Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Nóg verwarring oor Amsa én regering se langstaal-vooruitsigte
Solidariteit doen ʼn beroep op ArcelorMittal SA (Amsa) en amptenare van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging om ʼn einde te maak aan teenstrydige boodskappe oor die toekoms van Amsa se langstaalaanlegte en die moontlike werkverlies wat sluiting sal meebring.
Konsultasie met vakbonde duur voort en in antwoord op vrae van Solidariteit het Amsa toegegee hy is opnuut in gesprek met die regering oor reddingsplanne vir die langstaalaanlegte.
Amsa het nietemin aangedui hy is van voorneme om konsultasie oor afleggings voort te sit. Dit dui op negatiewe vooruitsigte vir die nagenoeg 3 500 werknemers wie se werk regstreeks deur die sluiting van aanlegte in Newcastle, Vereeniging en by Amras (Witbank) bedreig word.
Terselfdertyd voer regeringsbronne volgens berigte aan dat hul gesprekke met Amsa positief is en skep verwagtinge by die publiek oor ʼn spoedige oplossing.
Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, sê Amsa ontken hierdie positiewe terugvoer oor reddingsplanne.
“Hierdie teenstrydige boodskappe laat ons as vakbond asook ander vakbonde en werknemers van Amsa met groot onsekerheid oor waar ons met die regering se ingryping staan.
“Indien regeringsingryping wel die geval is, bly ons teleurgesteld dat die regering moes wag tot Amsa die aanlegte wil sluit voor hy met dringendheid reageer. Kon die regering nie vroeër met dié soort dringendheid na oplossings vir die staalbedryf soek nie?” vra Venter.
Indien die regering wél nuwe planne smee om Amsa te red, sal dit hopelik nie net korttermynplanne wees wat net op Amsa se redding fokus nie.
Volgens Venter is langtermynoplossings vir die hele bedryf dringend nodig.
“Daar moet dan met alle rolspelers gepraat word, of dit primêre produsente of kleinskaalprodusente soos ministaalmeulens is. Elkeen van hierdie produsente het bestaansreg binne die staalbedryf.
“Baie van die uitdagings wat die onderskeie produsente in die gesig staar, soos kwynende beleggingsvertroue en natuurlik energie- en vervoerprobleme en die buitensporige koste daaraan verbonde, kan juis voor die regering se deur gelê word,” sê Venter.
Solidariteit het reeds aangetoon hoe die uitkring-effek van die langstaalsluitings tienduisende ander mense hulle werk oor baie bedrywe se grense heen sal kos.
Die ramp wat die staalbedryf tref, eindig gewis nie by Amsa nie. Solidariteit het ook kennis geneem van die voorneme om Assmang se Cato Ridge-mangaan-staalaanleg te sluit en ook hier word hoë energie- en vervoerkoste as rede aangevoer.
Dié aanleg het ook met vakbonde in gesprek getree nadat vroeëre pogings om die deure met behulp van kostebesparing oop te hou, gefaal het.
Venter sê die druk op hierdie ouer produsente soos Amsa is enorm en hulp van die owerhede om ruimte vir sowel die ouer as die meer moderne produsente te skep moes reeds jare gelede gebeur het.
“Vir die huidige hoop ons om so gou as moontlik duidelikheid te kry oor die gesprekke tussen die regering en Amsa en ander betrokke partye. Die werknemers verdien eerlikheid.
“Ons hoop daar is positiewe uitkomste voor ons volgende konsultasie met Amsa op 6 Februarie sodat almal kan weet waar hulle staan,” sê Venter.