
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Drie gewoontes vir verhoogde produktiwiteit
Deur Liza Joubert
In vandag se besige werkplek voel dit soms asof die dag verby vlieg nog voor jy regtig iets sinvols gedoen het. Die e-posse stroom in, vergaderings maak jou kalender vol en jou take voel soos ʼn eindelose lys. Gelukkig kan eenvoudige, praktiese gewoontes jou help om meer in beheer van jou dag te wees – selfs wanneer jy nie soos ʼn admin-boffin voel nie.
Hier is drie gewoontes wat jy daagliks kan toepas om jou werklewe te vergemaklik en jou produktiwiteit ʼn hupstoot te gee:
1. Beheer jou e-posse – moenie dat dit jou beheer nie
Dit is aanloklik om heeldag die inkomende e-posse dop te hou, maar dit is ʼn groot tydrower. Stel spesifieke tye vir jouself om jou e-posse te lees en te beantwoord, byvoorbeeld net aan die begin van jou dag, of net ná middagete en voordat jy huis toe gaan. Sit jou kennisgewings af sodat jou aandag nie heeldag deur die kennisgewing-geluidjies afgelei word nie. As jy dadelik op dringende boodskappe moet reageer, oorweeg dit om die belangrikste kontakte se e-posse met filters of merkers uit te lig, sodat dit nie in die massa boodskappe verlore gaan nie.
2. Gebruik prioriteitslyste – maar hou dit eenvoudig
Begin elke oggend (of nog beter: die vorige middag) deur drie hoofdoelwitte vir die volgende dag neer te skryf. Dit dwing jou om op dit wat regtig belangrik is te fokus, eerder as om jou dag te laat verswelg deur kleiner, minder belangrike take. Gebruik eenvoudige hulpmiddels soos ʼn notaboek, aanlyn apps vir notas of selfs jou kalender. Dit gaan nie oor spoggerige stelsels nie, maar eerder oor konsekwente, eenvoudige beheer van jou take.
3. Bou fokusblokke in jou dag
Ons werk dikwels in kort tydperiodes. Jou dag word waarskynlik menigmale deur oproepe, boodskappe of kollegas se vrae onderbreek. Probeer eerder om fokusblokke van 25 tot 50 minute te skep waarin jy aan een taak, sonder onderbrekings, werk. Gebruik tegnieke soos die Pomodoro-tegniek (25 minute fokus en vyf minute breuk) om jou konsentrasie te versterk. Hierdie fokusblokke help jou om dieper te dink en in minder tyd, meer te bereik. Stel jou span in kennis van wanneer jou fokusblokke is, sodat hulle jou nie onnodig onderbreek nie.
Wenke om dié gewoontes volhoubaar te maak
As jy wil leer hoe om hierdie en ander vaardighede soos tydsbestuur, organisering en effektiewe kommunikasie te verbeter, gaan loer na Solidariteit se aanlyn leer-aanbod. Jy kan praktiese kort kursusse voltooi wat jou kan help om jou werkdag beter te bestuur. Dit sluit ook kursusse oor digitale vaardighede en produktiwiteit in wat jou daaglikse roetine makliker kan maak. Daar is ongeveer 150 beroepspesifieke kursusse op Solidariteit se leer-aanbod waarvan jy kan kies en keur (klik hier om meer uit te vind oor hoe jy vir Solidariteit se voortgesette leer-aanbod kan inskryf).
Jy hoef nie perfeksie na te jaag nie en begin klein deur net een gewoonte te kies. Dit is beter om een ding reg te doen as om alles gelyktydig te probeer verander en tou op te gooi. Mettertyd sal jy sien hoe hierdie gewoontes jou dag struktureer en jou minder oorweldig laat voel.
Solidariteit is jou vennoot in die werkplek. Skep jou gratis profiel en raak vandag nog deel van jou grootste Afrikaanse, aanlyn werkgemeenskap!