
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
“Ek doen nét admin…”
Deur Mari Ferreira
Verlede week is ek op ʼn dag vroeg vir een van my afsprake, en terwyl ek sit en wag om ingeroep te word vir die vergadering, sien ek die dame in ontvangs rondskarrel agter haar lessenaar. Haar foon hou nie vir ʼn oomblik op met lui nie, terwyl haar e-posse instroom en sy kort-kort onderbreek word deur ʼn kollega wat iets vra, ʼn versoek rig of haar aandag verg. Sy help gou en ken die antwoord op elke vraag sonder om te huiwer of twee keer te dink, waarna sy weer ywerig terugkeer na haar rekenaar, haar bril opsit en weer begin tik.
In die stilte, terwyl ek geduldig wag om ingeroep te word, maak ek myself gemaklik op die rusbank en kyk ek na die items op haar tafel… Daar lê ʼn A4-dagboek, volgeskryf met notas en dinge wat afgehandel moet word, en ʼn pienk koppie op die hoek van haar lessenaar met koffie in wat teen dié tyd seker reeds yskoud is. Ek sien ʼn fotoraam met ʼn foto in van haar, ʼn middeljarige man en twee tieners – haar gesin vir wie sy elke dag lééf en werk. Ek kyk rond en kyk dan af na my horlosie… my vergadering behoort binne vyf minute te begin.
“Kan ek vir jou koffie aanbied” vra sy onverwags. “Jammer dat ek nie vroeër gevra het nie, vandag is dol,” sê sy en skink vir my ʼn koppie koffie vanuit die groot fles met vars koffie.
Ek neem die koppie en bedank haar vir die koffie. “Dit is heerlik, baie dankie,” sê ek terwyl ek my koue hande om die warm koppie vou. Sy knik haar kop tevrede en loop na een van die rusbanke wat oorkant my staan. Terwyl sy die kussings pof en regdraai, vra ek uit nuuskierigheid: “Wat behels jou werk?”
Stilte.
“Ek doen admin,” sê sy sag. “Ek doen nét admin…”
Die vertrek is stil, maar voordat ek kan antwoord, word ek ingeroep vir die vergadering. Ek staan op, neem my koffie, notaboek en handsak en stap by die groot houtdeure in, reg om te begin. “Weereens dankie vir die koffie,” sê ek voordat die houtdeure agter ons toegemaak word.
Op pad werk toe ná my vergadering onthou ek steeds haar woorde: “Ek doen nét admin…”
Ek dink aan hoeveel administratiewe personeel, sekretaresses en persoonlike assistente moontlik so kan voel, terwyl hulle eintlik die héle maatskappy staande hou.
Kantoorpraktisyns dra baie hoede, van die bestuur van finansies tot die koördinering van skedules, van die instandhouding van rekords tot kommunikasie met belanghebbendes. Julle is die probleemoplossers, die organiseerders en die gom wat alles bymekaar hou. As kantoorpraktisyn is jy verantwoordelik vir soveel meer as nét admin, nét dagboek hou en nét telefone antwoord. Jy is die een persoon wat die antwoord op elke vraag ken en wat die maatskappy se werksaamhede en take moeiteloos verrig, terwyl jy tien ander balle in die lug hou. Jy reël vergaderings, stuur e-posse, neem notules en bestuur die dag-tot-dag- bedrywighede.
Nie net is jy ʼn admin-kryger nie, jy is ʼn administratiewe held!
Vandag haal ek my hoed vir jou as admin-kryger af, veral vir die werk wat jy doen en die bydrae wat jy lewer. Ek bedank jou vir jou toewyding, lang ure van werk en goeie kliëntediens. Ek salueer jou vir jou stiptelikheid en deursettingsvermoë. Ek kyk op na jou en jou uitsonderlike vaardighede en moeite, en ek is dankbaar vir die verskil wat jy elke dag maak, moontlik sonder dat jy dit besef.
Jy is ʼn administratiewe held en méér as nét admin…