loading
Artikels
6 maande gelede
erkenning-en-motivering-hoe-verpleegkundiges-se-werk-geeer-kan-word

Foto Krediet: Verskaf

Erkenning en motivering: Hoe verpleegkundiges se werk geëer kan word

Deur Reon Janse van Rensburg

Verpleegkundiges is die stille helde van die gesondheidsorgsektor. Hulle werk dikwels lang ure, hanteer komplekse pasiëntesorgsituasies, en bied ondersteuning aan gesinne in tye van nood. Ondanks hierdie groot verantwoordelikheid ontvang hulle dikwels nie die erkenning en waardering wat hulle verdien nie.

Volgens Life Healthcare het Suid-Afrika net een verpleegkundige per 213 mense. Hiervan is minder as ʼn derde onder die ouderdom van 40, en binne 15 jaar sal 47% van alle verpleegkundiges afgetree het. Die huidige tekort aan verpleegkundiges word op meer as 26 000 professionele persone geraam, maar hierdie getal sal na verwagting teen 2030 meer as 100 000 bereik.

Dit is dus noodsaaklik dat ons erken hoe belangrik hul werk is en dat ons beter maniere vind om hulle te motiveer, sodat hulle met trots en energie voortgaan om hul pasiënte te versorg. Nie net is dit belangrik om die huidige verpleegkundiges in die beroep te behou nie, maar dit is net so belangrik om die volgende generasie verpleegkundiges reeds vandag op te lei en maniere te vind wat sal sien dat diegene wat die beroep betree nie redes vind om die beroep in die toekoms te verlaat nie.

Die belang van erkenning

Erkenning in die werkplek speel ʼn sleutelrol in enige beroep, maar vir verpleegkundiges, wat daagliks intense druk en emosionele uitdagings ervaar, is dit veral belangrik. Wanneer verpleegkundiges erken word vir hul harde werk en toewyding, voel hulle gewaardeer, wat direk bydra tot hul moraal en welstand. Daarenteen kan ʼn gebrek aan erkenning lei tot gevoelens van ontevredenheid, uitbranding en selfs die wens om die beroep te verlaat.

Verpleegkundiges word dikwels blootgestel aan stresvolle en traumatiese situasies, soos om met sterwende pasiënte te werk of moeilike gesondheidsbesluite te neem. In sulke tye is ʼn eenvoudige erkenning van hul bydrae, soos ʼn dankie sê van bestuur of kollegas, dikwels al wat nodig is om hul geestelike welstand ʼn hupstoot te gee.

Die rol van motivering

Motivering gaan hand aan hand met erkenning. Wanneer verpleegkundiges voel dat hul werk waardeer word, is hulle meer geneig om gemotiveerd te bly en beter werk te lewer. ʼn Gemotiveerde verpleegkundige is nie net meer produktief nie, maar ook meer betrokke by hul pasiënte, wat die gehalte van sorg verbeter. Dit is veral belangrik in die gesondheidsorgsektor, waar hoë standaarde van sorg en empatie van kardinale belang is.

Maniere om erkenning en motivering te bevorder

Daar is verskeie maniere waarop gesondheidsorginstellings kan verseker dat hul verpleegpersoneel erken en gemotiveer voel. Eerstens, kan gereelde terugvoer van bestuur en pasiënte ʼn groot verskil maak. Verpleegkundiges wil weet dat hul werk raakgesien en waardeer word, en ʼn kort kompliment of dankie sê kan ʼn groot impak maak.

Verpleegkundiges word gemotiveer deur ʼn kombinasie van intrinsieke en ekstrinsieke faktore. Intrinsieke motivering kom van ʼn passie om ander te help en persoonlike groei te ervaar, terwyl ekstrinsieke motivering uit erkenning, belonings en aansporings spruit. Spanwerk en ʼn ondersteunende omgewing dra ook by tot groter motivering, terwyl professionele ontwikkeling en balans tussen werk en lewe verpleegkundiges help om gemotiveerd en betrokke te bly. Erkenning en waardering van hul harde werk speel ʼn belangrike rol om hulle te inspireer om voort te gaan met hul kritieke rol in gesondheidsorg.

Die impak van erkenning en motivering op welstand

Deur verpleegkundiges gereeld te erken en te motiveer, verbeter nie net hul werkprestasie nie, maar ook hulle algehele welstand. Wanneer verpleegkundiges voel dat hul harde werk gesien en waardeer word, is hulle minder geneig om uitbranding te ervaar. Dit lei tot beter geestesgesondheid, laer stresvlakke en ʼn hoër vlak van werktevredenheid.

Die gesondheidsorgstelsel is afhanklik van verpleegkundiges. Om hulle rol ten volle te erken en te waardeer moet ons ʼn kultuur van erkenning en motivering in hul werkplek bevorder. Hierdie eenvoudige stappe kan ʼn groot verskil maak in die lewens van verpleegkundiges, en help om ʼn omgewing te skep waar hulle floreer en na pasiënte kan omsien met die beste sorg.

Die Solidariteit Verpleegnetwerk ondersteun jou in elke fase van jou loopbaan, of jy nou studeer, praktiseer of vir aftrede voorberei. Dit bied ʼn gemeenskapsplatform waar mense in dieselfde beroep saamkom om uitdagings en suksesse te deel en sterk netwerke te bou. Hierdie netwerk help om jou beroep te bevorder, skep loopbaangeleenthede, hanteer politiek in die werkplek, en bied praktiese oplossings vir uitdagings.

As verpleegkundige verdien jy nie net ons respek nie – jy verdien om gesien, erken en gereeld gemotiveer te word vir die onskatbare rol wat jy in die gesondheidsorgsektor speel. Sluit vandag nog aan en ons kan saam veg en bou vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms. Klik hier vir meer inligting.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel