loading
Blogs
1 week gelede
ek-my-nageslag-en-jyhoorthier

Foto Krediet: OkayDeer

Ek, my nageslag en #JyHoortHier

Deur Mari Ferreira

Ek het as jong meisie dikwels daarvan gedroom om my vlerke te sprei en in die buiteland te woon en werk. My wortels was diep gevestig in die stukkie grond tussen Pretoria en Brits waarop ek grootgeword het. Ek het van kleins af ʼn liefde vir die buitelewe, die natuur en die kuns van boerdery ontwikkel. Die eenvoud van die lewe op die plaas, die reuk van vars grond ná die reën, die geruis van die wind deur mielielande en die rustigheid van ʼn koei wat wei, het my geprikkel. Ek wou van kleins af boer en met beeste werk!

Ek het in 2019, nadat ek my studie aan Akademia voltooi het, die geleentheid gekry om in Amerika te gaan werk en op ʼn plaas te boer. Ek het sonder enige huiwering my tasse gepak en na ʼn ysige Noord-Dakota vertrek. Ek was oorweldig en opgewonde, en ek het die nuwe geleentheid met albei hande aangegryp. Daar, te midde van sneeubedekte velde en ʼn koue winter, het ek my droom begin uitleef. Ek het my dae in ʼn trok of op ʼn John Deere-trekker deurgebring, waar ons lande beplant, gestroop en bewerk het. Ek het draad gespan, kalwers grootgemaak, met ʼn graaf gespit en gedolwe, en paaie reggemaak. Ek het hard gewerk en daardeur het ek myself leer ken en is my menswees gevorm. Ek het ook meer geleer oor geloof en dat ek niks is of sal wees sonder die Here se genade nie.

Alhoewel ek my droom uitgeleef het, is daar tog ʼn spreekwoord wat sê: “Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie.” My tyd in Amerika het my geleer dat hoewel daar groot geleenthede was en die ervaring ongelooflik waardevol was, daar steeds verlange na my eie land, my taal, my mense, my kultuur, rugby, braai, boeremusiek en koeksisters was. Ek het verlang na my huis – Suid-Afrika. Die landskap, salaris en geleenthede is dalk anders oorsee, maar dit het nie die warmte en gees van die mense of die herinneringe van my kinderjare gedra nie.

Ek het ook besef dat die gras wel groen kan wees waar jy dit natlei en versorg. Dit is nie noodwendig die “plek” wat die sukses bepaal nie, maar die aandag, liefde en sorg wat jy daaraan gee. Soos gras wat versorg word en groei, kan jou drome ook gedy waar jy jouself daaraan toewy om dit te bewaarheid.

Ek is nou vier jaar lank terug in Suid-Afrika, heeltemal oortuig dat dít die plek is waar ek wil wees. Hier wil ek werk, my wortels dieper inslaan en ʼn toekoms vir my gesin en kinders bou, want ek glo met my hele hart dat elke Suid-Afrikaner hier hoort. Ons land het dalk uitdagings, maar dis hier waar ek my eie stuk van die wêreld natlei en versorg, waar ek ʼn verskil wil maak en waar ek, my gesin en my kinders sal floreer.

Ek, my nageslag en die toekoms wat ek bou, maak deel uit van ʼn groter verhaal, want #JyHoortHier.

Lees my artikel oor my terugkeer en besluit om weer in Suid-Afrika te boer hier op Maroela Media: Maroela Media – Ek is ‘n Boeremeisie en Ek Kom Terug SA Toe.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel