Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
#ElkeenHelpEen – vir die nageslag
Deur Reon Janse van Rensburg
Solidariteit gesels daagliks met lede uit verskillende beroepe en dele van die land. Die vraag waarmee ons die meeste gekonfronteer word, het dikwels te doen met die toekoms en veral die toekoms van jong Afrikaanse mense wat op die drempel staan om hul loopbane te betree. “Gaan daar nog ʼn toekoms wees as dinge nou reeds so gaan?” Dit is inderdaad ʼn gewigtige vraag en ook ʼn vraag wat nie sommer net met ʼn ja of ʼn nee beantwoord kan word nie.
As ons eerlik is dan weet ons dat ons lewens as ouers nou maar net so uitwerk dat dit rondom ons kinders draai. Nie een van ons wil sien dat ons kinders werkloos, onveilig of armlastig is nie en ook nie dat hulle die land verlaat om elders geleenthede hoef na te jaag nie. Daarby kan ons ook nie ons oë toemaak en wat in die land gebeur bloot ignoreer nie. Dinge gaan dikwels so rof dat die meeste van ons nie eers meer die nuus wil lees of kyk nie.
Solidariteit se strategie is daarop gemik om vir ons kinders ʼn toekoms te bou waar hulle hier aan die suidpunt van Afrika vry, veilig en voorspoedig kan leef deur die vestiging van Solidariteit se sterk helpmekaar-beweging om selfstandig vir onsself te sorg.
Solidariteit se opdrag was nog altyd om sy lede te ondersteun om ʼn goeie werk te kan hê. Werk gee aan mense betekenis, geborgenheid en sekuriteit. ʼn Gebrek aan werk skep onsekerheid en onstabiliteit op vele vlakke.
Solidariteit glo ook dat jongmense nie net vir beroepe toegerus moet word nie, maar vir roepings, en dat nie net werk nie maar ook roepings beskerm moet word. Solidariteit se hart is sedert sy stigting in 1902 gemik op werk en het die organisasie deur verskeie fases gegaan en elke keer suksesvol aangepas by veranderde omstandighede en eise. Nogtans het Solidariteit sy kernfokus behou, naamlik ʼn goeie werk vir sy lede.
Om van hierdie helpmekaar-beweging ʼn sukses te maak het Solidariteit en die Solidariteit Beweging reeds strukture in plek begin sit deur die stigting van selfhelp-organisasies wat ʼn lewenslange netwerk van dienste aan ons ledegemeenskap kan bied. Om die sukses hiervan te vergroot en ook sodat meer mense wat deel vorm van die breër Afrikaanse gemeenskap hieruit kan voordeel trek, het Solidariteit die hulp van elke Solidariteit-lid en die Afrikaanse gemeenskap nodig. Nie net is ons saam sterker nie, maar sal dit bitter hartseer wees as elke lid nie hul eie mense hierby kan betrek nie. Vele hande maak ligte werk!
Wat moet mense weet wat nog nie lede is van Solidariteit nie? Hoe lyk die toekoms vir Solidariteit-lede en waarom moet ons almal inspring en mekaar begin help?
Jou bydrae tot die wêreld se eerste en ook die beste selfhelpbeweging dra by tot die volgende:
Skoleondersteuningsentrum (SOS)
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan wêreldklas-skoliere met gesonde etiek en waardes lewer en daar word in die lig van die verval van openbare onderwys beoog om deur die Wolkskool ook gevorderde tegnologie te gebruik as bekostigbare private oplossing om gehalte-onderrig te kan bied.
Solidariteit Jeug
Solidariteit Jeug is ʼn tuiskomplek vir jongmense. Hier kan jongmense tuis wees, deelneem, leer, groei en foute maak. Solidariteit Jeug bied egter meer as net dit. Solidariteit Jeug is ʼn sterk jeuginstelling wat jongmense help met beroepskeuses, beroepsvoorbereiding en algemene jeugbelange. Solidariteit Jeug soek internskappe en bemark dit sodat intekenaars werklike ervaring in die werkplek op hul CV’s het as dit kom by aansoeke om werk. So gepraat van CV’s: Deur middel van Solidariteit Jeug se CV-bouer kan intekenaars hul eie CV’s bou – gratis en verniet! Solidariteit Jeug berei voornemende werknemers selfs voor vir daardie eerste werksonderhoud.
Helpende Hans Studietrust (HHST)
Solidariteit glo dat elke jongmens wat wil studeer dit moet kan doen en dat kwessies soos finansies nie in die pad van hulle drome moet staan nie. Die Helpende Hand Studietrust (HHST) bied rentevrye studielenings aan behoeftige Afrikaanse studente. Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 11 000 toekennings aan 4 750 behoeftige studente gemaak met ʼn totaal van meer as R270 miljoen.
Akademia en Sol-Tech
Solidariteit het reeds jare gelede vir die toekoms beplan en het die nood aan kennisfabrieke raakgesien. Vir die rede is Akademia gestig. Dit is ʼn privaat tersiêre opleidingsinstelling wat kwalifikasies in verskeie beroepsrigtings aanbied via ʼn voltydse en ook deeltydse onderrigmodel. Akademia is ʼn voorloper op die gebied van moderne onderrig en beplan om binne die volgende paar jaar selfs ʼn nog groter kampus aan die ooste van Pretoria op te rig. Nog ʼn baanbreker as kennisfabriek is Sol-Tech. Sol-Tech lei studente in verskeie ambagte op. Die instelling is geregistreer as ʼn instelling vir verdere onderwys en opleiding en is by die tersaaklike Setas geregistreer. Sol-Tech fokus daarop om studente in skaars en kritieke vaardighede op te lei.
Kanton
Die beleggingsmaatskappy, Kanton, is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging, onder andere Akademia en Sol-Tech, dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word. Kanton dien as ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om teen ʼn goeie opbrengs volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.
WerkNet
Dit blyk al hoe moeiliker vir beide jonk en oud om goeie werke los te slaan. Solidariteit het daarom ʼn gratis aanlyn werksoekportaal waar werknemers en werkgewers mekaar in Afrikaans kan ontmoet gestig. WerkNet is ʼn Afrikaanse platform waar die publiek hul CV’s op ʼn vooraf opgestelde templaat laai en ook waar werkgewers poste op ʼn vooraf opgestelde templaat kan adverteer. WerkNet bied ook geleenthede vir werkgewers en kandidate aan om klerkskappe, internskappe, vakansiewerk en gemeenskapswerk op WerkNet aan te bied of te bekom.
Solidariteit Jongwerkendes
Om jou eerste werk en eerste deel van jou loopbaan na die afloop van jou studies aan te pak, is met rede iets om ernstig op te neem terwyl jy terselfdertyd genot daaruit put. Hoewel ʼn mens in die praktyk baie oor die werkplek kan leer, is daar baie dinge waarby jou loopbaan reeds op ʼn jong ouderdom kan baat. Solidariteit verstaan egter dat nie elke jongmens wat die werkplek betree noodwendig toegang het tot iemand met antwoorde tot algemene vrae en antwoorde tot probleme wat dikwels tydens mens se eerste werk opduik nie. Solidariteit het hiervoor Jongwerkendes op die been gebring om die oorgang van universiteit of skool na jou eerste werk so maklik as moontlik te maak. Hier word die onsekerhede saam met jongmense aangepak en word jy bemagtig om die regte loopbaankeuses te maak.
Solidariteit Beroepsnetwerke – Jou beroepsgemeenskap
ʼn Solidariteit Beroepsnetwerk is ʼn gemeenskap wat jou nie net sterk maak in jou beroep nie, maar dit is ook ʼn gemeenskap wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm, loopbaangeleenthede vir jongmense te skep, as waghond toesig te hou oor die beroep, en met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom. Die beroepsnetwerke bied ook kundiges in hul beroep om as mentors op te tree waardeur lede die geleentheid kry om hul kennis en vaardighede aan jongmense in dieselfde beroep oor te dra. Solidariteit het reeds talle beroepsnetwerke gestig en beoog om gedurig nuwe beroepsnetwerke tot die groeiende lys van netwerke te voeg sodat elke persoon wat in enige beroep werksaam is saam met mense van dieselfde beroep kan netwerk en in hul beroep terugploeg.
Solidariteit Werkbeskerming
Hoewel dit Solidariteit se hooffunksie is om sy lede in die werkplek te beskerm, gaan Solidariteit-lidmaatskap egter lankal nie meer net oor werkbeskerming nie. Om ʼn lid van Solidariteit te wees, beteken om deel te wees van ʼn netwerk van werk wat saam bou aan die Afrikaanse gemeenskap se toekoms. Solidariteit staan lede by om hul droom te verwesenlik om ʼn goeie werk te hê. ʼn Goeie werk is die voorwaarde vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.
Solidariteit is Suid-Afrika se grootste en oudste onafhanklike vakbond; met ʼn ledetal van byna 200 000 is Solidariteit in die meeste van Suid-Afrika se groot bedrywe georganiseer en is ook die enigste vakbond wat ʼn spesiale afdeling vir individue het.
Leer verder met Solidariteit Leer
In die wêreld van werk vandag, waar inligting vinniger vermeerder, word dit uiters belangrik om voortdurend nuwe vaardighede aan te leer. Die dae is lankal verby waar jy slegs met jou universiteitskwalifikasie ʼn pad vir jou loopbaan kan uitkerf. Lewenslange leer het noodsaaklike geword vir mense om aanhoudend hul loopbaanpad te bevorder.
Solidariteit Leer is ʼn opleidingsinstelling wat professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied en as primêre diensverskaffer vir die Solidariteit Beroepsnetwerk dien.
Leer fokus egter nie net op voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) nie, maar ook op persoonlike en loopbaanontwikkeling deur seminare, kort kursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waartydens relevante temas bespreek en aangebied word.
Solidariteit se strategie is om ʼn netwerk te skep wat aan jou opleidingsgeleenthede bied en jou help om werk te kry. Hierdie strategie is om die doelwitte en strategieë van al die Solidariteit Beweging se instellings tot ʼn eenheid te verweef. Solidariteit Leer is deel van opleiding en gaan die werkersmag wat deur Akademia en Sol-Tech opgelei is verder ondersteun.
Solidariteit Finansiële Dienste – Medies en Pensioen
Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) sal lede help met produkte soos medies en pensioen.
Die Solidariteit Netwerk gaan dus saam met die lid op sy of haar totale loopbaanpad stap.
Om ʼn Solidariteit-lid te wees beteken dat jy deel is van ʼn groter plan. Hierdie plan, wat selfdoen-aksies verg, is gerat en gereed om die wêreld soos jy dit ken te verander. Word vandag deel van ʼn selfhelp-organisasie wat jou wil bemagtig om vry, veilig en voorspoedig te kan leef en werk. Die toekoms behoort aan diegene wat vandag bearbei vir die dag van môre!
Sluit vandag by Solidariteit aan – jou bydrae maak ʼn verskil!
Besoek die skakel vir meer inligting: SLUIT AAN