Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit bekommerd oor duisende in mynbou wat aflegging vrees
Solidariteit het sy kommer uitgespreek oor die groeiende aantal afleggingsprosesse in die Suid-Afrikaanse mynbousektor nadat Sibanye-Stillwater aangekondig het dat 1 114 werknemers en kontrakteurs moontlik deur die herstrukturering van sy Kwezi-skag in Rustenburg geraak kan word.
Hoewel Solidariteit begrip het vir Sibanye se verduideliking dat die skag die einde van sy ekonomiese leeftyd nader, kan dié proses nie in isolasie beskou word nie.
Daar is vroeër aangedui dat 1 214 poste deur die beplande twee jaar lange produksiestilstand by De Beers se Venetia-myn bedreig word, terwyl nagenoeg 1 800 poste by Petra Diamonds se Finsch- en Cullinan-myne in gedrang is.
“Ons praat dus van meer as 4 000 werknemers en kontrakteurs wat deur net hierdie drie verwikkelinge geraak kan word.
“Dit dui op ʼn kommerwekkende verlies aan werksekerheid in ʼn bedryf waarvan duisende gesinne en gemeenskappe afhanklik is,” sê Willie Venter van Solidariteit.
Volgens Venter is die tydsberekening van die Kwezi-proses besonder ongelukkig, aangesien die sperdatum vroeg in November val en die feestyd nader kom. Werknemers het gevolglik slegs ʼn maand of twee om alternatiewe werk te probeer vind indien werkverliese nie deur die konsultasieproses voorkom kan word nie.
“Dié onsekerheid plaas enorme druk op mynwerkers en kan ook hul aandag en fokus in ʼn reeds gevaarlike werkomgewing beïnvloed.
“Suid-Afrika het vanjaar reeds meer mynsterftes aangeteken as die hele vorige jaar,” sê Venter.
Solidariteit is egter hoopvol oor Sibanye se beoogde herlewing van die Burnstone-skag by Balfour en sal ondersoek instel na die moontlike oorplasing van geraakte werknemers. Vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftrede moet ook deeglik oorweeg word voordat gedwonge afleggings plaasvind.
“Solidariteit is by die konsultasieproses betrokke en sal elke moontlike alternatief ondersoek om werkverliese te voorkom of minstens te beperk.
“Die huidige situasie in die mynbousektor bly egter diep kommerwekkend,” sê Venter.