
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Suid-Afrika se werkloosheidskrisis vererger
Deur Kyla-Ann du Toit
Drie miljoen. Dít is hoeveel meer Suid-Afrikaners tans werkloos is teenoor tien jaar gelede.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het die werkloosheidskoers met 0,3% in die tweede kwartaal van 2025 gestyg. StatsSA het ook aangekondig dat sowat 140 000 meer mense werkloos is as in die eerste kwartaal van die jaar – wat die amptelike werkloosheidsyfer van 32,9% in die eerste kwartaal nou op 33,2% te staan bring.
Ses van die nege provinsies het ʼn styging in werkloosheid aangeteken, met die Noord-Kaap wat die grootste toename beleef het. Daarteenoor het Gauteng en die Oos-Kaap die meeste nuwe werksgeleenthede geskep, terwyl die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal die grootste dalings in indiensneming gehad het.
Suid-Afrika se werkloosheidskrisis het vererger.
Jong mense sukkel om werk te kry
Die getal werklose jong mense het met 39 000 tot 4,9 miljoen gestyg, terwyl die getal werkende jong mense met 31 000 tot 5,7 miljoen toegeneem het.
Wat kwalifikasies betref, het diegene met matriek en minder as matriek die hoogste werkloosheidskoers – onderskeidelik 35,2% en 39,4%. Selfs gegradueerdes het ʼn styging in werkloosheid ervaar, van 11,7% tot 12,2%.
- • Werkloosheidskoers van mense tussen 15 en 34 jaar = 46,1%
- • Werkloosheidskoers van mense tussen 15 en 24 jaar = 62,2%
- • Werkloosheidskoers van mense tussen 25 en 34 jaar = 40,5%
Meer vroue as mans is werkloos
Vroue het ʼn werkloosheidskoers van 35,9% in die tweede kwartaal aangeteken, hoër as die 30,7% vir mans. In werklike getalle was 7,4 miljoen vroue in diens, vergeleke met 9,4 miljoen mans.
StatsSA wys daarop dat vroue se werkloosheidskoers die afgelope dekade konsekwent hoër as dié van mans was. Daarbenewens het langtermynwerkloosheid in die land van 63,9% in 2015 tot 76,6% in 2025 gestyg het.
ʼn Toename in tien jaar
Die jongste syfers plaas die huidige krisis in perspektief:
- • In 2015 was 5,2 miljoen mense werkloos (25% werkloosheidskoers).
- • In 2025 is 8,4 miljoen mense werkloos (33,3% werkloosheidskoers).
Dit beteken dat in tien jaar 3,2 miljoen meer mense werkloos is, terwyl die land se arbeidsmag in dieselfde tydperk van 36 miljoen tot 41,8 miljoen mense gegroei het.
Hoe lyk die syfers in die sektore?
Die formele sektor bly die grootste werkverskaffer (68,2% van totale indiensneming), gevolg deur die informele sektor (19,8%), private huishoudings (6,6%) en landbou (5,4%).
Die grootste verliese in die tweede kwartaal van 2025:
- • Gemeenskapsdienste (insluitend staatsdiens): 42 000 minder poste
- • Landbou: 24 000 minder poste
- • Finansiële dienste: 24 000 minder poste
Handel (insluitend hotelle, verblyf en restaurante) het wel 88 000 meer mense in diens gehad, ondanks uitdagende ekonomiese toestande.
Suid-Afrikaners kry swaar
Die nuutste werkloosheidsyfers toon hoe diepgewortel Suid-Afrika se werkkrisis is – Suid-Afrikaners kry swaar. Sonder doelgerigte beleid, investering in vaardigheidsontwikkeling en ʼn groeiende ekonomie, lyk dit onwaarskynlik dat hierdie tendens vinnig gaan omdraai.
Daarom moet ons as ʼn gemeenskap mekaar help om werk te kry en mekaar se vaardighede benut. Elkeen wat wíl werk, moet kán werk – vry van inmenging deur die staat.
Jou werk is jou toekoms en Solidariteit is daartoe verbind om sy lede te bemagtig om te kan werk én goed te kan werk. Solidariteit se Beskermingsplan is gebou op die krag van saamstaan – ʼn antwoord op hierdie onvolhoubare situasie waarmee ons gemeenskap te kampe het.
Lees hier meer oor die Beskermingsplan.