loading
Artikels
5 maande gelede
dienskontrakte-ons-beantwoord-jou-vrae

Foto Krediet: OkayDeer

Dienskontrakte: Ons beantwoord jou vrae!

Deur Reon Janse van Rensburg

Die meeste van ons het die dag toe ons by ons onderskeie werkplekke begin werk het, ʼn dienskontrak onderteken. Hoewel Solidariteit aanraai dat jy die kontrak deeglik deurlees en dat jy dit selfs aan ons stuur sodat ons namens jou kan seker maak dat dit nie enige ongewone of onbillike vereistes bevat nie, is die beste raad om altyd seker te maak dat jy wel die ooreenkoms tussen jou en jou werkgewer op skrif het.

ʼn Dienskontrak kan egter vir enige persoon met baie meer vrae as antwoorde los, en werknemers is dikwels te skaam of onseker om dié vrae te vra. Solidariteit Jongwerkende vra egter hierdie vrae namens jou. Kom ons loer na ʼn paar dinge waaroor jy dalk mag wonder:

Is ek geregtig op ’n bonus?

Eerstens moet daar na die indiensnemingskontrak gekyk word, indien daar ’n kontrak is, en dan moet jy kyk in watter een van die kategorieë die bonus sal val, naamlik:

–       ’n prestasiebonus;

–       ’n dertiende tjek;

–       ’n diskresionêre bonus; of

–       ’n jaarlikse bonus.

Prestasiebonus

Soos die benaming aandui, word dié bonus aan ’n werknemer uitbetaal wanneer sekere prestasies behaal of ooreengekome teikens bereik of oortref word. As die verlangde resultate nie bereik word nie, kan die bonus weerhou word. Daarom moet jy presteer!

Dertiende tjek

’n Dertiende tjek vorm gewoonlik deel van ’n werknemer se jaarlikse vergoedingspakket en word in die dienskontrak aangedui. Indien dit nie in die kontrak aangedui word nie, is die werkgewer nie verplig om ʼn dertiende tjek aan die werknemer uit te betaal nie en bly die besluit op diskresie van die werkgewer. Die betaaldatum van die bonus word in die dienskontrak bepaal en kan byvoorbeeld die maand wees waarin die werknemer verjaar, met jaareinde wat gewoonlik met die Kersseisoen ooreenstem, of aan die einde van die werkgewer se boekjaar. Die bonus is slegs ’n kontraktuele ooreenkoms wanneer dit in die dienskontrak gestipuleer word.

Diskresionêre bonus

Hierdie bonus word op ’n jaarlikse basis of na goeddunke van die werkgewer uitbetaal. Die werkgewer kan byvoorbeeld besluit om hierdie soort bonus aan werknemers te betaal nadat ’n tyd van hoë-druk beleef is, soos wanneer al die werknemers bykomende ure gewerk het om te verseker dat werk op ’n bepaalde datum voltooi is. Betaling van die bonus berus by die werkgewer en is nie ’n betaling waarop werknemers geregtig is nie.

Jaarlikse bonus

’n Jaarlikse bonus word aan die einde van die jaar of aan die einde van die finansiële jaar betaal. Die bedrag wat die bonus beloop, word bepaal na aanleiding van die betrokke werkgewer se finansiële posisie. Die bepaling van die bedrag wat toegestaan word, berus by die werkgewer en dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die werkgewer die bonus sal betaal nie.

Wat sê die wet oor verhogings?

Net soos met bonusse berus die toekenning van verhogings by die werkgewer, tensy dit in ʼn ooreenkoms bepaal en gewaarborg word. ’n Werknemer is nie daarop geregtig nie. Niks verhoed die werknemer om navraag te doen en te versoek dat die werkgewer die salarisstruktuur aanpas nie. As jy nie vra nie, gaan jy nie weet nie.

Is daar ander aftrekkings wat van my salaris afgetrek mag word?

Ons weet dat dit baie ontstellend voel wanneer jou werkgewer geld van jou salaris aftrek en dit aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal. ’n Mens wonder onmiddellik hoe die regering jou swaarverdiende geld gaan mors.

Dit is egter onwettig om nie belasting te betaal nie en jy gaan in die sop beland indien jy dit nie doen nie. Dit is daarom wettig as jou werkgewer namens jou aftrekkings maak en dit aan die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF), die SAID (vir belastingdoeleindes) en vir vakbondgelde betaal. Ander wettige aftrekkings sluit jou mediesefonds- en aftreefondsbydraes in, mits dit in jou dienskontrak gestipuleer word.

Indien jy meer inligting wil bekom oor jou regte in die werkplek, klik hier om lid van Solidariteit te word. Jy kan ’n reeks voordele geniet, insluitende regsadvies as een van die vele voordele.

Lees meer hier oor hoe Solidariteit saam met jou ’n pad kan stap in jou loopbaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel