loading
Artikels
2 weke gelede
solidariteit-se-beskermingsplan-die-bouplan-van-hoop

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit se Beskermingsplan: Die bouplan van hoop

Deur Ané Janse van Rensburg

Daar is ’n storm op die horison. ’n Storm wat nie net ons land se ekonomie, ons werksgeleenthede en ons toekoms bedreig nie, maar ook die waardes en beginsels waarvoor ons hard gewerk het. Regeringsbeleid, rassewette, buitelandse invloed en ekonomiese wanbestuur hou alles ’n groot risiko in vir gewone Suid-Afrikaners. Ons ervaar die impak op ons werkplek, op ons inkomste en op ons kinders se toekoms.

Hierop het Solidariteit ʼn plan van aksie in werking gestel wat lede bemagtig om nie magteloos te sit en toekyk hoe hulle toekoms uit hul eie hande gesteel word nie. Hierdie plan is nie ’n vae beleidsdokument vol slagspreuke nie. Dis ’n konkrete, vierledige bouplan van hoop wat lede van Solidariteit beskerm teen die realiteite van ’n regering wat hul rug op meriete, logika en ekonomiese volhoubaarheid gedraai het. As daar een les is wat die geskiedenis ons leer, is dit dat wanneer gemeenskappe saamstaan, hulle nie net oorleef nie, maar floreer!

1. Beskerming teen diskriminasie

Suid-Afrika se rassewette het mettertyd al hoe meer begin klink soos iets uit ’n mislukte satire. Van sportspanne wat verloor omdat hulle nie “verteenwoordigend” genoeg is nie, tot Covid-hulpfondse wat net vir sekere rasse beskikbaar was – dis byna ongelooflik, behalwe dat dit die werklikheid is.

Rassewette ontneem Suid-Afrikaners die reg op gelyke geleenthede en op ’n plek in die arbeidsmark op grond van meriete. Solidariteit staan op teen hierdie wetgewing op verskeie maniere. Met ’n Regsfonds van R7 miljoen, klagtes by die Verenigde Nasies en volgehoue, internasionale druk op die regering, veg Solidariteit om die gelyke reg op werk te beskerm. So neem Solidariteit die rasseskild op om te verseker dat elke Suid-Afrikaner op gelyke voet – op meriete – vir ’n pos oorweeg word.

2. Beskerming van opleiding

Solidariteit wag nie vir die regering om skole reg te ruk of universiteite uit hulle politieke waens te help nie – ons bou ons eie instellings!

Met ontwikkelings soos die nuwe skolekonsessie van Pretoria Gimnasium, uitbreiding by Sol-Tech die beroepsopleidingskollege, ’n splinternuwe Bo-Karoo-kampus, en ’n Akademia-kampus van R3,2 miljard in Pretoria, bou Solidariteit nie net klaskamers nie; ons bou toekomsplanne. Met die vestiging van Afrikaanse, wêreldklas-opleidingsinstellings, skole en tersiêre kampusse, neem Solidariteit die Opleidingskild op dat sy lede, en hulle kinders, die gehalte-opleiding kry wat hulle verdien om ’n stabiele toekoms te bou.

3. Beskerming van inkomste

Dié skild is daarop gemik om werk direk in Suid-Afrika te beskerm, al val die ekonomie uitmekaar en al raak die regering se dienslewering al hoe swakker. Met slim oplossings soos ’n nuwe arbeidsregskletsbot wat vinnige regsadvies bied, die uitbou van beroepsnetwerke wat lede in hul veld met mekaar verbind en hulle sodoende versterk, en ’n werkplatform wat werkgewers en werksoekers op grond van meriete bymekaar bring, word daar prakties opgetree. Solidariteit bevorder ook internasionale werkgeleenthede sodat lede die unieke voordeel kan geniet om in dollars te verdien, maar steeds in rande te leef. Hierdie plaaslike- en gemeenskapsgesentreerde skild gee lede die gereedskap om plaaslik staande te bly, selfs wanneer die staat onder hulle voete begin verbrokkel.

Solidariteit se Beskermingplan is gebou op die wete dat geen regering ons kultuur of toekoms gaan bewaar nie; ons sal self! Daarom word digitale gemeenskapsentrums ontwikkel, word ’n eie sosialemediaplatform bekendgestel en skep Solidariteit beleggingsgeleenthede wat Afrikaners in staat stel om mekaar ekonomies te versterk. Die doel is om plaaslike ekonomieë te stimuleer en “ons sal self”-strukture te vestig waarin vryheid, veiligheid en voorspoed kan gedy. Want as gemeenskappe saamstaan, staan hulle sterker en onder die Solidariteit-skild is daar plek vir almal wat bereid is om te bou.

4. Beskerming van internasionale verhoudinge

Solidariteit weet dat die regering se buitelandse beleid ’n bietjie rampspoedig is. Daarom is daar aktiewe skakeltoere na die VSA en Afrika-lande, direkte onderhandelinge oor sektorale ooreenkomste, en planne om internasionale druk op die regering te plaas voor vanjaar se G20-beraad.

Internasionale betrekkinge het ’n groot impak op ons land se arbeidsmark. Solidariteit onderhandel daarom ooreenkomste en plaas diplomatieke druk op die regering, van Washington tot in Afrika, om te verseker dat ons lede nie die slagoffer word van swak politieke besluite nie – dit is die internasionale skild wat Solidariteit opneem om jou belange te beskerm.

Terwyl die ANC rondspeel met ons grootste handelsvennoot se geduld, is Solidariteit daar om werksgeleenthede te red en toegang tot markte te behou.

Daar is op die oog af dalk baie redes om moedeloos te raak, maar Solidariteit se Beskermingsplan is nie net ’n teenvoeter vir die storm nie, dit is ’n toekomsplan vol hoop. ’n Plan wat sê: ons gaan ons nie net verskans teen gevaar nie, ons gaan ons eie geleenthede skep!  Dis ’n plan wat veg waar dit nodig is, bou waar dit moontlik is en beskerm waar dit dringend nodig is.

Daarom is die storm wat tans op ons voorstoep woed nie een waaroor jy hoef te vrees nie. Jy kan saam met meer as 200 000 ander agter Solidariteit se skild skuil. En meer as net skuil — jy kan saam jou toekoms bou, opleiding ontvang en jouself bemagtig!

Die storm kom, maar Solidariteit staan gereed – nie met ʼn sambreel nie, maar met ʼn skild! Sluit vandag aan en bou saam aan die plan van hoop!  

Lees die volledige Beskermingsplan hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel