Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
7 uur gelede
skole-en-gemeenskappe-moet-hul-stemme-oor-jongste-bela-regulasies-laat-hoor

Fotokrediet: OkayDeer

Skole en gemeenskappe moet hul stemme oor jongste Bela-regulasies laat hoor

Solidariteit doen ʼn beroep op skole, beheerliggame, onderwysers, ouers en gemeenskappe om voor die sperdatum van 5 September 2026 kommentaar op drie stelle voorgestelde regulasies ingevolge die Bela-wet te lewer.

Solidariteit sal sy eie kommentaar op Vrydag 4 September 2026 indien en moedig skole aan om nie die openbare deelnameproses mis te loop nie.

“Hierdie regulasies raak sake waarmee skole gereeld in die praktyk te doen kry. Dit is daarom belangrik dat beheerliggame en skoolgemeenskappe self hul ervaring en bekommernisse op rekord plaas voordat die regulasies gefinaliseer word,” sê Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Die eerste stel regulasies handel oor beheerliggaamverkiesings. Solidariteit verwelkom veral die groter ruimte vir elektroniese prosesse, soos e-nominasies en e-stemming, aangesien dit vir baie skole ʼn meer praktiese en toeganklike manier kan wees om verkiesings te bestuur.

Solidariteit waarsku egter teen oorregulering en onbehoorlike inmenging in prosesse wat normaalweg deur skole en hul gemeenskappe bestuur behoort te word.

“Ons is positief oor tegnologie wat beheerliggaamverkiesings makliker kan maak, maar die staat moet nie die geleentheid gebruik om al hoe dieper by skole se interne bestuur betrokke te raak nie,” sê Prinsloo.

Solidariteit is ook bekommerd oor sekere bepalings en vorms wat blyk nie meer relevant of behoorlik gemotiveer te wees nie. Dit sluit onder meer verwysings na demografiese inligting op sekere vorms en Covid-19-verwante vereistes in wat steeds voorkom, ondanks die feit dat dié omstandighede lank reeds verander het.

Die tweede stel regulasies handel oor artikel 38A van die Suid-Afrikaanse Skolewet, wat bykomende vergoeding aan onderwysers en ander staatsaangestelde personeel vir ekstra pligte reël.

Dié vergoeding word uit skoolfondse betaal en kan byvoorbeeld betrekking hê op personeel wat verantwoordelikhede buite hul gewone pligte aanvaar.

Solidariteit ondersteun behoorlike beheermaatreëls om korrupsie, misbruik en die wanbesteding van skoolfondse te voorkom, maar is sterk gekant teen ʼn stelsel wat funksionele skole met onnodige administrasie en staatsinmenging belas.

“Skoolfondse moet verantwoordelik bestuur word, maar beheerliggame moet steeds die ruimte hê om volgens hul eie skool se behoeftes besluite te neem. ʼn Stelsel wat elke praktiese besluit deur nóg ʼn laag toestemming en administrasie dwing, kan uiteindelik meer probleme skep as wat dit oplos,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.

Die derde stel regulasies handel oor provinsiale onderwyserontwikkelingsinstitute en distriksonderwyserontwikkelingsentrums. Solidariteit ondersteun die doel om onderwyserontwikkeling te verbeter, maar het reeds kommer uitgespreek oor die koste, administratiewe las en praktiese uitvoerbaarheid van die voorgestelde model.

Veral die groot infrastruktuurvereistes en ʼn eenvormige benadering tot sentrums kan probleme skep in provinsies en gemeenskappe waar afstande en plaaslike omstandighede sterk verskil. Solidariteit meen bestaande skole, koshuise en gevestigde opleidingsverskaffers kan in baie gevalle ʼn goedkoper en meer praktiese alternatief bied.

“Ons is nie teen regulering of onderwyserontwikkeling nie. Ons beswaar is teen regulasies wat skole se hande onnodig vasbind, meer sentrale beheer skep en plaaslike besluitneming verswak,” sê Botha.

Solidariteit het template vir al drie stelle regulasies beskikbaar gestel wat skole kan gebruik en volgens hul eie omstandighede kan aanpas voordat hulle kommentaar by die Departement van Basiese Onderwys indien.

“Die belangrikste is om nie stil te bly nie. Hierdie is skole en gemeenskappe se geleentheid om nou ʼn sê te hê oor reëls waarmee hulle later elke dag sal moet werk,” sluit Prinsloo af.

Klik hier vir die template en instruksies oor hoe om jou kommentaar by die Departement van Basiese Onderwys in te dien.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel