Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Drie stappe om daardie mentor te kry
Deur Anja van den Berg
Om uit iemand anders se ondervinding te leer is ʼn kompliment vir die mentor en ʼn aanprysing vir die mentee. Die meer ervare mentor voel dat jy hulle vermoëns waardeer en die gretige student voel dat hulle die meester se tyd waardig is. Mentors is onmisbaar vir jou persoonlike en professionele groei. Hulle verskaf insigryke terugvoer, help jou om verhoudinge in die beroep te bou en om probleme op te los. Maar hoe vra ʼn mens iemand taktvol om jou mentor te wees? Jy kan hom of haar nou nie juis stormloop en uitblaker “Wil jy my mentor wees?” nie.
Vir Solidariteit-lede is dit al aansienlik makliker danksy Solidariteit se #MentorMyprogram wat op mentorskapgeleentheid fokus. Die program sluit aan by Solidariteit se beroepsnetwerke, ʼn gemeenskap waar jy in jou beroep versterk word en waar jy kan tuisvoel, met ander in jou beroep kan saamwerk en saam met hulle kan leer. Hoekom nie daarna kyk as deel van jou reis as mentee nie? Lees gerus hier om meer uit te vind oor wat die mentorskapprogram behels.
Hier volg intussen ʼn maklike driestapplan wat jy kan volg om ʼn potensiële mentor in jou veld te nader:
- Dink aan jou behoeftes en visie
Om ʼn mentor te kry net om een te hê, sal nie waarde tot jou ontwikkeling toevoeg nie. Vra jou af hoekom jy ʼn mentor benodig en doen selfondersoek om te bepaal wat jy uit die verhouding wil hê. Soek jy na diepgaande loopbaanadvies, groentjieleiding of na iemand met ʼn briljante verstand om saam met jou met innoverende idees rond te speel? Jou antwoorde sal jou lei om die geskikste mentor vir jou behoeftes te identifiseer.
- Vind die presiese rede waarom hul deskundigheid jou aandag getrek het
Noudat jy weet wat jy wil bereik, kan jy jou huiswerk begin doen om potensiële mentors te identifiseer. Kies die gebied waarin jy mentorskap wil ontvang en samel inligting in oor die sektor, werk of ontwikkelingsveld. Kyk of enige name na vore kom en teken hul aanlyn kontakinligting aan. Besoek hul webwerf, bestudeer hul LinkedIn-profiel, en lees artikels wat hulle gepubliseer het. Om in jou eie werkplek rond te kyk, kan ʼn goeie begin wees, maar jy kan ook na ʼn bedryfspesifieke geleentheid gaan of by ʼn bedryfspesifieke instelling aansluit. Maak seker dat jy identifiseer met die individuele loopbaanpad, doelstellings en waardes van wie jy ook al nader.
- Bring jou doelstellings in ooreenstemming met hul kundigheid
Noudat jy gereed is om die eerste tree te gee om ʼn moontlike mentor te nader, moet jy ʼn voorstel gereed hê. Dit hoef nie oordrewe formeel of akademies te wees nie – ʼn paar vriendelike paragrawe sal voldoende wees. Fokus daarna op jou mentor se prestasies en hoe jy meen hul kundigheid tot jou kennis sal bydra. Stel dan ʼn paar opsies voor oor hoe om die reëling verder te neem. Een alternatief kan wees om een maal per week vir 15 minute op ʼn keer op Teams bymekaar te kom en mekaar een maal per maand (of een maal elke drie maande) in persoon te ontmoet. Wees bedagsaam wat hul tyd betref en bied aan om by hul voorkeure in te val. En laastens, dink aan ʼn manier om hulle ʼn guns te bewys of vra doodeenvoudig of jy hulle op enige manier met iets kan help.
Jy kan jou kanse op ʼn gunstige reaksie vergroot deur die gesprek informeel te hou en bewondering vir hul werk uit te spreek – maar moenie oordryf nie! Hou ook die vergaderings kort en energiek, en as hulle voorstel dat jy ʼn spesifieke boek moet lees of na ʼn bepaalde video moet kyk, doen dit! Som ná elke sessie op wat jy geleer het en stuur vir die mentor kort stukkies positiewe terugvoer as jy sy of haar raad suksesvol toegepas het. Jy is nou gereed om jou mentor-mentee-verhouding te versterk en by die beste te leer!
Die mentorskapprogram bemagtig jong mense om hul beroepe danksy die nodige kennis en vertroue aan te pak. Sluit aan by Solidariteit en ontsluit die voordele wat die mentorskapprogram kan bied. Klik hierdie skakel om by die program aan te sluit.