loading
Artikels
6 dae gelede
lede-ontvang-meer-as-r4-m-in-geskil-oor-bmw-kartoelaag

Foto Krediet: Verskaf

Lede ontvang meer as R4 m. in geskil oor BMW-kartoelaag

Deur Heléne Mocke

Solidariteit het ʼn groot deurbraak behaal in ʼn saak namens lede wat by BMW Suid-Afrika werksaam is en van wie die werkgewer op ʼn onredelike wyse verwag het om ingevolge die maatskappy se voertuigvoordeel slégs BMW-voertuie te bestuur.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die saak aangehoor en bevind BMW Suid-Afrika het inderdaad die regte van 18 van sy werknemers, wat Solidariteit-lede is, geskend.

Volgens dié bevinding is BMW Suid-Afrika nou verplig om altesaam meer as R4 miljoen aan die betrokke werknemers in vergoeding uit te betaal.

Hierdie geskil het ontstaan toe BMW ʼn voertuigvoordeel-ooreenkoms vir werknemers – een wat langer as 25 jaar van krag was – meteens verander het. Voorheen was werknemers daarop geregtig om ʼn voertuigtoelaag, wat die werkgewer volgens ʼn glyskaal gebied het, te gebruik om enige voertuig van hul keuse aan te koop.

Die voertuig is dan ook as hul persoonlike eiendom beskou.

Volgens die nuwe voorskrif het die maatskappy van werknemers verwag om die maandelikse toelaag nét vir ʼn BMW-voertuig aan te wend. Indien hulle dit nie sou doen nie, word die toelaag verbeur.

Boonop sou dié BMW-voertuie, wat met behulp van die toelaag aangeskaf is, voltyds in die maatskappy se besit bly, en dit sou nie die werknemer se persoonlike eiendom word nie.

Zane Hanekom en Karla Endres, regslui van Solidariteit wat die saak namens die lede hanteer het, het die finansiële impak van die verandering op die werknemers voor die kommissie aangetoon en beredeneer.

Volgens Hanekom moes werknemers in sommige gevalle toe die nuwe reëls van toepassing geraak het van hul eie voertuie ontslae raak.

“Baie werknemers moes hul persoonlike voertuie verkoop omdat daar byvoorbeeld nog ʼn lening op was en hulle nie meer die paaiement sonder ʼn toelaag kon bekostig nie. Ander moes hulle paaiemente bly betaal – óók sonder die hulp van die oorspronklike toelaag,” het Hanekom verduidelik.

 “Volgens die nuwe ooreenkoms by BMW is hierdie voordeel slegs bestem vir diegene by die maatskappy wat self BMW’s ry,” sê Hanekom.

Solidariteit het die saak by die KVBA aanhangig gemaak, waar bevind is BMW het onbillike arbeidspraktyke toegepas en sekere werknemers is onregverdig deur die verandering benadeel.

Werknemers ouer as 55 jaar is byvoorbeeld toegelaat om nog hul oorspronklike voertuie en voordeel te behou, terwyl daar van diegene jonger as 55 verwag is om na die nuwe ooreenkoms oor te skakel waarvolgens geen ander voertuie behalwe BMW-voertuie vir die toelaag kwalifiseer nie.

Ofskoon die nuwe reël van krag bly, het die KVBA in die lede se guns beslis wat vergoeding betref. Dit het die nodige verligting gebring met die afbetaal van lenings op voertuie van ʼn ander fabrikaat.

Solidariteit hoop hierdie saak sal nie net regverdige vergoeding aan die benadeelde werknemers verseker nie, maar ook ʼn sterk boodskap uitstuur oor die noodsaaklikheid van billike en gelyke behandeling van werknemers, ongeag die aard en grootte van die maatskappy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel