Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Eerste ronde Graanbedingingsraad-onderhandelinge verloop vlot
Loononderhandelinge by die Graanbedingingsraad het hierdie week afgeskop. Solidariteit bemagtig vanjaar sy lede in die landbousektor deur op loonverhogings, aftreeouderdom, verlof en reistoelaes te fokus. Solidariteit bly toegewyd om werksekerheid en langtermynvoordele vir alle werknemers in hierdie sektor te verseker. Lees meer oor dié onderhandelingsproses en hoe Solidariteit sy lede beskerm.
Solidariteit het die afgelope week die eerste ronde loononderhandelinge by die Graanbedingingsraad namens sy lede hanteer. Hierdie onderhandelinge is namens werknemers van Suid-Afrika se voorste koöperasies, soos onder meer Vrystaat Koöperasie Beperk (VKB), Obaro, Oos-Vrystaat Koöperasie (OVK) en Noordwes Koöperasie (NWK), gevoer.
Solidariteit fokus vanjaar op vier belangrike areas:
- • loonverhoging
- • aftreeouderdom
- • jaarlikse verlof
- • hoër reistoelaes
Die werkgewers se openingsaanbod is tans ʼn 3%-loonverhoging. Die ander eise rakende aftreeouderdom, verlof en reistoelaes is na die onderskeie werkgewers vir interne konsultasie verwys. Formele terugvoer hieroor word in die tweede ronde onderhandelinge verwag, wat op 26 Februarie 2025 begin.
Volgens Pieter Burger, Solidariteit se hoofonderhandelaar, het die proses positief begin. Hy meen die openingsaanbod van die werkgewers toon dat ʼn ooreenkoms dalk bereik kan word sonder om ʼn dispuut te verklaar.
Solidariteit bly gefokus op langtermynvoordele en werksekerheid vir alle werknemers in die landbousektor. Hierdie onderhandelingsproses herbevestig Solidariteit se verbintenis tot volhoubare werkspraktyke en die verbetering van werknemers se lewensgehalte.
Die Landbousektor-groep is jóú aanlyn gemeenskap waar jy op hoogte kan bly van die jongste nuus en gebeure in jou beroep. Met Solidariteit aan jou kant word jy van die beste moontlike diensvoorwaardes en werksvoordele verseker!