loading
Blogs
1 maand gelede
duur-mediese-fondse-steeds-beter-as-die-alternatief

Foto Krediet: Verskaf

Duur mediese fondse steeds beter as die alternatief

Theuns du Buisson

Daar is tans ʼn kwaai geraas in die media rondom mediese fondse, die instel van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), en natuurlik politici wat ten alle koste uit hierdie onenigheid wil munt slaan.

Aan die een kant sê die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) hoe die NGV slegs beveg word deur mense wat wins bó die welstand van die armes stel.

En aan die ander kant staan elke Suid-Afrikaner wat die toestand van staatshospitale aanskou, en vrees dat die NGV alle gesondheidsorg uiteindelik só sal laat lyk.

Kritici soos die SAKP en ander vergeet gerieflikheidshalwe hoe mediese fondse in der waarheid nie-winsgewende organisasies is. Dit is onderlinge beleggingsfondse waarvan slegs die administrateur ʼn mate van winsbejag het.

Die bedrae wat aan administrasie uitgegee word, word buitendien ook streng gereguleer deur die Raad op Mediese Skemas (RMS). Die geld in dié fondse behoort aan die lede daarvan – nie aan die administrateurs nie.

Vir baie mense is hulle mediese fondse juis die beskerming wat hulle verlang teen die haglike omstandighede in die openbare sektor. Al is dit baie duur – baie duurder as wat dit behoort te wees – kan ons nie die gemoedsrus wat dit ʼn mens gee ontken nie.

Dit bly, onder die omstandighede, steeds die moeite werd. Daar kan nie werklik ʼn prys daarop gesit word wanneer jy weet  ʼn siekte of ʼn ongeluk sal jou nie finansieel ruïneer nie. Ewe kosbaar is die gewaarborgde toegang tot gehalte gesondheidsorg wanneer die ondenkbare of die ergste wél gebeur.

Te midde van al hierdie geraas vergeet ʼn mens dikwels dat laasgenoemde die grootste doel van ʼn mediese fonds is. Hoe laakbaar dat die RMS ʼn versoek rig dat premieverhogings van mediese fondse nie veel hoër as 4,4% mag wees nie? Die RMS is juis die reguleerder wat premies hoog hóú deur hulle buitensporige regulasies daaroor. Dit is soos ʼn ontvoerder wat sê hy wil jou eintlik net vry maak.

Mediesefondspremies gaan aan die einde van die jaar skerp styg en dit is natuurlik slegte nuus vir my, jou en die man op straat. Een oorsaak daarvan is mense wat prosedures, wat dalk uitgestel kon word, nóú reeds ontvang weens hulle bekommernis dat dit in die toekoms, onder die NGV, onmoontlik mag wees.

Ander redes is die baie lae premieverhogings tussen 2020 en 2022 as gevolg van die veel minder eise tydens die pandemietydperk. Eise het sedertdien deur die dak geskiet en fondse moet nou daarvoor opmaak.

Heelwat fondse het die toename in eise onderskat en een is die afgelope week onder administrasie geplaas. Baie ander loop ook die gevaar om dieselfde paadjie te stap as hulle nie dringend iets daaromtrent doen nie. Premieverhogings is een manier om in te gryp.

Ongelukkig is dit byna al wat die fondse kan doen om hierdie storm te oorleef. Vir die deursnee Suid-Afrikaner is dit beslis nie lekker nie, maar die alternatief tot mediesefondslidmaatskap is ʼn veel erger scenario waarvan mense nie moet vergeet nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel