loading
Mediaverklarings
18 uur gelede
regering-sit-pot-heeltemal-mis-oor-seb-en-transformasie-solidariteit

Foto Krediet: Solidariteit

Regering sit pot heeltemal mis oor SEB en transformasie – Solidariteit

Solidariteit glo adjunkpresident, Paul Mashatile, se jongste verdediging van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is weereens totaal verwyder van die werklikheid oor wat SEB is en doen. Sy stellings oor SEB behoort deur partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) verwerp te word.

Mashatile het in antwoord op ʼn parlementêre vraag oor SEB ontken dat dit hoegenaamd enigsins diskriminerende wetgewing is en glo ook nie dit is nodig om daarvan af te sien nie, selfs al stel die Amerikaanse regering wegdoening daarvan as voorwaarde vir ʼn beter handelsooreenkoms.

Pres. Cyril Ramaphosa is juis in ʼn besoek aan die Withuis in Mei vanjaar deur pres. Donald Trump oor rasseverhoudinge in die land geroskam en Suid-Afrika se lang lys rassewette is tans ook onder skoot vanuit die VSA.

Navorsingdeur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het reeds getoon dat SEB jaarliks ekonomiese groei met omtrent 3% knou.

“Deur elke jaar 3% ekonomiese groei prys te gee het Suid-Afrika veral oor die laaste 15 jaar sodanig verarm dat ons vinnig besig is om agter die wêreld te raak in terme van ontwikkeling,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die SNI.

’n Verslag wat in Mei vanjaar deur die SNI en die Vryemarkstigting bekendgestel is, dui daarop dat SEB-beleide tot die verlies van meer as 3,8 miljoen werksgeleenthede tans gelei het, waarvan sowat 3,2 miljoen deur swart Suid-Afrikaners gevul sou gewees het.

Volgens Mashatile is hierdie soort wetgewing nodig en moet Suid-Afrika selfs meer pogings aanwend om die verlede se gebeure te verbeter deur kwansuise transformasieplanne in die land te verskerp.

Du Buisson sê Mashatile is oneerlik oor die werklike oogmerke met transformasiewetgewing.

“Die adjunkpresident sê dit gaan ook daaroor om diskriminerende wette van voor 1994, wat glo nou nog in gebruik is, te verander. Maar hoe het ons dan vandag meer diskriminerende rassewette as in die tagtigerjare?

“Die ANC se weergawe van transformasie gaan net daaroor om wit mense van hulle ekonomiese belange te stroop om ANC kaders daardeur te verryk,” sê Du Buisson

Volgens Du Buisson is dit tyd dat die ANC, na meer as drie dekades van demokrasie, van sy obsessie met transformasie afsien en eerder daarop fokus om die mislukte ekonomie in ʼn werkbare een te omskep.

“Suid-Afrika beskik reeds oor die finansiële en fisiese infrastruktuur sodat mense hulself kan bemagtig. Ongelukkig maak die huidige ekonomiese klimaat wat die ANC geskep het dit amper onmoontlik vir enigiemand om hulself te bemagtig,” sê Du Buisson

Die ANC se SEB-beleide belemmer groei dan nog verder wat bemagtiging al hoe moeiliker maak.

Du Buisson sê die ANC is verantwoordelik vir die verval wat die Suid-Afrikaanse bevolking verarm en deur SEB-beleide vererger hulle dit.

“Toe die ANC oorgeneem het was Suid-Afrika verreweg die rykste land in Afrika. Dit is nie meer die geval nie. Die regering moet besef dat jy nie ʼn ekonomie groter kan verdeel nie. Slegs die privaat sektor kan die ekonomie laat groei en hulle kan dit slegs doen as onnodige regulasies, veral SEB en die nuwe sektorale teikens, nie hul taak bemoeilik nie.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel