loading
Artikels
22 uur gelede
wat-se-die-finansiele-kenner-oor-entrepreneurskap

Foto Krediet: OkayDeer

Wat sê dié finansiële kenner oor entrepreneurskap?

Deur Ané Janse van Rensburg

Die waarde van ʼn beroepsnetwerk lê in die mense en kenners wat daarbinne funksioneer. Die Solidariteit Finansiesnetwerk is ryk aan kenners en adviesraadslede wat hul eie suksesstories kan gebruik om ander te inspireer en bemagtig.

Een van hulle is Ajay Wasserman, uitvoerende hoof en stigter van die Fio-groep. Hy deel sy storie, hoe hy sy maatskappy begin het en hoe hy die bedryf aandurf met ons:

Vertel ons asseblief meer oor hoe jou pad as ʼn entrepreneur tot dusver gelyk het.

Ek het in Krugersdorp grootgeword en is aan die einde van standerd 7 (graad 9) uit die skool. Ek het voltyds as ʼn “appy”-elektrisiën begin werk en het my bedradingslisensie verwerf. Toe ek 17 jaar oud was, het ek R3 000 ʼn maand verdien en R1 000 se losies per maand aan my pa betaal. Ek het fietsgery werk toe. Met my bedradingslisensie kon ek my eie elektrisiënsmaatskappy oopmaak en kon ek sonder borg ʼn klein bakkie koop. Dit is toe dat ek ontwikkelaars begin sien het wat groot behuisingseenhede op ʼn slag ontwikkel het, en ek kon binne 12 maande groei van ʼn eenmanspan na oor die 80 ouens wat vir my gewerk het. Ons het diens gelewer aan huise, ander ontwikkelings, myne, skole en het net voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 werk gedoen by die areas vir aanhangers by Montecasino en by verskeie sokkerstadions. Ek het dit gedoen tot ek net so 18 jaar oud was.

In daardie tyd is ʼn groot kontrakteur gelikwideer en hy skuld my toe R3 miljoen vir een van sy ontwikkelings. As ʼn jong entrepreneur het ek “handskud”-ooreenkomste gehad. Jy kon nie kontrakte met hulle teken nie. Ek het toe nou ʼn klomp geld verloor met daai besigheid, maar gelukkig was dit nooit nodig dat ek gelikwideer moes word nie. Ek het toe in die finansiëledienstebedryf beland, grotendeels omdat my familie in die bedryf is.

Ek het by my oom se maatskappy aangesluit, waar ek Op ‘n 100%-kommissiebasis as ʼn finansiële adviseur kon optree. Ek het toe al my kliënte met wie ek as ʼn elektrisiën ʼn verhouding opgebou het as finansiële kliënte oorgedra. Ek was vir sewe jaar by my oom se maatskappy tot die dag wat ek daar weg is om my “one-stop shop” vir entrepreneurs te begin.

Hoe het jou besigheid oor die jare verander en gegroei?

Oor die laaste ses jaar het ons tot 11 afdelings gegroei. Ons het oor die 90 interne spesialis-konsultante en oor die 5 000 kliënte. Ons het ouens in Mauritius, Europa en natuurlik in Suid-Afrika.

Met dié dat ons oor die jare met verskillende entrepreneurs kon werk, het ons maar altyd geweet dat hulle kapitaal gaan benodig om hulle besighede te laat groei. Hulle begin met die drie f’s: “friends, family and fools” wat vir hulle geld leen. Dan gaan hulle oor na die vierde f, wat “facilities” is – dit is oortrekkings, effekte en aankooporderfinansiering en so meer. Ons kapitaalmaatskappy, Fio Capital, bied die vyfde “f”. Ons belê in entrepreneurs in die hoë-impakbedryf in Afrika – dit is tegnologie, gesondheidsorg, eiendom, onderwys, energie en landbou, elk met sy eie sub-afdelings waarin ons aktief betrokke is.

Ons is byvoorbeeld besig om saam met Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand te werk om ons (Fio se) mediese rugsakke by verskillende kerke en tehuise uit te kry sodat hulle toegang kan hê tot ordentlike mediese hulpmiddels.

Met dié het ek ʼn rol ingeneem as ʼn internasionale vennoot van die World Business Angels Investment Forum. My werk by die forum is om Angel Investments in Afrika te bevorder, en om entrepreneurs op te lei om voor te berei vir beleggings in hulle maatskappye. Ons lei dan ook aandeelhouers op om beleggingsfoute te vermy.

Hoe hanteer jy kompetisie en hoe bly jy relevant in ʼn veranderende mark?

Eerstens kyk jy nie om as jy hardloop nie. Ja, jy bestudeer jou kompetisie en jy kyk wat jy kan doen om beter en meer innoverend op te tree, ʼn beter diens te lewer of ʼn beter ervaring vir jou kliënte te skep wat beter is as by ʼn ander plek, maar jy moenie te veel aandag aan jou kompetisie gee nie. Dan kan jy nie op jou eie sukses fokus nie.

Wat is die belangrikste les wat jy oor die jare geleer het?

Om nooit op te gee nie – dit is ʼn konstante uitdaging. Daar is ʼn tipe stamina wat jy moet hê om konstant oplossingsgedrewe op te tree. Dit is nie vir almal bedoel nie.

Jy moet ook ʼn leerbare gees hê. Daar is baie ouens wat hulle baie slim hou. Wees eerder nederig en leer by ander mense wat baie meer ondervinding in jou veld het, en bou ook so verhoudinge. Sonder mense se hulp en advies gaan jy dit nie regkry nie – jy kan dit nie alleen doen nie.

Hoe hou jy aan om innoverend te wees en jou besigheid te verbeter?

Ek dink innovasie is deel van ons kultuur by Fio. Ons hou aan om oplossingsgedrewe te wees – ons is so verlief op die probleem wat ons moet oplos, ons kan nie anders as om innoverend te wees nie.

Kyk na hierdie video waar Wasserman met ʼn jong entrepreneur, Rynhardt Venter, oor die bedryf gesels:

Solidariteit wil saam met jou aan jou suksesstorie skryf. Dit sluit in die toegang wat Solidariteit jou gee tot die waardevolle kennis en advies van jou netwerk wat jou loopbaan ʼn hupstoot kan gee. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by jou beroepsnetwerk !

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel