Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit sleep DKD hof toe oor Mangaung-werknemers
Sien die hofaansoek hier aangeheg
Solidariteit het sy dringende aansoek by die arbeidshof ingedien om die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) te dwing om uitvoering te gee aan die hofbevel oor voormalige G4S-werknemers by die Mangaung- korrektiewe sentrum.
Die hofbevel bepaal dat die kontrakwerknemers ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge outomaties van G4S na die DKD moes oorgaan toe G4S se kontrak om die Mangaung- korrektiewe sentrum te bestuur, einde Junie 2026 beëindig is.
Die indiening van hofdokumente deur Solidariteit volg verlede week se finale aanmaning van Solidariteit aan die DKD om die hofbevel na te kom. Die sperdatum vir ʼn behoorlike reaksie het intussen verstryk sonder dat die departement aan Solidariteit se eise voldoen het.
Gevolglik is die hofstukke beteken.
Volgens Theunis van Staden, koördineerder van die openbare sektor by Solidariteit, is die DKD elke geleentheid gegun om die hofbevel vrywillig na te kom.
“Die situasie is nou ernstig. Minstens twee van ons lede het hierdie afgelope week kennis ontvang dat hulle hulle huise sal moet ontruim omdat hulle nie betaling ontvang nie.
“Ons staar ʼn maatskaplike krisis in die gesig en moes kospakkies by gesinne gaan aflewer het omdat die nood vererger en verdiep,” sê Van Staden.
Solidariteit vra die hof onder meer om te bevestig dat die bestaande bevel afgedwing moet word, en dat die DKD sedert 1 Julie die betrokke werknemers se werkgewer is.
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof en hoof van regsake by Solidariteit, is die eis ook dat die werknemers behoorlik geregistreer en terugwerkend deur die DKD betaal word, én dat hul voordele en diensrekords herstel word.
“Dit lyk ongelukkig asof politiekery tussen die twee werkgewers daartoe gelei het dat werknemers in ʼn krisis gedompel is. In plaas daarvan om met mekaar te praat ter wille van hardwerkende werkers, het hulle besluit om rûe styf te maak. Ons gaan nou die hof vra om ʼn einde daaraan te maak,” sê Van der Bijl.