Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Dispuut in RNE oor Agoa
Die Vryheidsfront Plus (VF+) en die Demokratiese Alliansie (DA) het hulle beplande optrede binne die regering van nasionale eenheid (RNE) oor die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) aan Solidariteit bekend gemaak.
Die VF+ het formeel ʼn dispuut binne die RNE verklaar en die DA het aangedui dat die kwessie op die agenda van die kabinet geplaas gaan word met die oog op ʼn moontlike dispuut. Die DA het ook verskeie ander aksiestappe bekend gemaak.
Dit volg ná ʼn skrywe van Solidariteit aan die DA en VF+ waarin versoek word dat die twee partye, waarvoor die meerderheid van Solidariteit-lede stem, in dispuut binne die regering tree oor Agoa.
Volgens Solidariteit gaan die regering se roekelose buitelandse beleid moontlik daartoe lei dat Suid-Afrika uit Agoa geskop word. Die Withuis in Amerika gaan voor of op 1 November ʼn besluit daaroor neem.
Solidariteit beklemtoon dat meer as 500 000 poste in Suid-Afrika van Amerikaanse handel afhanklik is, waarvan sowat 250 000 met Agoa verbind word.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dié optrede stuur ’n belangrike boodskap dat die ANC se hantering van betrekkinge met die VSA nie die instemming van alle RNE-vennote het nie.
“Ons verwelkom hierdie optrede. Werknemers en hulle gesinne kan nie die prys vir die ANC se ideologiese hardkoppigheid betaal nie. Werk en handelsbetrekkinge moet nou voor partypolitiek gestel word,” sê Hermann.
Die VF+ dring aan op ’n dringende, gekoördineerde regeringsplan om Suid-Afrika se Agoa-voordele te behou. Die party vereis ook dat ministers Ronald Lamola en Parks Tau aan die RNE-partye verslag doen oor onderhandelinge met die VSA en die konkrete stappe om uitstaande Amerikaanse bekommernisse te hanteer.
Die DA het bevestig dat sy leier, Geordin Hill-Lewis, die saak persoonlik met president Cyril Ramaphosa opgeneem het en dat die party reeds met Amerikaanse regeringsverteenwoordigers in gesprek is. Minister Willie Aucamp sal die kwessie binne die kabinet opper en het ook ’n dringende gesprek met die Amerikaanse regering gereël.
“Die dispuut versterk ons hand in gesprekke met die Amerikaners, maar dit moet nou tot daadwerklike optrede lei.
“Ons lede in die landbou-, motorvervaardigings- en mynboubedrywe het sekerheid oor hul werk nodig. Hulle kan nie op ’n uitgerekte regeringsproses wag nie,” sê Hermann.
Solidariteit beplan om vandeesweek met die Withuis oor Agoa te kommunikeer en later vandeesmaand verdere gesprekke met die Amerikaanse regering in Washington te voer.
“Ons het net een doel voor oë, en dit is om Agoa vir Suid-Afrika te red en ons mense se werk te beskerm. Daar is slegs enkele weke oor. Die regering moet nou nasionale belang bo die ANC se ideologie stel,” sê Hermann.