Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Elkeen wat wil werk, moet kan werk
Solidariteit se bestaansdoel is werk. Die wêreld van werk is vir Solidariteit só belangrik dat hulle selfs die woorde “werk” en “loopbaan” gekoop het.
“Ons glo dat elkeen wat wil werk, moet kan werk, en daarom het ons hierdie woorde eksklusief uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop,” sê Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se Werk-aanbod.
Die sertifikaat wat Solidariteit van die WAT ontvang het, bevestig dat Solidariteit bygedra het tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans deur die woorde “werk” en “loopbaan” eksklusief te koop.
Solidariteit se werk is om mense in staat te stel om hul roeping na te jaag.
Werk is ten diepste ʼn opdrag van die Here. Om jou werk te doen, is om aan Sy koninkryk te bou. Hierdie besef gee dieper betekenis aan jou werk en stel jou in staat om selfs in moeilike omstandighede die sin daarvan te vind. As alle werk ʼn opdrag van die Here is, is alle werk goed. Anders gestel: alle werk is adel. Of dit nou ʼn dokter, ambagsman, onderwyser, prokureur, administratiewe beampte, maatskaplike werker, verpleegkundige, operateur of bouer is – alle werk is goed, mooi en moet voluit gedoen word.
Nie net werk nie, maar goed werk
Ons wil egter nie hê mense moet bloot werk nie; ons wil hê hulle moet goed kan werk.
Om goed te werk beteken dat jy gelukkig is in jou werk, billik behandel word en nie aan diskriminasie blootgestel word nie. Dit beteken ook dat jy deur jou werk bevredig moet word en dus roepingsvervulling beleef. Werkomstandighede moet bevorderlik wees sodat jy jou werk goed kan doen en jou volle potensiaal kan bereik.
Indien ʼn regering ideologieë en beleide in plek stel wat onbillik is en wat die vryheid om te werk beperk, sal ons hulle beveg met alles wat ons het.
Indien werkgewers ons lede onbillik behandel, swak arbeidsverhoudinge handhaaf en onbillike regeringsbeleid klakkeloos implementeer, sal ons nie aarsel om hulle trompop te loop nie. Ons is nie teen besigheid of bestuur gekant nie; ons is wel teen swak en onbillike bestuur gekant, want dit verhoed dat ons lede goed kan werk.
Nie net goeie werk nie, maar volle potensiaal
Om bloot goed te werk is ook nie goed genoeg nie. Ons wil hê ons lede moet hul volle potensiaal bereik.
Om jou volle potensiaal te bereik, beteken natuurlik om in ʼn veilige werkomgewing te werk – vry van onbillike beperkings, onreg en diskriminasie. Dit begin egter reeds vroeër: op skool, waar die regte beroepsrigtings, vakke en studiegeleenthede gekies word. Dit sluit ook in die vermoë om te studeer en die plek waar gestudeer word. Dit gaan ook oor bevorderingsgeleenthede, toegang tot werk en die skep van nuwe werkgeleenthede. Dit behels ook voortgesette leer, sodat jy voortdurend op die voorpunt van jou potensiaal kan bly. Laastens beteken dit om hindernisse wat tussen jou en jou volle potensiaal staan, soos rasbeleide, te beveg en uit die weg te ruim.
Daar is ʼn rede waarom die Solidariteit Beweging uit werk ontstaan het, en die oorwig van die Beweging steeds op werk en voorbereiding om te kan werk, toegespits is met ʼn fokus op opleiding.
Solidariteit is soveel meer as net ʼn gewone vakbond – dit het ontwikkel in ʼn netwerk van werk wat die volle loopbaanpad saam met sy lede stap. Daarom is Solidariteit-aanlyn ontwikkel – ʼn interaktiewe en geïntegreerde aanlyn werkgemeenskap. Gebruikers kry toegang tot ʼn volledige aanbod om ʼn suksesvolle loopbaan te verseker – van leergeleenthede en beroepsnetwerkgroepe tot ʼn werksoekportaal en selfs ʼn sosiale ruimte waar jy met ander kan gesels en netwerk.
Solidariteit-aanlyn is ook in jou sak beskikbaar! Laai die Solidariteit-app af (Google Play Store vir Android en App Store vir Apple).
Solidariteit is daarop toegespits om ʼn gemeenskap van mense te bou wat mekaar ondersteun om saam ʼn sterker arbeidsmark te bou. Registreer hier jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en word deel van die toekoms van werk!