invloed hê op moraal en selfs lei tot heronderhandelinge oor salarisse binne die span.
Hoe raak dit werksoekers?
Deursigtigheid in verband met vergoeding kan ʼn groot voordeel vir werksoekers bied. Deur salarisse voor die tyd in ag te kan neem, word kandidate in staat gestel om te besluit of ʼn posisie hul lewenstandaard en loopbaanverwagtinge sal ondersteun. Kundiges sê dat verwagtinge ʼn groot rol speel in loopbaankeuses, veral in Suid-Afrika waar die lewenskoste aansienlik styg en salarisse nie dienooreenkomstig aangepas word nie. Deursigtige advertensies skep ook vertroue tussen potensiële werkgewers en werknemers. Die proses om vir werk aansoek te doen verg dikwels baie tyd en ʼn magdom inligting wat hanteer moet word, en as die besonderhede rondom die salaris nie duidelik is nie, kan dit onnodige tyd verspil om dit uit te vind, en dit terwyl die pos moontlik nie aan die kandidaat se verwagtinge gaan voldoen nie.
Die voordeel van die bekendmaking van die salaris moet egter nie oorvereenvoudig word nie. Daar is kenners wat waarsku dat as die fokus slegs op die verwagte salaris val, dit kandidate kan mislei om ander belangrike aspekte rondom die pos, soos die maatskappy se kultuur of geleenthede vir groei, oor die hoof te sien. ʼn Beklemtoning van die vergoeding kan ook die indruk onder kandidate skep dat die werksomgewing dalk nie die beste is nie, en dat die werkgewer basies nuwe werknemers wil “koop”. Vergoeding is dus beslis nie die enigste belangrike faktor wat jy in ag moet neem wanneer jy ʼn pos oorweeg nie.
Waar lê die middeweg?
Kundiges meen dat werkgewers salarisse by die posadvertensie kan insluit, maar die advertensie moet dan duidelikheid bied oor die faktore wat ʼn invloed op die salaris kan hê. ʼn Gebalanseerde benadering in dié verband is om die vergoeding in ʼn reeks, beginnend by ʼn “vanaf-bedrag,” aan te dui en om ʼn nota oor die kwalifikasies en ondervinding wat die finale pakket kan bepaal, by die advertensie in te sluit. In sekere lande moet posadvertensies volgens wet die salarisse bevat. Suid-Afrika is egter nie een van dié lande nie. Dit blyk ook dat die res van die wêreld wel in die rigting beweeg.
Dit is belangrik dat werksoekers nie net op die salaris fokus nie. As die salaris nie geadverteer word nie, maar die pos is steeds aantreklik, kan dit die moeite werd wees om daarvoor aansoek te doen en om die maatskappy se reputasie en jou loopbaangeleenthede in die geheel in ag te neem.
Of die bekendmaking van ʼn salaris nou wel ʼn standaard, of nie ʼn standaard moet wees nie, hang uiteindelik af van die maatskappy se benadering en die aard van die posisie. Deursigtigheid kan egter vertroue bou en misverstande voorkom. ʼn Wyse benadering is as die werkgewer en die werksoeker na ʼn gesonde balans tussen die salaris en die ander voordele streef om die beste pasmaat vir albei partye te vind.
Solidariteit is ʼn Afrikaanse tuiste waar werkgewers en werksoekers maklik by mekaar kan uitkom. Dié gratis, gebruikersvriendelike platform stel werkgewers in staat om poste vinnig en eenvoudig te adverteer en aansoeke te bestuur, terwyl werksoekers hul volledige profiel en CV veilig kan laai om dan met die klik van ʼn knoppie vir poste aansoek te doen. Solidariteit bou saam aan ʼn voorspoedige toekoms deur werksoekers en werkgewers by mekaar uit te bring, en lede deur hul hele loopbaanpad te ondersteun – alles in Afrikaans! Word deel van hierdie gemeenskap deur hier te klik om jou gratis profiel te registreer!