
Gekopieër
Solidariteit tree in Washington DC in vir Afrikaners, SA
Deur Jaco Kleynhans
Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Beweging het aan die einde van Februarie die Verenigde State van Amerika besoek om dringende gesprekke met senior regeringslui in Washington DC te voer oor die diplomatieke krisis tussen die VSA en Suid-Afrika. Dit volg nadat president Donald Trump kort ná sy inhuldiging stappe begin doen het om die Suid-Afrikaanse regering op terme te plaas oor Suid-Afrika se buitelandse beleid, maar ook oor heelwat binnelandse beleid wat die Amerikaners as onaanvaarbaar beskou.
Die geskil tussen Suid-Afrika en die VSA strek egter heelwat verder terug as die huidige Trump-administrasie. Oor die afgelope paar jaar het verskeie lede van die Amerikaanse Kongres hulle kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se noue bande met China, Rusland, Iran, Venezuela en Kuba, en tot watter mate dit teen Amerika se belange en spesifiek Amerikaanse nasionale veiligheid indruis. Wetgewing wat ’n totale hersiening van die verhouding tussen dié twee lande vereis, is reeds verlede jaar deur Republikeine en Demokrate in die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur.
President Trump se hertoetrede tot die Withuis het egter hierdie hersieningsproses versnel, veral nadat verskeie persone in die Withuis en by die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake aangestel is wat oor die jare heen baie deeglik bewus gemaak is van Suid-Afrika se optrede.
Sedert die laat 1990’s geniet Suid-Afrika ’n spesiale status by die VSA wat tot ongekende toegang vir Suid-Afrikaanse uitvoerders tot die Amerikaanse mark gelei het. Dit het ook tot reusebeleggings deur Amerikaanse maatskappye en uitgebreide humanitêre hulp aan organisasies in Suid-Afrika deur die Amerikaanse federale regering tot gevolg gehad.
Baie Amerikaanse politici voel egter dat Suid-Afrika een ding belowe en ’n ander doen. Terwyl Suid-Afrika beweer dat hy ’n onverbonde land is en graag die voordele van sy verhouding met die VSA geniet, het die ANC toenemend anti-Amerikaans begin optree en selfs Amerikaanse belange begin bedreig.
Solidariteit doen reeds 21 jaar lank skakelwerk in die VSA en het ’n uitgebreide netwerk van kontakte in Washington DC, maar ook regoor Amerika, opgebou. Dit was daarom moontlik om kort nadat president Trump ’n uitvoerende bevel oor Suid-Afrika onderteken het, na Washington DC te reis. Die afvaardiging het bestaan uit myself as hoof van internasionale skakeling, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Kallie Kriel, bestuurshoof van AfriForum.
Die besoek het begin met ’n afspraak by die Withuis waar ons die Washington-verklaring aan ’n senior span van drie buitelandse raadgewers oorhandig het. Die pad vorentoe en wat ons dink president Trump moet doen, is ook bespreek. Solidariteit se boodskap was duidelik: Die Amerikaners het rede om vir Suid-Afrika kwaad te wees. Hou aan druk plaas. Straf die ANC en veral korrupte politici. Moenie gewone Suid-Afrikaners straf nie. Versterk ons en ander burgerlike organisasies sodat Suid-Afrika reggeruk kan word.
Die afvaardiging het ook met die hoofraadgewer van die minister van buitelandse sake gesels. In die VSA is dit ’n topposisie, en hierdie persoon dien ook as adjunkminister en het reuse-invloed op Amerikaanse buitelandse beleid. Daar was ook goeie ontmoetings in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers en die Senaat.
Ons het ook met invloedryke persone by die Heritage Foundation, Hudson Instituut en Cato Instituut ontmoet. Hierdie persone is direk betrokke by die ontwikkeling van uitvoerende bevele, beleidsdokumente en wette vir die Kongres en die Withuis. Daar was ook ontmoetings met potensiële kandidate vir die posisie van Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika.
Sedert die besoek het Solidariteit voortgegaan om met die Trump-administrasie te skakel en ons kon verskeie voorstelle maak. Tot dusver het dit bygedra om te verhoed dat invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte ingestel word.
Solidariteit se jarelange skakelwerk in die VSA gee tans vir ons uitstekende toegang tot die Trump-administrasie. Dit word net moontlik gemaak deur ons lede en almal wat tot ons projekte bydra. Daarvoor is ons baie dankbaar. Ons sal oor die volgende maande voortgaan om met die Trump-regering te skakel om maniere te vind om sinvolle oplossings vir die diplomatieke krisis te vind.