
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Ernstige gevolge vir gewone Suid-Afrikaners as VSA sy ambassade afskaal en konsulate sluit
Die afskaling van die VSA se diplomatieke missie in Suid-Afrika kan ernstige ekonomiese en diplomatieke gevolge vir gewone Suid-Afrikaners hê. Solidariteit waarsku dat die regering se ideologiese stryd met die VSA Suid-Afrikaners blootstel aan verdere ekonomiese agteruitgang en internasionale isolasie. Lees die mediaverklaring hier.
Nóg uitgebreide ekonomiese en diplomatieke skade, verdere werksverliese, ʼn uittog van beleggers én hindernisse met die uitreik van noodsaaklike handelspermitte en reisigersvisums.
Solidariteit glo dit alles tel onder die moontlike gevolge wat die afskaling van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook die moontlike sluiting van die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg, vir Suid-Afrikaners kan inhou.
Hierdie werklikhede dreig as gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se verbrokkelende verhouding met die Verenigde State van Amerika. Dié diplomatieke krisis kan veroorsaak dat die omvang van die Amerikaanse diplomatieke missie in Suid-Afrika dramaties verklein word.
ʼn Geskil oor Suid-Afrika se amptelike beleidsposisies het ʼn diplomatieke krisis tussen die lande ontketen, en dit word tans vererger deur pogings van die Johannesburgse metroraad om die straat waarin die VSA konsulaat in Sandton geleë is na ʼn Palestynse vryheidsvegter te vernoem.
Die risiko bestaan dat die VSA sy Johannesburgse konsulaat sal wil sluit, terwyl die oorblywende konsulate in Kaapstad en Durban ook in die gedrang kan kom.
Solidariteit glo ʼn verdere diplomatieke misrekening, soos die geval sal wees met die straatnaamverandering wat tans deur die metroraad oorweeg word, sal ʼn reeds brose verhouding met die VSA verder skaad.
Volgens die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) sal selfs net die sluiting van die Johannesburgse konsulaat ʼn gevoelige slag wees, aangesien Johannesburg die ekonomiese hoofstad van Suid-Afrika, en ook die tuiste van etlike Amerikaanse en multinasionale maatskappye in die land is.
Die SNI glo die sluiting sal onder meer:
• die proses vir Suid-Afrikaanse reisigers wat visums wil bekom, bemoeilik;
• die proses wat Suid-Afrikaanse sakelui moet volg wat visums wil bekom en ondernemings wat noodsaaklike handelspermitte en -dokumentasie wil bekom, belemmer;
• beleggersvertroue skaad aangesien die sluiting op ʼn verdere verbrokkeling van die diplomatieke verhouding dui;
• werksverliese vir Suid-Afrikaners meebring aangesien groot Amerikaanse maatskappye hul teenwoordigheid in Suid-Afrika kan beëindig of heroorweeg;
• meebring dat hotelle, restaurante en diensverskaffers wat afhanklik is van konsulêre besoekers, inkomste sal verloor, wat tot verdere werksverliese kan lei; en
• Amerikaanse bydraes inperk wat die konsulaat tot waardevolle intelligensie oor transnasionale misdaad, geldwassery en terrorisme lewer, en Suid-Afrika se weerstand teen georganiseerde misdaad verminder.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, kan veel ernstiger gevolge as die sluiting van ʼn konsulaat volg indien radikale regeringsamptenare met ʼn ideologiese stryd teen die VSA volhard.
“Dit is in geen Suid-Afrikaner se belang om ter wille van ANC-beleid en -agendas aan die risiko van verdere ekonomiese agteruitgang en internasionale isolasie blootgestel te word nie.
“Dit is wat die afskaal van die Amerikaanse missie en die sluiting van ʼn konsulaat sal teweegbring.
“Hou ook in gedagte dat Amerikaanse maatskappye, waarvan talle se kantore in Johannesburg geleë is, sommiges digby die konsulaat in Sandton, duisende Suid-Afrikaners in diens neem. Hulle dra boonop miljarde rand in belasting tot die tesourie by.
“Ongelukkig lyk dit of ons regering met sy anti-Westerse narratief gaan volhard en dus gemaklik is as gewone Suid-Afrikaners vir regeringsondes gestraf word,” waarsku Kleynhans.
Suid-Afrika se verhouding met die regering van president Donald Trump beleef tans ʼn ongekende laagtepunt.
Die verhouding het die afgelope paar weke verdere terugslae beleef weens kwetsende uitlatings teenoor die VSA deur die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, en beledigings deur die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
Die VSA het ook kennis geneem van die Ramaphosa-regering se stilswye oor die EFF-party se sing van die “Kill the Boer”-strugglelied op Menseregtedag.