
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Eerlike terugvoer vir ware groei
Anja van den Berg
Terugvoer is ʼn noodsaaklike komponent van werknemers se groei en talentontwikkeling. Sonder die insigte van ander kan ons maklik ons sterkpunte of areas vir groei miskyk. Volgens Forbes gebruik meer as 85% van Fortune 500-maatskappye die 360-grade-terugvoerproses as ʼn kernkomponent van hul leierskapontwikkelingsplan. Maar, hierdie kragtige hulpmiddel kan ook aan vooroordeel en negatiwiteit onderworpe wees.
Wat behels 360-grade-evaluerings?
Die 360-grade-evaluering gee omvattende terugvoer oor ʼn werknemer se prestasie en potensiaal. Dit behels insette van die werknemer se bestuurder, kollegas, spanlede en selfs kliënte. Ongeveer 8 tot 12 persone voltooi ʼn anonieme aanlyn vraelys oor aspekte soos spanwerk, kommunikasie en leierskapvaardighede. Die werknemer/ontvanger van die terugvoer doen ook ʼn self-evaluasie.
Wat is die voor- en nadele van 360-grade-evaluerings?
Een van die grootste voordele van ʼn 360-grade-evaluering is die omvattende data wat uit verskeie oorde bekom word. Dit help die geëvalueerde om insig in hul sterkpunte te ontwikkel, en om ook areas vir ontwikkeling te identifiseer. Leiers kan dan in samewerking met die persoon wat die terugvoer ontvang opleidings- en vaardigheidsplanne opstel.
Dit is wel belangrik dat leiers bewus is van die moontlike struikelblokke. Evalueerders mag dalk die 360-grade-assesseringsproses misbruik om ʼn uitlaatklep vir persoonlike vetes te wees. Die risiko van vooroordeel bestaan ook waar evalueerders op persoonlike voorkeure eerder as op die persoon se professionele vaardighede fokus. Mense is ook meer geneig om die negatiewe te oorbeklemtoon sonder dat hulle dit noodwendig besef.
Dit mag dalk vir die persoon wat geëvalueer word voel of hy of sy aangeval word. Dit is baie belangrik dat die persone wat geëvalueer word verstaan hoekom hulle deel is van die evalueringsproses en watter voordele dit vir hulle kan inhou.
Hoe kan mensehulpbronbestuur die moontlike nadele uitskakel?
Mensehulpbronbestuur kan ʼn sleutelrol speel deur die volgende stappe te volg:
1. Definieer die sleutelareas van terugvoer
Die assessering is nie ʼn uitlaatklep vir vetes nie. Terugvoer moet werksverwant en rol-spesifiek wees.
2. Kies evalueerders versigtig
Die assessering moenie vir elke Jan Rap en sy maat oop wees nie. Evalueerders behoort gekies te word op grond van hul insig ten opsigte van die ontvanger se verantwoordelikhede, uitdagings en doelwitte.
3. Bemagtig die evalueerders
Evalueerders behoort te verstaan dat die assessering nie gaan oor hul voor- of afkeure vir die persoon wat geëvalueer word nie. Maak seker hulle fokus op gedrag, nie persoonlikheid nie.
4. Sluit die persoon wat geëvalueer word, in
Die geëvalueerdes moet ook in die proses geken word. Gee aan hulle die geleentheid om hulself te evalueer en om die areas waarin hulle hulp wil hê, sonder vrees vir veroordeling te deel.
5. Terugvoer en aksieplan
Maak seker die ontvanger verstaan dat die doel van die evaluasie nie is om vinger te wys nie. Terugvoer aan die ontvanger moet gebalanseerd, konkreet en spesifiek wees. Die hoofdoel is om die geëvalueerde te help om te groei en te ontwikkel.
Die klem van die 360-grade-evalueringsproses val op bemagtiging en regstelling eerder as op afbrekende kritiek. Gee erkenning aan sowel sterkpunte as areas vir ontwikkeling om ʼn omgewing van wedersydse respek en groei te skep. Die ouderwetse dae van ystervuis-base is verby. Die nuwe wêreld van werk sien mense as vennote, en leiers is ingestel op relevante en tydige navorsing en terugvoering.
As jy ooit in die werkplek meen dat jy nie regverdig beoordeel word nie is Solidariteit daar om jou belange te beskerm.
Solidariteit maak seker dat jy aan die voorpunt van nuwe verwikkelinge in jou bedryf bly danksy voortgesette leer en relevante inligting wat in die beroepsnetwerke beskikbaar is.
Jy kan selfs aansoek doen vir ʼn mentorskap en deur ʼn meester in die veld gementor word sodat jy nie net goed kan werk nie, maar jou volle potensiaal kan bereik. Mentorskappe is beskikbaar vir lede van Solidariteit en jy kan die mentor van jou keuse vra om jou deur die uitdagings van jou beroep te lei. Word vandag deel van die grootste Afrikaanse Netwerk van Werk ter wêreld.