Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Dreigende Seriti-afleggings kan Mpumalanga-afleggingskrisis vererger
Solidariteit waarsku dat die moontlike aflegging van sowat 780 werknemers by Seriti Power, saam met dreigende werksverliese in die metaalvervaardigingsbedryf, ’n reuseknou vir gemeenskappe in Mpumalanga kan meebring.
Seriti het Solidariteit in kennis gestel van ’n omvattende herstrukturering ingevolge artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge by sy hoofkantoor en verskeie mynbedrywighede.
Altesaam 3 345 werknemers sal aanvanklik kennisgewings ontvang, waarvan ongeveer 1 043 werknemer se poste vóór versagtende maatreëls geraak kan word. Seriti voorsien dat sowat 780 werknemers uiteindelik afgelê kan word.
Die maatskappy voer onder meer volgehoue kostedruk, verouderende mynbates, dalende produksie, hoë eenheidskoste en beperkte oorblywende lewensduur by sekere bedrywighede as redes vir die beoogde herstrukturering aan.
“Solidariteit het begrip vir die harde bedryfswerklikhede waarmee ouer myne te kampe het. Ons kan egter nie wegkyk van die gevolge op mense en die ekonomie wanneer nóg 780 poste moontlik verdwyn nie,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit.
Die kennisgewing volg kort nadat Solidariteit ook ’n afleggingskennisgewing van Sibanye-Stillwater ontvang het, waarin ongeveer 1 100 werknemers geraak kan word. Volgens Venter dui die twee prosesse op die toenemende druk waaronder Suid-Afrika se mynbousektor verkeer.
“Die gevaar in Mpumalanga is dat die Seriti-afleggings nie in isolasie plaasvind nie. Transalloys en Ferroglobe wag steeds op verligting deur laer kragtariewe, terwyl kommer oor moontlike werksverliese in die metaalvervaardigingsbedryf voortduur.
“Wanneer soveel groot werkgewers gelyk onder druk verkeer, word nie net individuele werknemers nie, maar ook hele dorpe, gesinne en plaaslike ondernemings bedreig,” sê Venter.
Die voorgestelde datum vir die beëindiging van diens by Seriti is 31 Desember 2026. Geen finale besluit is al volgens die maatskappy geneem nie, en ’n KVBA-gefasiliteerde konsultasieproses sal gevolg word.
Solidariteit sal tydens die konsultasieproses daarop aandring dat elke redelike alternatief ondersoek word om afleggings te voorkom of te beperk, waaronder herontplooiing, oorplasings, vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftrede.
“’n Afleggingsdatum op oujaarsaand maak die situasie selfs meer ontstellend. Solidariteit sal alles binne sy vermoë doen om poste te beskerm en die uitwerking op werknemers en hul gesinne sover moontlik te beperk,” sê Venter.