loading
Artikels
1 maand gelede
enig-in-sy-soort-afrikaanse-tuiste-vir-studente-word-bekendgestel

Foto Krediet: Akademia

Enig in sy soort – Afrikaanse tuiste vir studente word bekendgestel

Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat deel is van die Solidariteit Beweging, het pas sy nuwe kampusontwikkeling vir Akademia in Pretoria aangekondig.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het by die bekendstellingsfunksie genoem dat die projek die grootste in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap is.

“‘n Gemeenskap wat ‘n universiteit bou is ‘n gemeenskap wat sê hulle bly. Dit is opnuut ʼn bewys dat Afrikaanssprekendes wel ʼn tuiste, sowel as ʼn toekoms in Suid-Afrika het. Dit is ook net weer ʼn bewys dat ek en jy hier hoort,” sê hy.

Die nuwe kampus sal in Pretoria geleë wees, agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria. Die kampus bied aan Akademia die geleentheid om ʼn volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite heen beskikbaar te stel wat in die omvattende vraag van voornemende studente sal voorsien.

Dié kampus sal voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 000 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves. Die koste van fase een van die projek sal nagenoeg R1,8 miljard beloop en dit sal in 2028 voltooi wees, terwyl die totale ontwikkelingskoste meer as R3,1 miljard sal beloop. Die tweede fase behels die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise, waarna die sportgeriewe, kapel en ouditorium sal volg.

Die kampus sal kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ʼn ouditorium, doelgerigte navorsingslokale, ʼn kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ʼn studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelverblyf én wêreldklas sportfasiliteite vir rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en binnenshuise sportsoorte insluit. ʼn Proefplaas vir die Natuurwetenskappe- en Landboufakulteite word ook beplan.

Kanton tree op as voertuig vir die finansiering van die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus. Kanton het ontstaan uit ʼn innoverende nuwe benadering vir die ondersteuning van Afrikaanse kulturele instellings. Die sakemodel is gebaseer op ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat die doelstellings van gemeenskapsinstellings bevorder deur toegang tot die nodige leefruimtes te skep, maar wat dan ook as ʼn volwaardige eiendomsbeleggingsmaatskappy beide ʼn finansiële en ʼn kulturele opbrengs aan sy beleggers bied.

Die feit dat die Sol-Tech-kampus, wat betyds en binne begroting afgelewer is, dien as bewys van Kanton se sukses. Deur projekte soos ’n koshuis vir Sol-Tech en nou ʼn kampus vir Akademia te ontwikkel, bewys Kanton sy vermoë om portefeuljes winsgewend te laat groei en dit te bestuur, terwyl eksterne beleggers ook die geleentheid gaan kry om deel te wees van hierdie unieke geleentheid.

Om te verseker dat die struktuur en beleggingsplatform die doelwitte van Kanton ondersteun, is die beplanning en strukturering van die maatskappy gedoen in samewerking met Pallidus. Pallidus spesialiseer in die lewering van onafhanklike korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur en sal die groei en uitbouing van Kanton in die verskillende fases moontlik maak. Die befondsingsmodel beskik oor dieselfde eienskappe van normale eiendoms- en infrastruktuurmodelle en word gebruik om beleggingsgeleenthede te bied.

Kanton gaan aanvanklik instellings en welvarende individue nader om deur beleggings betrokke te raak. Nadat die deurslaggewende bedrag fondse gewerf is sodat die projek kan voortgaan, sal daar geleentheid wees vir die gemeenskap om ook deur beleggings by die betrokke te raak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel