loading
Artikels
2 jaar gelede
elkeen-wat-wil-werk-moet-kan-werk

Foto Krediet: Okay Deer

Elkeen wat wil werk, moet kan werk

Solidariteit se bestaansdoel is werk. Die wêreld van werk is vir Solidariteit só belangrik dat hulle sommer die woorde “Werk” en “Loopbaan” gekoop het.

“Ons glo dat elkeen wat wil werk, moet kan werk, en daarom het ons hierdie woorde eksklusief uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop,” sê Mandy Thackwray, die Bestuurder by Solidariteit se werkaanbod. 

Die sertifikaat wat Solidariteit vanaf die WAT ontvang het, staaf dat Solidariteit bygedra het tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans deur die woorde “werk” en “loopbaan” eksklusief te koop.

Solidariteit se werk is om mense in staat te stel om hul roepings na te jaag.

Werk is ten diepste ʼn opdrag van die Here. Om jou werk te doen, is om aan sy koninkryk te bou. Hierdie besef gee die dieper betekenis aan jou werk. Dit stel jou in staat om in moeilike omstandighede die sin van werk te vind. As alle werk ʼn opdrag van die Here is, is alle werk goed. Anders gestel, alle werk is adel. Of dit nou ʼn dokter, ambagsman, onderwyser, prokureur, administratiewe beampte, maatskaplike werker, verpleegster, operateur of bouer is, alle werk is goed, mooi en moet voluit gedoen word.

Nie net werk nie, maar goed werk

Ons wil egter nie hê mense moet bloot werk nie; ons wil hê hulle moet goed kan werk.

Goed werk beteken dat jy gelukkig in die werk is, billik behandel word en dat daar nie teen jou gediskrimineer word nie. Om goed te werk beteken dat jy deur jou werk bevredig moet word en dus roepingsvervulling beleef. Die werkomstandighede moet bevorderlik wees sodat jy jou werk goed kan doen en jou volle potensiaal kan bereik.

Indien ʼn regering ʼn ideologie en beleide in plek het wat onbillik is en wat vryheid om te werk verhoed, sal ons hulle beveg met alles wat ons het.

Indien werkgewers ons lede onbillik behandel, swak arbeidsverhoudinge het en onbillike regeringsbeleid klakkeloos implementeer, sal ons nie aarsel om hulle trompop te loop nie. Ons is nie teen besigheid of bestuur gekant nie; ons is wel teen swak en onbillike bestuur gekant, want swak bestuur lei daartoe dat ons lede nie goed kan werk nie.

Nie net goeie werk nie, maar volle potensiaal

Om bloot goed te werk is ook nie goed genoeg nie. Ons wil hê ons lede moet hulle volle potensiaal bereik. Om jou volle potensiaal te bereik, beteken natuurlik om ʼn veilige werksomgewing te skep, vry van onbillike beperkings, onreg en diskriminasie. Dit begin egter al baie vroeër. Dit begin al op skool wanneer die regte beroepsrigtings, vakrigtings en studiegeleenthede gekies word. Dit gaan oor die vermoë om te studeer en die plek waar gestudeer word. Dit gaan ook oor bevorderingsgeleenthede, werksgeleenthede en nuwe werksgeleenthede. Dit sluit veral voortgesette leer in om altyd op die voorpunt van jou potensiaal te wees. Laastens gaan dit ook daaroor om hindernisse wat tussen jou en jou volle potensiaal staan, soos rasbeleide, te beveg en uit die weg te ruim.

Daar is ʼn rede waarom die Solidariteit Beweging uit werk ontstaan het en die oorwig van die Beweging steeds op werk en voorbereiding om te kan werk, toegespits is met ʼn fokus op opleiding.

Solidariteit is soveel meer as net ʼn gewone vakbond – dit het omvorm in ʼn netwerk van werk wat die volle loopbaanpad saam met sy lede stap.

Solidariteit betree binnekort ʼn opwindende nuwe fase met ʼn splinternuwe platform wat jou eenstopplek gaan raak met álles wat jy moet weet van jou loopbaan. Dr. Dirk Hermann vertel meer oor die platform, kyk hier.

Werkfasilitering gaan ook die hart van die nuwe platform wees, en slim tegnologie word gebruik om die huidige webbladsy ingrypend te verbeter en vir dit ʼn ware platformkarakter te gee.

Solidariteit gaan binne die volgende jaar hierdie platform bekendstel, wat die eerste interaktiewe en geïntegreerde werkgemeenskap ter wêreld gaan wees. Die totale loopbaanpad van ʼn Solidariteit-lid gaan op die platform beskikbaar wees. Hou jou hierdie spasie dop!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel