loading
avatar
Artikels
17 uur gelede
elektrisiteitsprys-styg-weer-goedkoper-krag-vir-nywerhede-is-ononderhandelbaar-se-solidariteit

Foto Krediet: Pexels

Elektrisiteitsprys styg weer: Goedkoper krag vir nywerhede is ononderhandelbaar, sê Solidariteit

Deur Leré Nel

Huishoudings en ondernemings betaal vanaf 1 Julie 2026 meer vir elektrisiteit nadat die nuwe munisipale elektrisiteitstariewe in werking getree het.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het vroeër vanjaar ʼn gemiddelde verhoging van 8,76% vir Eskom se direkte kliënte goedgekeur, wat reeds op 1 April in werking getree het. Munisipale kliënte, wat die meerderheid huishoudings insluit, gaan vanaf 1 Julie gebuk onder ʼn gemiddelde verhoging van 9,01%. Benewens die tariefverhogings is Eskom se tariefstruktuur ook aangepas, met hoër vaste diens- en administrasiefooie vir sekere huishoudelike tariewe.

Hoewel beurtkrag grootliks iets van die verlede geword het en Eskom se finansiële en operasionele prestasie merkbaar verbeter het, plaas die jongste verhoging verdere druk op huishoudings en ondernemings wat reeds onder stygende lewenskoste gebuk gaan.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), moet die fokus nou verskuif na goedkoper elektrisiteit vir die bedrywe wat die grootste bydrae tot ekonomiese groei en werkskepping kan lewer.

“Dit is noodsaaklik dat bedrywe goedkoper elektrisiteit kry en dat die proses om daarvoor aansoek te doen ʼn baie korter proses moet wees,” sê Du Buisson.

“Tans wag ondernemings omtrent agt maande vir goedkeuring. Hoewel die spesiale tariewe van tussen 62c en R1,12c per kWh hierdie ondernemings help, is dit steeds nie genoeg om hulle werklik kompeterend te maak in die internasionale mark nie. China gee vir hulle smelters krag teen 32c per kWh, wat dit eintlik amper onmoontlik maak vir enige ander land om ten volle met hulle te kompeteer.”

Du Buisson sê Suid-Afrika verloor waardevolle ekonomiese geleenthede omdat plaaslike minerale dikwels oorsee verwerk word voordat dit weer ingevoer word.

“Wat my regtig hartseer maak is dat China ons erts koop en dit dan daar verwerk, waarna ons van die metale weer invoer,” sê hy. “China druk dus ons bedryf dood met ons eie erts, bloot omdat hulle goedkoop elektrisiteit het.”

Volgens Du Buisson het hierdie taktiek baie beplanning van China geverg. Hulle het byvoorbeeld die grootste hidro-elektriese damme en die grootste kernkragsentrales in die wêreld gebou.

Hy benadruk dat Suid-Afrika se fokus ook op goedkoop bronne van elektrisiteit, soos kernkrag, moet wees.

“As ʼn mens die huidige potensiaal vir die smelterbedryf in Suid-Afrika in ag neem, is dit reeds genoeg om die grootste kernkragsentrale in die wêreld te bou. As ons later al ons minerale self verwerk, sal drie sulke sentrales benodig word,” verduidelik hy.

Du Buisson is versigtig optimisties oor die toekoms van die prys van elektrisiteit.

“Dit lyk darem of Eskom sy huis in orde begin kry en ek verwag dat hierdie verhoging van 12,74% die laaste dubbelsyferverhoging sal wees wat huishoudings moet trotseer,” sê hy.

“Eskom het onderneem om kostes onder beheer te bring, en het dit nou hul kernmandaat gemaak om pryse te verlaag. Ongelukkig kan dit nie oornag gedoen word nie en sal ons vir die volgende paar jaar steeds baie duur vir elektrisiteit moet betaal.”

Hoewel die jongste verhoging huishoudings onmiddellik raak, glo Solidariteit dat die langtermynoplossing nie bloot in die beperking van tariewe lê nie, maar in die uitbreiding van Suid-Afrika se elektrisiteitsproduksie en die ontwikkeling van goedkoper opwekkingsbronne. Dit sal daartoe lei dat die land se energie-intensiewe nywerhede internasionaal meer mededingend sal raak, wat uiteindelik ekonomiese groei sal bevorder, werksgeleenthede sal skep én sal help om die druk op elektrisiteitspryse oor tyd te verlig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel