loading
Blogs
8 maande gelede
dmo-se-mooi-praatjies-ek-kyk-deur-dit

Foto Krediet: Solidariteit

DMO se mooi praatjies; ek kyk deur dit!

Die laaste paar maande is die NRO-omgewing aan hulle eie genade oorgelaat. Vertraagde prosesse, leë beloftes, rassistiese uitlatings en geen befondsing was op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) se agenda, maar nou sing die DMO weer ʼn ander deuntjie en die sektor is maar te vinnig om te vergewe.

Vanjaar is die tweede jaar wat instansies in Gauteng deur hierdie trauma moet gaan – die onsekerheid of deure sal oopbly; die onsekerheid of jou werk beskerm is en bo-op dit die onsekerheid of jy na die weerlose mense sal kan omsien wat aan jou deur kom klop.

In hierdie tyd het deure gesluit, werkers was afgelê of op korttyd geplaas en weerlose mense was sonder hulp gelaat, maar ewe skielik reël die DMO nou spoedig betalings gebaseer op 2023 se bedrae om hierdie instansies gelukkig te hou, en om die druk van die media te laat bedaar!

In 2023 was dit dieselfde storie en daar is toe spoedig uitbetalings gemaak gebaseer op 2022 se goedgekeurde bedrae. Dit wil sê dat die organisasies vir die laaste twee jaar moes regkom met minimale befondsing alhoewel daar groter behoefte en werkslading was.

Ek kyk egter deur die DMO se mooi praatjies… Ek kyk deur die spoedige ingryping van die nasionale struktuur om die krisis in Gauteng op te los. Ek kyk deur die rookskerm wat daar nou voor NRO’s gehou word. Suid-Afrika se maatskaplikewerksektor is besig om op ʼn ramp af te stuur, nie net met betrekking tot befondsing nie, maar die professie in die geheel. Die professie, die reputasie van hardwerkende maatskaplike werkers, én die vertroue in die beroep en organisasies lei skade terwyl ons departement ewe skielik wil ingryp en die ridder op die wit perd speel. Dit is maklik om die ridder te wees as jy die krisis self geskep het.  

Ek kyk deur dit. Hopelik doen jy ook.

Solidariteit in samewerking met Solidariteit Helpende Hand hou op 18 Julie  ʼn krisisberaad vir die maatskaplike sektor: Van Krisis tot Hoop. As jy, soos ek, deur die DMO se rookskerm sien en deel wil wees van die oplossing vir jou sektor en jou beroep is hierdie ʼn geleentheid wat jy nie moet misloop nie. Stuur vir ons ʼn e-pos na mw@solidariteit.co.za waarna ons die registrasiebesonderhede vir jou sal aanstuur!  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel