loading
Artikels
1 dag gelede
wat-het-die-vsa-toer-vir-suid-afrika-beteken

Foto Krediet: Solidariteit

Wat het die VSA-toer vir Suid-Afrika beteken?

Amerikaanse buitelandse beleid het oor die afgelope twee eeue dramaties ontwikkel, en die impak daarvan is vandag steeds sigbaar in globale politieke en ekonomiese verhoudings. Wat oorspronklik as ’n beleid van onafhanklikheid en selfbeskikking ontstaan het, het geleidelik verander in ’n komplekse netwerk van imperiale betrokkenheid en globale beheer. Dié beleide en gebeure is belangrik om die konteks van die VSA-toer te verstaan.

Onafhanklikheid en neutraliteit: Die beginjare

Die wortels van die Amerikaanse buitelandse beleid kan teruggevoer word na die presidentskap van John Quincy Adams, die sesde president van die Verenigde State. In ’n toespraak op 4 Julie 1821 het hy gesê:

“America… goes not abroad, in search of monsters to destroy. She is the well-wisher to the freedom and independence of all. She is the champion and vindicator only of her own… America’s glory is not dominion, but liberty. Her march is the march of the mind. She has a spear and a shield: but the motto upon her shield is, Freedom, Independence, Peace.”

Hierdie stelling het die Amerikaanse ideaal van onafhanklikheid verwoord: ’n beleid wat fokus op selfbeskikking en vrede sonder buitelandse inmenging. Vir meer as 150 jaar het dié beleid bekend gestaan as Amerika se buitelandse beleid – ’n beleid van nie-inmenging en neutraliteit, waar Amerika meestal buite wêreldkonflikte gebly het.

Die wêreldoorloë: ’n Draaipunt in beleidsrigting

Ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die Verenigde State teruggekeer na sy oorspronklike buitelandse beleidsbeginsels, maar ná die Tweede Wêreldoorlog het alles verander. Die VSA het as ’n imperialistiese mag tot die wêreldtoneel toegetree – dit wil sê, ’n land wat sy invloed en mag oor ander streke uitbrei – met die oortuiging dat chaos en konflik wêreldwyd sou toeneem as hulle nie ’n leidende rol speel nie. Amerika het die selfaangestelde “wêreldpolisieman” geword – ’n rol wat hulle sedertdien nog nie afgeskud het nie.

Koue Oorlog en neo-imperialisme

Met die aanbreek van die Koue Oorlog het die Amerikaanse buitelandse beleid ʼn duidelike verandering na neo-imperialisme ondergaan. Neo-imperialisme verwys na die moderne vorm van imperialisme waar ryk en magtige lande hul invloed en beheer oor ander lande uitoefen, nie deur direkte militêre besetting soos in die verlede nie, maar deur ekonomiese, politieke en kulturele oorheersing. Dit gebeur dikwels deur middel van internasionale handel, beleggings, maatskappye, of selfs deur globale instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank (WB). Dit het nie net beheer oor politieke invloedsfere ingesluit nie, maar ook militêre betrokkenheid in oorloë soos dié in Viëtnam en Korea. Vir amper 80 jaar het hierdie buitelandse beleid Amerika se strategiese en ekonomiese belange wêreldwyd verseker, maar dikwels ten koste van die nasionale soewereiniteit van ander lande.

Die moderne era: ’n Nuwe globale realiteit

Die wêreld is tans in ’n tydperk van geopolitieke verandering. Donald Trump se presidentskap het hierdie proses versnel deur ’n benadering te begin volg waar die VSA eerder op sy eie belange fokus as om aktief by internasionale sake betrokke te wees. Die wêreld beweeg weg van ’n bipolêre struktuur – waar twee groot moondhede oorheers – na ’n multipolêre struktuur met verskeie magsentra wat hul invloed laat geld.

Hoewel Amerika na verwagting nog vir die volgende twee dekades die wêreld se supermoondheid sal bly, sal daar toenemend besin word oor of die VSA steeds as die “beskermer” van Europa en die res van die wêreld moet optree.

Impak op Suid-Afrika en die breër Afrika-konteks

Vir Suid-Afrika is die situasie van kritieke belang. Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (“African Growth and Opportunity Act” – Agoa) het groot ekonomiese voordele vir die land gebied, maar die huidige beleid van die ANC-regering dreig om daardie verhouding te ondermyn. Die VSA het dit duidelik gemaak dat hulle nie meer bereid is om ekonomiese voordele te bied aan lande wat toenemend hul bande met opponerende magte soos Rusland en Iran versterk nie.

Sedert die goedkeuring van Agoa het Suid-Afrika aansienlike baat daarby gevind, maar die ANC-regering verkies dikwels om ekonomiese en politieke bande met Brics-lande te prioritiseer. Dit plaas Suid-Afrika in ’n kwesbare posisie aangesien die VSA tans sy beleid teenoor Afrika hersien. Ander lande soos Botswana, Kenia en Zambië soek aktief bilaterale ooreenkomste met die VSA om ekonomiese toegang tot die Amerikaanse mark te verseker. Suid-Afrika kan nie bekostig om geïsoleer te word nie.

Wat lê voor vir Suid-Afrika?

Dit is onvermydelik dat die einde van humanitêre hulp en Agoa naderkom. Dit beteken nie dat handel met die VSA heeltemal sal verdwyn nie, maar die voorwaardes sal aansienlik aangepas word. Suid-Afrika moet dringend herbesin oor sy buitelandse beleid en die impak daarvan op ekonomiese stabiliteit en internasionale verhoudings.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Die Solidariteit Beweging moet nou meer as ooit tevore ’n proaktiewe rol speel om die ANC se mislukkende buitelandse beleid te takel ten einde die volgende te bereik:

  1. 1. Kritiese bewustheid moet op nasionale en internasionale vlak geskep word. Die publiek moet ingelig word oor die gevolge van die ANC se huidige buitelandse beleid en die risiko’s wat dit inhou. Die VSA-toer het dit reeds begin doen. Die wêreld kyk na Suid-Afrika en raak nou bewus van die ANC se vernietigende beleide.
  2. 2. Samewerking met die privaat sektor en ander burgerlike organisasies is van kardinale belang om ʼn alternatiewe buitelandse beleidsvoorstel te ontwikkel sodat sterk vennootskappe gesmeë kan word.
  3. 3. Suid-Afrika se rol in die globale orde moet aktief bevorder word deur internasionale platforms en direkte betrokkenheid. Die Solidariteit Beweging sal ook voortgaan om internasionale bewusmaking, soortgelyk aan die VSA-toer, in Europa te verseker.

Die VSA-toer was van kardinale belang vir Suid-Afrika, nie net om diplomatieke bande te versterk nie, maar ook om strategiese verhoudings met die wêreld se grootste supermoondheid te vestig. Terwyl die wêreld vinnig na ’n multipolêre geopolitieke struktuur beweeg, is dit noodsaaklik dat Suid-Afrika sy plek in hierdie nuwe globale orde bepaal. Hierdie toer het duidelikheid gebring oor die VSA se huidige buitelandse beleid en die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar.

In die lig van die dreigende hersiening van Agoa en die VSA se toenemende klem op strategiese bilaterale verhoudings, moet Suid-Afrika vinnig aanpas en strategieë herbesin om sy ekonomiese en diplomatieke belange te beskerm. Hierdie toer het die werklikheid van die VSA se hernude buitelandse beleidsbenadering blootgelê en gepoog om die ANC-regering te dwing om dringend oor sy posisie en die gevolge van sy huidige buitelandse beleidsrigting te besin.


Deur Charné Mostert

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel