
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Projekbestuurder moet vergoed word na hy sonder salaris huis toe gestuur is
Deur Heléne Mocke
Solidariteit het toegesien dat ʼn werkgewer in die konstruksiebedryf ʼn werknemer met nagenoeg R200 000 moet vergoed nadat laasgenoemde nie, soos sy kontrak bepaal, toegelaat is om te kom werk nie en hy gevolglik ook nie betaal is nie.
ʼn Bedrag van R189 821,34 is op bevel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aan Willem Potgieter, ʼn projekbestuurder by Dominion Business Investments, uitbetaal.
Potgieter, wat intussen bedank het, was sedert Mei 2023 in die maatskappy se diens, maar het sy laaste salaris einde van Junie 2024 ontvang. In Julie 2024 het die werkgewer hom laat weet dat hy huis toe gestuur word weens projekte wat glo onafgehandeld is. Potgieter se dienskontrak het egter geen voorsiening vir ’n “skorsing” sonder betaling gemaak nie, en hy het nooit daarvoor ingestem nie.
Ten spyte van talle e-posse en opvolg kommunikasie – ook deur Solidariteit se regsverteenwoordiger, Zane Hanekom – het Dominion Business Investments nie gereageer of enige plan aangebied om die situasie op te los nie. Sonder inkomste vir meer as drie maande en geen aanduiding dat hy sou kon terugkeer werk toe nie, het Potgieter in Oktober 2024 sy bedanking ingedien.
Solidariteit het die saak na die KVBA verwys. Die kommissaris het bevind dat Potgieter se bedanking ʼn gevolg is van die werkgewer wat Potgieter se werksomstandighede ondraaglik gemaak het en wat dus gely het tot ʼn onbillike ontslag. Die kommissaris het ook bevestig dat ’n werkgewer nie ’n werknemer bloot huis toe kan stuur sonder om behoorlike prosedures te volg nie – selfs al is die maatskappy in ʼn finansiële verknorsing.
As vergoeding vir die onbillike ontslag is Potgieter ses maande se salaris toegeken.
Hanekom sê die saak is ’n duidelike boodskap dat Solidariteit sy lede teen werkgewers beskerm wat hul regsverpligtinge ignoreer.
“Hierdie uitspraak bevestig dat geen werkgewer werknemers kan laat ly onder finansiële of bestuursprobleme sonder om die wetlike prosedures te volg nie. Ons sal aanhou veg vir die regte van ons lede, ongeag wie die oortreder is,” sê Hanekom.
Hierdie oorwinning bewys weereens dat Solidariteit se regsafdeling nie huiwer om op te tree teen onregverdige arbeidspraktyke nie, en dat lede kan staatmaak op vasberadenheid en kundigheid om hul belange te beskerm.