loading
Artikels
22 uur gelede
dit-vat-n-hardekool-om-n-entrepreneur-te-wees

Foto Krediet: Solidariteit

Dit vat ʼn hardekool om ʼn entrepreneur te wees

Deur Ané Janse van Rensburg

Om ʼn besigheid van meet af te begin, is nooit maklik nie, nog minder as jy jonk is en met die “groot menere” wil meeding. Dit is egter danksy sterk wilskrag en ʼn sterk netwerk dat Rynhardt Venter vandag sy suksesstorie met ons kan deel.

Venter is die stigter van Hardekool Clothing, en kan op ʼn  jong ouderdom reeds ʼn paar stukkies advies uitdeel, terwyl hy self nog by kenners leer.

Die Solidariteit Finansiesnetwerk beywer hom om sulke jong entrepreneurs op hul avontuur te ondersteun en te bemagtig, en het met Venter gesels om meer oor sy avontuur uit te vind.

Kan jy ons ʼn bietjie vertel van jou agtergrond en wat jou geïnspireer het om ʼn entrepreneur te word?

My oupa was in die staalbedryf en ek het baie saam met hom rondgery en gesien hoe hy koop en verkoop. Ek het nog altyd geglo die beste manier om ʼn probleem op te los, is om self in te klim en die oplossing te laat gebeur. Dit is egter ʼn kuns op sy eie en verg dat ʼn mens gewillig moet wees en uit vele oorde leer. In hierdie geval was dit byvoorbeeld die verkryging van materiaal en verskaffers wat by my behoeftes pas, maar ek het kennis gebruik wat ek met vorige, nie direk-verwante probleme opgedoen het, soos die herstel van waterpype op ons erf. Entrepeneurskap is vir my nie net ʼn interessante pad nie, maar iets waaruit ek baie put.

Waar het die idee vir jou besigheid ontstaan, en wat was die motivering agter die ontstaan daarvan?

My besigheid het onstaan terwyl ek gestudeer het. Ek het geweet dat werksgeleenthede nie volop is nie en het besluit het om self werk daarvan te maak om ʼn besigheid te begin. Die kleremark vir Afrikaanse gebruikers het my aandag getrek, en ek het gevoel dat almal sou kon doen met ʼn goeie, duursame produk wat bekostigbaar is. Dit op sigself verkoop egter nie ʼn produk nie … ʼn Mens kort ʼn goeie verhaal agter die produk en dis waar die naam “Hardekool” vandaan gekom het. Ek glo dat elke Afrikaner ʼn hardekool is omdat ons as volk eienskappe met hierdie besonderse boom deel. Ons is geharde mense wat nie maklik opgee nie en nog steeds onder enorme druk suksesvol kan funksioneer … Nes die hardekoolboom.

Wie of wat was jou grootste inspirasie of rolmodel in jou entrepreneursreis?

Verskeie mense uit verskeie oorde het ʼn groot impak op my entrepreneursreis. My oupa en my ma het bygedra tot ʼn besigheidsagtergrond (en natuurlik goeie maniere). Dramaklas by Cielie Cilliers en redenaarsplatforms wat vir skoliere aangebied is, was wonderlik. Filosofie en dosente se impak op my tydens my BSocSci-studie het baie vir my beteken. Ek glo dat ʼn mens andersdenkend moet wees om ʼn suksesvolle entrepreneur te wees, en die enigste manier om dit te doen is om soveel as moontlik om jou waar te neem en daaruit te leer. Nog ʼn voorreg was ʼn onderhoud met Pieter Geldenhuys (ʼn verjaardaggeskenk vir my 21ste). Gesprekke met verskaffers en navrae by kliente oor die produk lewer telkens verrassende antwoorde op wat ek in ag neem.

Vertel ons meer oor jou besigheid. Wat maak jou produk/diens uniek in die mark?

Die doel van ʼn Hardekool-produk is om ʼn eerlike, duursame produk te wees. Ek wil hê my produk moet van ʼn hoë gehalte wees en vir lank, lank kan hou, net soos ʼn Land Cruiser. ʼn Mens kan seker sê ʼn hemp is net ʼn hemp, en elke hemp is dieselfde. As dit waar was, sou mense mos nie een handelsmerk se produk bo ʼn ander verkies nie. Die belangrikste doel van Hardekool-produkte is die verspreiding van die boodskap agter die produk. My hoop is dat die boodskap mense inspireer. Jy moet werklik op ʼn slegte dag ʼn Hardekool-keps op jou kop kan sit, vir jouself in die spieël kyk, en weer moed kan skep as jy die Hardekool-handelsmerk sien omdat jy weet jy is ook ʼn yster net soos daardie boom.

Wat was van die grootste uitdagings wat jy in die beginfase van jou besigheid teëgekom het?

In verhouding tot ander trap Hardekool nog klein spore. Ek het aanvanklik niks geweet van klere, produkbemarking of verskaffers nie. Aanvanklik het ek baie ure spandeer aan die verkryging van produkte en die verskaffers met wie ek kan werk. Die skep van ʼn webwerf en bemarking was moeilik en het ʼn paar kreatiewe soms tydelike oplossings gekos.

Hoe bemark jy jou besigheid en wat is jou hoofstrategieë om nuwe kliënte te lok?

Sosiale media is deesdae die “go-to” vir bemarking en ek weet dit is broodnodig, maar ek glo dat “word of mouth” nog steeds die beste bemarkingsaanslag is. Daarom moet my produk vir homself kan praat. Sosiale media het van die begin af gesorg vir oombliklike publisiteit soos toe Refentse ʼn Hardekool-keps by die KKNK ontvang het.

Wat is jou langtermyndoelwitte vir jou besigheid en hoe beplan jy om hulle te bereik?

Ek hoop dat die Hardekool-handelsmerk my droom daarvoor gaan oortref en dat die boodskap van Hardekool en die simboliek daarvan inslag vind sodat dit nie net by een produk en een besigheid bly nie.

Wat is van die grootste lesse wat jy geleer het sedert jy jou besigheid begin het?

Dat nie alles wat ʼn mens beplan of bedink, so uitspeel nie. Daarom luister ek graag na raad. Ek besef ook dat dit nodig is om professionele mense se dienste te gebruik. ʼn Fout is by tye tog wel die geleentheid waardeur ʼn mens groei ervaar.

Hoe bly jy op hoogte van markneigings en hoe pas jy jou besigheid aan om relevant te bly?

Ek hou my mededingers dop en maak kontak met nuwe mense wat moontlik waarde tot my produk kan voeg. Ek doen baie moeite om soveel as moontlik produk- en markkennis te bekom.

Wat was die grootste fout wat jy gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

Ek het aanvanklik nie vir hulp gevra nie. Dit het onnodig tyd verkwis.

Watter advies het jy vir jong mense wat dit oorweeg om hul eie besigheid te begin?

Begin by jouself. Dit is soos om klere aan te pas, te kies en dan te dra. Doen beplanning voor jy begin. Wees voorbereid daarop dat iets gaan skeefloop en dat jy dan ʼn oplossing daarvoor moet kry. Wees voorbereid om dit wat reg loop te behou en uiteindelik die guns in geleenthede te waardeer.

Wat dink jy is die volgende groot tendens in jou bedryf?

Ek glo daar is groot groei in die mark vir klere, veral klere vir Afrikaanse gebruikers. Dit sal beteken dat mededinging toeneem en dat besighede wat goed saamgestel is, gaan floreer.

Hoe sien jy die toekoms van entrepreneurskap in Suid-Afrika?

Almal weet en sê ons leef in moeilike tye. Dit is waar, maar dit is nie net negatief nie. Ek glo dat die tekort aan werksgeleenthede ʼn entrepreneuriese boom sal skep. Almal word genoodsaak om ʼn tweede werk vir byverdienste te bedryf. Dit is goed, en alhoewel die tendens in my opinie weer sal afplat, sal dit wel ʼn radikale uitwerking hê op toekomstige generasies se persepsies van koop en verkoop.

Wat is jou grootste hoop vir die toekoms van jou besigheid?

Om ʼn reusagtige en suksesvolle besigheid te hê wat ʼn glimlag op ʼn kliënt se gesig en beursie kan sit.

Ons elkeen se suksesstorie lyk anders. Dit is egter van onskatbare waarde om van mekaar te kan leer, om mekaar binne ʼn ondersteunende netwerk op só ʼn manier te kan bemagtig. Klik hier om te lees hoe ʼn kenner-entrepreneur sy beroep aanpak.

Danksy die Finansiesnetwerk wat met trots gedra word deur ʼn paneel van kundige adviesraadslede, wag daar ʼn nuwe wêreld van geleenthede vir jong entrepreneurs.

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by jou beroepsnetwerk ! Dit is hier waar jy jou voete vind en jou drome vlerke gee !

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel