
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Dis tyd vir die groot saamstaan – #ElkeenHelpEen
Ons studente word by universiteite met rassekwotas gekonfronteer. Studiehulp word op grond van ras toegeken. Jy mag nie in jou taal studeer nie – dis glo nie gelykheid nie. Indien ʼn regstudent of ʼn BCom-student ʼn klerkskap wil doen, word die rassekaart gespeel. CV’s beland in die gemorspos-lêer, want jy lyk te wit.
Boonop is die ekonomie onder druk. Ons jong mense vra of hier ʼn toekoms is. Die antwoord hierop lê in die hande van ons wat tans werk of selfs al afgetree het. Dit is óns wat ʼn helpende hand na hulle toe moet uitreik. #ElkeenHelpEen
Dit is óns wat ʼn baksteen moet pak om Akademia te bou; wat moet help om die instelling tot ʼn volledige universiteit uit te bou – wêreldklas in Afrikaans. Dit is óns bietjies wat die baie moet maak, want #ElkeenHelpEen. Dit is óns bietjies wat gebou het aan Sol-Tech, ʼn spogmonument van wat Afrikaners tot stand kan bring. Dit is óns bietjies wat Sol-Tech nou nóg groter en sterker moet maak. Dit is groot projekte wat met die klein bydraes van tienduisende mense aangepak word.
Dit is óns klein bydraes wat saam met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum ʼn wêreldklas- Afrikaanse skoolstelsel moet bou. Ons klein deeltjie moet onbaatsugtig wees. Ons gee aan die geslag wat nog kom, al ken ons hulle nie. Ons moet help om ons huidige, uitstaande Afrikaanse openbare skole se arms hoog te hou. Terselfdertyd moet ons bou dat dit klap aan ʼn wêreldklas- Afrikaanse alternatief vir ʼn post-staatskoolbedeling. Ons wil en kan dit doen, want #ElkeenHelpEen.
Dit is mense se klein bydraes, ʼn familietrust of ʼn bemaking, wat Solidariteit Helpende Hand se Studietrust die afgelope jaar in staat gestel het om studiehulp van R50 miljoen aan behoeftige studente te kon verleen. Net die helfte van die aansoekers kon egter geholpe raak. Duisende smeek nog om hulp; hulp wat ʼn volhoubare antwoord bied en wat kan help om voorspoed te verseker. Ons kan dit doen. Een hoef nie alles te doen nie, want ons glo aan #ElkeenHelpEen.
Ons wat in die regswêreld werk, hoef elkeen net een klerk aan te stel. Ons met klein ondernemings hoef net een internskap aan te bied. Ons wat ʼn invloed op besluitneming het of dalk self besluite kan neem omdat ons ons eie onderneming besit, hoef net een jong mens in diens te neem. Ons hoef net ʼn klein bydrae te maak wat dalk een student kan help óf die bydrae van tien van ons kan dalk een student help. Dit is my klein bydrae wat ʼn universiteit of ʼn beroepsopleidingskollege help bou, wat ʼn nuwe Afrikaanse skoolstelsel kan help skep of wat ʼn bydrae tot voortgesette leer deur Solidariteit Leer maak. Ek hoef net ʼn mentor vir een jong mens te wees. Baie ene saam maak baie. #ElkeenHelpEen
#ElkeenHelpEen is in ons gene. Dit was elkeen wat ʼn ander gehelp het wat die opstaan ná die Anglo-Boereoorlog bewerkstellig het. Dit is die beginsel van elkeen wat ʼn ander gehelp het wat die hart van die Helpmekaarbeweging ná die 1914-rebellie was. Dit is dié beginsel wat Sanlam, Santam en Volkskas gebou het. Dit is wat Afrikaners laat opstaan het uit die armblankevraagstuk. #ElkeenHelpEen was die wese van die Reddingsdaadbond en Federale Volksbeleggings. #ElkeenHelpEen is ons historiese hartklop.
#ElkeenHelpEen kyk verby blote eiebelang. Dit is ʼn klein belegging in die toekoms. Dit is iets groters waaraan ek bou. Dit is vir ʼn volgende geslag.
As die staat ons jong mense uitskop, dan tree die gemeenskap in en dan help ons mekaar. Ons help mekaar onbeskaamd. Om mekaar te help is ʼn groot politieke daad. Dit sê: Ons gemeenskap gaan nie elders heen nie. Ons bly hier en ons help mekaar. Ons laat ons nie deur ʼn groot staat en ʼn onvriendelike regering boelie nie. Ons het ʼn sterk gemeenskap en vriendelike mense, daarom help elkeen een.
Dit is ons generasie se verantwoordelikheid om die volgende generasie te help. Ons sê skaamteloos #ElkeenHelpEen. Daar was voorheen dalk ʼn staat, staatsinstellings, talle staatsuniversiteite en -kolleges asook groot ondernemings om jonges ʼn hupstoot te gee. Nou is dit die gemeenskap se verantwoordelikheid. As óns dit nie gaan doen nie, wie gaan?
Is daar ʼn toekoms? Ja, ʼn groot toekoms, want #ElkeenHelpEen. Dit is in ons gene, van toe tot nou.