Fotokrediet: By Husky - Own work, CC BY 4.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=73980747
Gekopieër
Solidariteit dien roetekaart na rasvryheid ook by Nederlandse én Europese parlement in
Solidariteit dien vandag sy verslag met ʼn voorgestelde roetekaart vir ’n rasvrye Suid-Afrika teen 2030 by die Nederlandse parlement in. Die verslag is ook tydens ’n skakelbesoek aan Brussel onder die aandag van rolspelers by die Europese parlement gebring.
Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, oorhandig die verslag, Rasvry teen 2030, wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) saamgestel is as deel van sy skakelbesoek aan Europa.
Die verslag bevat ’n uitvoerbare plan vir die geleidelike uitfasering van rasgebaseerde wetgewing en beleid.
“Suid-Afrika het nie nóg rasreëls nodig nie. Ons benodig ’n geloofwaardige uitweg uit ’n stelsel wat burgers volgens velkleur indeel, ekonomiese groei kniehalter en ’n klein elite bevoordeel sonder om armoede op groot skaal te verlig,” het Kleynhans gesê.
Die roetekaart stel voor dat rasgebaseerde maatreëls vervang word met beleid wat op sosio-ekonomiese behoefte, gehalte-onderwys, ekonomiese groei en werkskepping gegrond is.
Sien die verslag hier aangeheg.
Volgens Kleynhans het meer as drie dekades van transformasiebeleid nie die destydse beloofde breë vooruitgang gebring nie. Suid-Afrika het steeds uiters hoë werkloosheidskoerse, swak ekonomiese groei, staatsinstellings wat voortdurend verval en wydverspreide armoede, terwyl rasregulering aanhou uitbrei.
Die gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming en sy sektorale rasseteikens wys volgens Solidariteit hoe rassebeleide al hoe meer voorskriftelik raak. Werkgewers word gedwing om personeel volgens sentraal bepaalde rasformules te bestuur, ongeag plaaslike omstandighede of beskikbare vaardighede.
“Die regering pas ’n mislukte beleid met al hoe meer dwang toe. Dit verswak ondernemings, beperk loopbaangeleenthede en jaag skaars vaardighede uit die land.
“Uiteindelik betaal alle Suid-Afrikaners die prys,” het Kleynhans gesê.
Navorsing deur die SNI en die Vryemarkstigting raam die jaarlikse nakomingskoste van swart ekonomiese bemagtiging op tussen R145 miljard en R290 miljard – sowat 2% tot 4% van die land se bruto binnelandse produk (BBP). Dié hulpbronne kan eerder vir ondernemingsgroei, opleiding en werkskepping aangewend word.
Die internasionale indiening vorm deel van Solidariteit se veldtog om beleidmakers oor die omvang en gevolge van Suid-Afrika se rasbeleid in te lig.
“Ons neem ’n konkrete alternatief na rolspelers in Europa om daarmee te wys Suid-Afrika kán ongelykheid bestry sonder om elke burger vir altyd aan ’n rassekategorie vas te bind,” het Kleynhans gesê.
Solidariteit stel ’n ordelike en meetbare uitfasering binne ’n vaste tydraamwerk voor.
Teen 2030 behoort die staat nie meer ras as maatstaf vir indiensneming, opleiding, aanbesteding, eienaarskap of ekonomiese deelname te gebruik nie.
“’n Rasvrye bestel is in die belang van elke Suid-Afrikaner wat ’n groeiende ekonomie, ’n bevoegde staatsdiens en gelykheid voor die reg wil hê. Met hierdie verslag wys ons dat daar ’n haalbare roete en ’n realistiese teikendatum is,” het Kleynhans afgesluit.