Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Doodloopstraat by die werk – wag vóór jy bedank!
Deur Nico Strydom
Voel jy asof jy ʼn doodloopstraat by die werk bereik het? Daar is ses algemene redes waarom dit kan gebeur, en dit beteken nie noodwendig jy hoef te bedank om ʼn nuwe begin te maak nie.
Voel jy dat jy niks meer nuuts leer of enige vordering in jou loopbaan maak nie? Of miskien sien jy nie meer uit na Maandagoggende en die idee van nog ʼn week by die werk nie. Volgens Michelle Dobson, handelsmerkhoof by Pnet, kan hierdie gevoelens mettertyd jou motivering, selfvertroue en selfs jou gesondheid afbreek.
Dit is egter moontlik om jou werkslewe te verander deur die tekens te herken en te besef wanneer dit tyd is om van rat te verander.
“Onthou jy toe jy die eerste keer in ʼn nuwe rol begin het waaroor jy opgewonde was? Jy het gevoel asof jy elke dag iets nuuts geleer het en nuwe vaardighede ontwikkel het. As jy op stuuroutomaat is omdat jy nie meer leer of groei nie, is dit dalk tyd vir ʼn verandering,” sê Dobson.
Dit voel dalk asof jy goed presteer in jou rol, maar jou dryfkrag, belangstelling en oemf het afgeneem. “Dan besef jy dat jy elke werksdag die ure aftel tot huistoegaantyd. Dit kan beteken dat jy gereed is vir ʼn nuwe begin,” gaan Dobson voort.
Nog ʼn teken dat jy in ʼn doodloopstraat by die werk is, is as jy ongewaardeerd voel of meen jy word oor die hoof gesien. Hieroor sê Dobson: “Dit is ontmoedigend om onsigbaar te voel. As jy die ekstra myl stap, maar jou loopbaan staan stil, kan dit ʼn teken wees dat dit tyd is om aan te beweeg.”
As die maatskappykultuur, die onderneming se waardes, of jou kollegas se prioriteite en gedrag in stryd is met dit waarvoor jy staan, is dit moeilik om gelukkig te voel by die werk. “Wanbelyning tussen jou waardes en die werksomgewing skep onnodige stres en ontkoppeling, en is ʼn algemene rede waarom professionele persone aanbeweeg.”
Die meeste van ons aanvaar dat daar slegte dae en moeilike tye sal wees, selfs in ʼn droomwerk by ʼn goeie werkgewer. “Miskien sit jy skielik baie oortyd in of ʼn moeilike kliënt maak die lewe ellendig. Dikwels is daar die hoop dat ʼn nuwe bestuurder, ʼn ander strategie of ʼn paar bykomende hulpbronne dinge ten goede sal verander.”
Maar hoe nou gemaak? Praat met iemand wat jy vertrou – ʼn mentor, ʼn vriend of ʼn voormalige kollega – om jou ervaring by die werk te bespreek. Indien moontlik, maak ʼn afspraak met jou bestuurder om oplossings te ondersoek. Dit kan tot nuwe take of leergeleenthede lei wat jou weer opgewonde maak oor jou werk. Jy kan jouself ook bemagtig deur nuwe vaardighede aan te leer, wat tot veranderinge in jou rol by die werk kan lei. Dit kan uiteindelik ook tot bevordering en werkstevredenheid lei.
Solidariteit wil jou met die nodige kennis bemagtig en bied talle kursusse aan deur sy voortgesette leer-aanbod, om jou voor te berei vir die werkplek van die toekoms. Solidariteit help jou om jou volle potensiaal te bereik deur lewenslange leer. Skep jou gratis profiel op Solidariteit vandag nog.