loading
avatar
Artikels
9 uur gelede
werkgewer-dwing-60-jarige-om-vroeg-af-te-tree-voor-solidariteit-ingryp

Fotokrediet: Verskaf

Werkgewer dwing 60-jarige om  vroeg af te tree, voor Solidariteit ingryp

Robin-Lee Maré

Mnr. Frans Fourie het nog drie jaar gehad voordat hy volgens die aftreeouderdom vir oppervlakwerknemers sy mynhelm moes ophang. Sibanye-Stillwater het egter anders besluit: Op 60 moes hy aftree.

Die probleem? Fourie het toe reeds twee en ʼn half jaar lank uitsluitlik op die oppervlak gewerk, waar die ooreengekome aftreeouderdom 63 is.

Solidariteit het namens Fourie die stryd na die arbeidshof geneem en gewen. Die hof het bevind dat Sibanye se besluit om sy diens op 60 te beëindig, op ʼn outomaties onbillike afdanking neergekom het. Die myn moet hom nou vergoeding gelykstaande aan 24 maande se salaris betaal.

Volgens Karolien van Wyk, arbeidshoflitigant by Solidariteit, is die uitspraak ʼn belangrike oorwinning vir werknemers wat in die praktyk een werk doen, maar op papier steeds onder ʼn ander posbenaming val.

“ʼn Werkgewer kan nie ʼn werknemer se werklike werkomstandighede ignoreer bloot omdat sy posbenaming op papier nooit verander het nie. Fourie het vir jare op die oppervlak gewerk. Dit is die werklikheid wat uiteindelik in die hof saak gemaak het,” sê Van Wyk.

Fourie het in Maart 2010 by Sibanye se Driefontein-myn as ʼn algemene mynwerker begin en ondergronds gewerk. Dit het in Mei 2022 verander toe ʼn mediese ondersoek bevind het hy is nie meer geskik vir ondergrondse werk nie. Hy was egter steeds geskik om op die oppervlak te werk.

Sibanye het hom gevolglik op die oppervlak benut, waar hy geskik was om te werk. Fourie het in die store gewerk, herstel- en instandhoudingswerk verrig, aan infrastruktuur gewerk en later, nadat die werkgewer vir sy opleiding betaal het, ook as plofstofuitreiker ingestaan.

Sy salarisstrokie het egter steeds “algemene myner” aangedui.

Dié verskil tussen wat Fourie elke dag gedoen het en wat op papier gestaan het, sou later deurslaggewend wees.

Die kollektiewe ooreenkoms by die myn maak ʼn belangrike onderskeid: Ondergrondse werknemers tree op 60 af, terwyl werknemers wat op die oppervlak werk eers op 63 aftree.

Fourie het op 11 Augustus 2024 sy 60ste verjaardag gevier. Dieselfde dag is hy van ʼn aftreebeplanningskonsultasie in kennis gestel en meegedeel dat hy aan die einde van die jaar afgetree sou word.

Hy het aansoek gedoen om sy aftreeouderdom tot 63 te verleng. Sy aansoek is selfs deur die mynbestuurder wat vir sy oppervlakwerk verantwoordelik was, ondersteun. Maar dit was onsuksesvol.

Fourie en Solidariteit het nie die besluit gelate aanvaar nie. In Oktober 2024 het hulle ʼn grief ingedien en aangevoer dat Sibanye die verkeerde aftreeouderdom toepas. Fourie het immers nie meer ondergronds gewerk nie.

Ten spyte hiervan het Sibanye op 18 November 2024 sy diens beëindig omdat hy volgens die myn die ooreengekome aftreeouderdom van 60 bereik het. Fourie het daarmee nie net sy werk en inkomste verloor nie, maar ook die mediese dekking wat hy vir sy vrou en dogter voorsien het.

“Vir ʼn werknemer is dit nie bloot ʼn administratiewe besluit oor ʼn datum op ʼn kalender nie. Dit beteken skielik geen salaris nie, geen werksekerheid nie en voordele waarop ʼn gesin staatmaak wat wegval,” sê Van Wyk.

Die vraag voor die arbeidshof was uiteindelik of Fourie se aftreeouderdom bepaal moes word deur sy formele posbenaming as algemene mynwerker, of deur die werk wat hy in werklikheid verrig het.

Sibanye het aangevoer dat sy formele posbenaming die deurslag moes gee. Fourie en Solidariteit het aangevoer dat sy werklike werk op die oppervlak moes bepaal watter aftreeouderdom op hom van toepassing is.

Die arbeidshof het met Fourie saamgestem.

Die hof het daarop gewys dat die verskillende aftreeouderdomme juis verband hou met die aard van die werk: Ondergrondse werk hou groter fisieke eise en gevare in. Om bloot Fourie se ou posbenaming te gebruik, sou die aftreeouderdom losmaak van die rede waarom daar in die eerste plek tussen ondergrondse en oppervlakwerknemers onderskei word.

Die hof het bevind dat Fourie in die hoedanigheid van ʼn oppervlakwerknemer in diens was toe hy 60 geword het. Hy het dus nog nie die ooreengekome aftreeouderdom bereik toe Sibanye sy diens beëindig het nie.

Sy afdanking op grond van sy ouderdom was gevolglik outomaties onbillik.

Die hof het ook swaar getel aan die gevolge wat Sibanye se besluit vir Fourie gehad het. Hy het sy werk, inkomste en mediese dekking verloor. Boonop het Fourie en Solidariteit reeds vóór sy afdanking die korrekte aftreeouderdom onder die werkgewer se aandag gebring, maar Sibanye het steeds voortgegaan om die ouderdom van 60 toe te pas.

Die hof het vergoeding gelykstaande aan 24 maande se salaris toegestaan.

Van Wyk meen die uitspraak stuur ʼn sterk boodskap oor hoe werknemers se werklike omstandighede benader moet word.

“Fourie het nie gevra vir spesiale behandeling nie. Hy het bloot gevra dat die aftreeouderdom wat geld vir die werk wat hy reeds twee en ʼn half jaar lank verrig het, ook op hom toegepas word. Toe dit nie gebeur nie, het Solidariteit hom bygestaan om sy regte af te dwing.”

“Hierdie uitspraak wys weer waarom dit belangrik is dat werknemers nie alleen hoef te staan wanneer ʼn werkgewer ʼn besluit neem wat hul inkomste, loopbaan en gesin se sekerheid raak nie,” sê Van Wyk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel