Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit stuur aanmaning oor rigiede SEB-voorskrifte vir regsektor
Solidariteit het ʼn aanmaning aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling én die Regspraktisynsraad (RPR) gerig om die inwerkingstelling van streng rasvoorskrifte vir die regsberoep as onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik uit te wys.
Hierdie voorgeskrewe SEB-kodes vir die regsektor wat op 20 September 2024 deur minister Parks Tau onderteken is, is volgens Riaan Visser, hoof van Solidariteit se regsnetwerk, strydig met onder meer die Grondwet en die Wet op Gelyke Indiensneming.
Visser sê die Solidariteit Regsnetwerk verteenwoordig spesifiek lede wat in die regsektor werksaam is wie se lewens nog meer as die algemene publiek deur hierdie sektorkodes geraak sal word.
“Solidariteit is verbind tot die reg en doen moeite om toe te sien dat die prosedures wat gevolg word om sulke voorskrifte deur te druk ten minste aan wetgewing voldoen. In hierdie geval blyk dit dat daar ʼn mate van eksterne druk op die minister uitgeoefen is om die sektorkodes deur te voer,” sê Visser.
Indien die minister nie aan ons aanmaning gehoor gee nie sal Solidariteit geen keuse hê as om regstappe uit te oefen ooreenkomstig die aanmaning nie.
Sien die aanmaning aangeheg.