
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit eis onmiddellike afdanking van weermaghoof ná besoek aan Iran
Solidariteit doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, om die weermaghoof, generaal Rudzani Maphwanya, af te dank en ʼn ondersoek te loods ná uitsprake oor Suid-Afrika se politieke en militêre belyning met Iran wat hy tydens ʼn amptelike besoek aan Iran gemaak het.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, plaas hierdie besoek aan Iran nie net Suid-Afrika se verhouding met die VSA in ernstige gevaar nie, maar bedreig dit ook die land se breër internasionale geloofwaardigheid en handelsbelange.
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika, terwyl ons ekonomie broodnodige toegang tot internasionale markte benodig, kies om bande met lande soos Iran – wat internasionaal geïsoleer is weens hul beleid en optrede – te versterk,” sê Kleynhans.
Kleynhans waarsku dat die uitsprake wat deur die weermaghoof tydens sy besoek aan Iran gemaak is, die potensiaal inhou om die finale spyker in die kis van ʼn reeds wankelende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA te wees. Hy wys daarop dat die Trump-administrasie die afgelope maande reeds openlik kritiek uitgespreek het oor Suid-Afrika se buitelandse beleid, en dat daar ook groeiende kommer by Europese lande, én lande soos Japan, Suid-Korea en Australië bestaan oor Suid-Afrika se toenemende belyning met anti-Westerse state soos Iran, Kuba en Venezuela.
Dié besoek aan Iran sal Suid-Afrika se verhouding met nóg meer lande negatief beïnvloed. “Ons het nie die luuksheid om ekonomiese selfdood te pleeg deur verkeerde vriende te kies nie. Die VSA is een van ons grootste handelsvennote, en om dié verhouding te versuur deur onverskillige diplomatieke skuiwe is roekeloos,” voeg Kleynhans by.
Solidariteit doen ʼn ernstige beroep op president Ramaphosa en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) om onmiddellik ʼn duidelike standpunt in te neem en die land openlik te distansieer van Iran se beleid en optrede. Solidariteit vra ook dat die regering Suid-Afrika se status as ʼn onverbonde land moet bevestig en sy posisie van internasionale neutraliteit moet handhaaf.
Solidariteit sal binne die volgende paar weke ʼn afvaardiging na die VSA stuur om met sleutelrolspelers en beleidsmakers te vergader. Dié afvaardiging gaan die Amerikaanse regering inlig oor hierdie onaanvaarbare optrede, maar ook daarop aandring dat enige Amerikaanse teenmaatreëls gefokus en geteiken moet wees, sodat gewone Suid-Afrikaners nie gestraf word vir die dwase optrede van sommige politieke en militêre leiers nie.
Hierdie verwikkeling kom op die slegste moontlike tyd vir Suid-Afrika, waarsku Kleynhans. Slegs drie maande voor die G20-beraad bevind die land se internasionale geloofwaardigheid hom reeds op ʼn nuwe laagtepunt in die oë van demokratiese lande in die G7 en ander Westerse-georiënteerde state.
“Ons ekonomie het nóú, meer as ooit, bondgenote nodig en nie nog vyande nie,” sluit Kleynhans af.
Klik hier vir ‘n Afrikaanse en ‘n Engelse klankgreep.