loading
Artikels
8 maande gelede
dit-is-die-dinge-wat-jy-moet-doen-voordat-jy-begin-werksoek

Foto Krediet: OkayDeer

Dit is die dinge wat jy moet doen voordat jy begin werksoek

Deur Karen Waldeck

Die oorgang van studentwees na die professionele lewe kan uitdagend wees. Danksy die regte voorbereiding kan jy egter die proses baie makliker vir jouself maak. Voordat jy jou werksoek-avontuur aanpak, is daar ʼn paar belangrike dinge wat jy moet doen om jou kanse op sukses te verhoog. Hier volg ʼn gids wat vir jou stap vir stap uiteensit wat jy alles moet gereedhê voordat jy begin om werk te soek.

1. Stel ʼn professionele CV op

Jou CV is die eerste indruk wat jy ʼn potensiële werkgewer van jou kry en dit moet dus professioneel en goed gestruktureerd wees. Hier is ʼn paar wenke om jou CV te laat uitstaan:

  • • Gebruik ʼn duidelike en leesbare uitleg en formaat: Vermy te veel grafika en hou jou uitleg eenvoudig.
  • • Beklemtoon relevante ervaring en vaardighede: Fokus op werkervarings en vaardighede wat jy al opgedoen het en wat relevant is vir die posisie waarvoor jy aansoek doen.
  • • Sluit ʼn professionele opsomming in. Begin jou CV met ʼn kort paragraaf wat jou professionele agtergrond en loopbaandoelwitte uiteensit.
  • • Gaan die teks na vir spelfoute: Laat iemand anders jou CV ook deurgaan om seker te maak dit is foutloos.

As jy nog nie vantevore ʼn CV opgestel het nie en onseker is oor wat om alles daarby in te sluit en hoe om ʼn sterk professionele CV op te stel, hoef jy jou nie daaroor te bekommer te nie. Met behulp van Solidariteit se CV-gids sal jy ʼn professionele CV in ʼn japtrap kan opstel.

2. Stel ʼn oortuigende dekbrief op

ʼn Dekbrief is jou geleentheid om jou persoonlikheid en entoesiasme vir die beskikbare posisie te toon. Dit moet kort en kragtig wees, en spesifiek aangepas wees by die werk waarvoor jy aansoek doen. Hier volg ʼn paar wenke om ʼn oortuigende dekbrief te skryf:

  • • Begin met ʼn sterk inleidende paragraaf: Stel jouself voor en verduidelik waarom jy in die posisie belangstel.
  • • Beklemtoon jou kwalifikasies: Verduidelik hoe jou ervaring en vaardighede van jou ʼn goeie kandidaat maak.

Google is jou vriend. Jy kan altyd voorbeelde opsoek en die teks net aanpas om van toepassing te wees op jou kwalifikasies en ervaring.

3. Skep ʼn digitale portefeulje

In die hedendaagse digitale era is dit belangrik om ʼn aanlyn teenwoordigheid te hê wat jou professionele werk en prestasies vertoon. ʼn Digitale portefeulje kan jou help om bo jou mededingers uit te staan en jou vaardighede op ʼn visuele en interaktiewe manier te wys. Hier is hoe jy kan begin:

  • • Kies ʼn platform: Daar is verskeie aanlyn platforms soos WordPress, Wix.com en LinkedIn waar jy jou portefeulje kan bou.
  • • Sluit jou beste werk in: Kies projekte waaraan jy gewerk het, enige skaduwerk of internskappe wat jy gedoen het en wat jou vaardighede en ervaring die beste illustreer.
  • • Hou jou aanlyn teenwoordigheid op datum: Werk jou portefeulje gereeld by deur  nuwe projekte en prestasies by te voeg.
  • • Gebruik ʼn professionele foto. Maak seker dat jou foto professioneel is en ʼn vriendelike indruk skep.
  • • Sluit relevante vaardighede en aanbevelings in. Verwys na jou vaardighede en vra vir aanbevelings van kollegas en lektore om jou profiel te versterk.

4. Oefen vir jou onderhoud

Voordat jy vir ʼn onderhoud gaan, is dit belangrik om jou onderhoudvaardighede te slyp. Hier is ʼn paar wenke om vir die onderhoud voor te berei:

  • • Doen navorsing oor die maatskappy. Jy moet weet wat die maatskappy doen en wat hul missie, vissie en waardes is.
  • • Oefen vrae in wat gewoonlik in onderhoude gevra word. Dit is algemene vrae soos “Vertel my van jouself” en “Waarom wil jy vir ons werk?”
  • • Werk aan jou lyftaal: Sorg dat jy oogkontak maak, glimlag, en regop sit om selfvertroue uit te straal.

Jy kan ook aanlyn hulpmiddels gebruik. Solidariteit se onderhoudsgids is ʼn uitstekende voorbeeld van so ʼn gids wat jou sal help om jou vir ʼn onderhoud voor te berei.

5. Soek werk op Solidariteit

Die eenstop- werk-en leerplatform, bekend as Solidariteit, bring werkgewers en werksoekers bymekaar.

Skep jou gratis profiel op Solidariteit, jou aanlyn netwerkplatform, waar jy deur jou profiel of deur jou vooropgestelde CV vir poste kan aansoek doen.

Vind hier uit hoe.

Die proses om  werk te soek kan intimiderend wees, maar met die regte voorbereiding kan jy jou kanse op sukses aansienlik verbeter.

Wees aan die voorpunt van jou loopbaanontwikkeling, danksy Solidariteit!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel